Cuvée stel die maatstaf vir ‘n uitsonderlike eetervaring

Cuvee laat jou tuis voel met sy warm, verwelkomende en stylvolle dekor.

Na my beskeie mening is daar eintlik net drie soorte kos – slegte kos, lekker kos en haute cuisine. Slegte kos is selfverduidelikend. Lekker kos kort so ‘n effense verduideliking. Dis kos soos jou ma en ouma Sondae maak vir middagete, kos waarna jy die hele week lank uitsien. Heerlik, smaaklik, die soort kos waarvan jy te veel eet wetende van die ongemak daarna, maar jy kan jouself net nie keer nie. Haute cuisine is daaiselle lekker kos, maar voorberei deur ‘n kunstenaar. Dis kos wat “lekker” na nuwe hoogtes vat. Dis kos wat ewe lekker smaak as lyk. Dis ‘n sensoriese sensasie!

‘n Eetervaring gaan egter nie net oor kos nie. Dit gaan ook oor atmosfeer, aanbieding, diens en veel meer. Wanneer ek en vroulief uiteet, beoordeel ons agterna dus die hele ervaring.

Vroeër vanjaar het ons die voorreg gehad om by die fynproewerrestaurant Cuvée op die wynlandgoed Simonsig buite Stellenbosch aan tafel te gaan sit. Dit was ‘n Saterdagaand in die hartjie van die somer. Ons het geweet ‘n besonderse ervaring wag op ons toe ons soos koninklikes ontvang en na ons tafel begelei is. Albei se stoele is vir ons uitgetrek deur die baie gawe kelner en ons is onmiddellik van Simonsig se bekende en gewilde Kaapse Vonkel aangebied. Vroulief drink niks met alkohol nie (in teenstelling met my!), maar sy sê nooit nee vir ‘n eg Suid-Afrikaanse MCC nie. Seker maar die vroeë skooljare in Frankryk.

Die baie professionele kelner het toe aan ons verduidelik hoe dinge in die restaurant werk, kos- en drankgewys. Groot of kleiner porsies, en by elkeen word ‘n spesifieke wyn aanbeveel. ‘n Spyskaart, in perfekte Afrikaans nogal!, is voor elkeen van ons neergesit en terwyl ons die lys geregte met kwylende monde deurgelees het, is vars broodjies en sagte botter (let wel, sagte botter) bedien. Vroulief het ook sommer haar gunsteling-koeldrank bestel en gevra vir water vir jors troelie. Dis glo om my lewer ‘n kans te gee! En dit werk, ‘n glas water vir elke glas wyn!

Links: Kos en wyn wat jou sintuie op 'n gastronomiese reis neem!

Ek het besluit om die kleiner porsies van ‘n paar geregte te probeer met die wyne wat daarby aanbeveel word. Ek’s ‘n groot aanhanger van tapas-styl etes! Lekker laaaaaaank kuier!

Terloops, Cuvée bied ‘n eklektiese mengsel van Kaapse Hollandse sjarme en kontemporêre ontwerpelemente vir ‘n warm en verwelkomende atmosfeer, maar steeds baie elegant en stylvol. Die dekor spreek van tydlose elegansie omvat in ‘n collage van antieke meubels en dramatiese kleure en teksture. Aanvullend tot sy kleurvolle atmosfeer, word die restaurant se mure verfraai met kunswerke van uitgesoekte, plaaslike kunstenaars wat gereeld verander, terwyl die musiek spesiaal saamgestel is om daardie regte oggend-, middag- of aandluim te verseker.

Die tafels is stylvol gedek met net die beste eetware en Franse linne-servette (wat altyd groot indruk maak op ons twee), terwyl verskillende rangskikkings van fraai, onopgesmukte veldblomme die warm, verwelkomende atmosfeer van die restaurant beklemtoon. Die slim gebruik van spieëls en glas nooi die natuurprag van buite na binne met ‘n natuurlike kleurkwas van die naggrys van die Simonsberg, die delft-blou van die lug en die herfskleure van die wingerd wat in dier dekor na vore kom.

Regs: Shanel Gildenhuys, die kunstenaar in Cuvee se kombuis!

Die restaurant se spyskaart kombineer smaakvolle, tradisionele Kaapse disse, geïnspireer deur die seisoene, met bypassende rooi-, wit- of vonkelwyne uit die Simonsig-kelder.

Vroulief het afgeskop met ‘n klein porsie gerookte ham wat met roketblare, spanspek, repies seldery en gorgonzola bedien is. Dit kos R50 en word met Chardonnay aanbeveel. Ek het besluit op die gebraaide Mosambiekse garnale bedien met tuinertjies, sprietertjies en tamaryn- en karamelroom, bedien met ‘n glas Chenin Avec Chêne teen R75 vir die kleiner porsie. Terloops, hierdie is ‘n uitsonderlike chenin blanc!

Cuvée se jong sjef, Shanel Gildenhuys, is beslis ‘n kunstenaar in die kombuis en sy slaag daarin om elke bestanddeel se geure te laat deurskemer in haar disse . Dis soos goeie wyn: jou oë, neus en tong word betower. Die sensorie sensasie het begin!

Hierna het ek besluit op die koljandergebraaide lamsvleis in ‘n skilferkors bedien met Kaapse groenvyekonfyt en ‘n amandelglaseersel. Die kleiner porsie kos R65 en is bedien met een van my gunsteling-rooiwyne, die Frans Malan.

Ons twee het die hoofmaal afgesluit met kleiner porsies van die vlamgebraaide beesfilet en stadig gebraaide stingeltamaties met cafe de paris-botter. Dit is met nog ‘n gunsteling van my, Simonsig se Merindol Syrah, bedien en kos R80 per porsie.

Links: Dis mos hoe kos moet lyk, ruik en smaak. En saam met puik wyn is dit 'n eetervaring soos min.

Teen hierdie tyd was ons goed versadig, maar die nagereg het heeltemal te lekker gelyk om te ignoreer, en as die voorgeregte en hoofgeregte enige aanduiding was, moes ons net eenvoudig plek maak vir ietsie soets. Vroulief het op haar gunsteling, ‘n klassieke crème brûlée, besluit. Dit is bedien met vanielje en ‘n amandelkoekie, kos R50 en Cuvée stel voor mens geniet dit met Simonsig se Vin de Liza. Ek het besluit op ‘n sjokolade-fondant met wit sjokolade en ‘n neutlekkerroomys. Die eintlike rede daarvoor was die Redhill Pinotage wat daarmee bedien word. Nog een van my gunsteling-rooies! Dit kos R55.

Die hele ete het R455 gekos. Dit sluit nie die fooitjie van 10% in nie, en glo my, vir hierdie soort diens is 10% byna te min! Ons het al by ander plekke ge-eet waar dit ons meer gekos het, maar wat nie naastenby kon kers vashou by Cuvée nie. Hoewel nie goedkoop nie, bied Cuvée puik waarde vir geld en sal ons mense aanbeveel om van tyd tot tyd ‘n gastronomiese reis op Simonsig te gaan onderneem.

Raait, toe moet daar besluit word op die puntetoekenning. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 12:

0 - 2 : “skokkend swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “baie swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s nog hoop”

7 – 8: “goed, maar daar’s ruimte vir verbetering”

9 – 10: “baie goed, sal beslis terug gaan en aanbeveel”

11 – 12: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het vroulief vir Cuvée ‘n 12 gegee en ek ‘n 10. Vir diens het ons albei op ‘n 12 besluit. Die aanbieding van die kos het ook by ons albei volpunte gekry. Wat die kos self betref, het vroulief sonder om te skroom op 12 besluit. Ek het dit 11 punte gegee hoewel die versoeking baie groot was om ook volpunte toe te ken. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 12 werd, maar ek was bietjie meer beskeie met ‘n 11. Of miskien wou ek maar net bietjie meer krities wees!

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-888-4932 of stuur ‘n epos aan cuvee@simonsig.co.za.

Einde