In die Banghoekvallei wag die paradys reg langs die hel!

Dis mos soos die paradys moet lyk, en reg voor is Alluvia, heel gepas!

Vat die Helshoogtepad uit Stellenbosch uit, stop dan reg bo-op die kruin en kyk in die Banhoekvallei (ook bekend as Banghoek) af. As daai prentjiemooi toneel jou nie aan die paradys of ten minste ‘n poskaart laat dink nie, wel ...

Reg voor jou, daar waar die vallei hom teen Helshoogte vasloop, lê Alluvia, ‘n boetiekwynmakery wat nie net wyn maak wat jou smaakkliere laat rieldans nie, maar ook verblyf bied wat jou laat verstaan hoekom hul brosjure praat van “a match made in heaven”! Dis nou tussen natuurskoon, wyn en verblyf.

Links: Drie geslagte van die Brugmans bymekaar op Alluvia!

Delarey en Sandie Brugman het beslis hier ietsie geskep wat spesiaal is, en ‘n wonderlike nalatenskap vir hul drie pragtige dogters kan word. En dat sy gesin vir hom belangrik is, is nie altemit nie, soveel so dat die wyne wat vir Alluvia gemaak word, die name van die pragtige meisies in sy lewe dra. Dit het begin met ‘n wyn genaamd ilka Cabernet Sauvignon, vernoem na die gesin se twee dogters Ilse en Karla. Toe volg die lisa Cabernet Franc, vernoem na die jongste spruit, wat reeds deur die tydskrif WINE aangewys is as die beste cabernet franc in die land! Die pragtige Sandie kon uiteraard nie agterweë bly nie, nie as Delarey weet wat goed is vir hom nie!!! En so het ‘n wonderlike soetwyn, gemaak van viognier-druiwe en genaamd sandie, die lig gesien.

Maar ek wil hier fokus op die akkommodasie op Alluvia. En as iemand wat die natuur en buitelewe geniet, op daardie aktiwiteite op en rondom Alluvia wat ‘n bykomende dimensie aan gaste se besoek sal gee.

Ek en vroulief het die voorreg gehad om een aand in een van hul vyf weelderige suites, Hutton, oor te bly. Daar is vyf weelderige suites en twee selfsorgeenhede met gratis internet-toegang, almal vernoem na grondsoorte, vir die kieskeurige gas wat die beter dinge in die lewe geniet en waardeer. Die fisiese kleure van die grondtipes op die plaas is gebruik in die dekor van die verblyf en dra by tot die warm, verwelkomende en byna huislike atmosfeer.

Hutton bied ‘n koningsgrootte bed, wat voel of jy op ‘n wolk slaap, in ‘n ruim vertrek wat ‘n sitkamergedeelte met televisie en kaggel insluit (bo). Daar is ook ‘n en-suite-badkamer (links) en ‘n privaatstoep wat op wingerde en ‘n dam kyk. Komplimentêre sjerrie en happies is die kersie op die koek na ‘n baie vriendelike ontvangs wat jou sommer onmiddellik laat tuis voel.

Benewens lekker wyn en heerlike akkommodasie, bied Alluvia sy gaste ook ‘n afslaanbof (dis nou vir die gholf-entoesiaste), spa-behandeling, gholftoere, kunsvlieghengel, persoonlike wynproeë, staproetes, bergfietsroetes, piekniek en selfs vlugte om die Kaap uit ‘n totaal ander hoek te beskou. O ja, die ou, kronkelende Helshoogtepas behoort ook ideaal vir fikser stappers, drawwers en fietsryers te wees.

Toerisme gaan egter nie net oor fasiliteite en aktiwiteite nie. Dit gaan ook oor diens ... vriendelike, hartlike diens, en hier skuur Alluvia skouer met die beste. Van die oomblik wat ons aangemeld het, het Hendré de Villers, die gastehuisbestuurder, ons soos deel van die familie laat voel. Selfs die Brugmans se hond het ons verwelkom met die soort grenslose blydskap waartoe net ‘n vierpoot in staat is!

Regs: En moenie van Alluvia se wyne vergeet nie. Net so mooi die Brugman-meisies is, net so lekker smaak die wyn!

Alluvia se tariewe wissel van R650 per persoon vir die weelderige eenhede buite seisoen tot R1 350 per persoon binne seisoen, en vir die selfsorgverblyf van R2 100 vir vier mense buite seisoen tot R3 100 vir ses mense binne seisoen.

Volgens Delarey is wyn nie ‘n geheim wat opgelos moet word nie, maar eerder ‘n verbond tussen die natuur en die mens waaruit ons groot plesier moet put. Dit geld duidelik ook vir die ander geriewe wat Alluvia aanbied.

Vir meer inligting of enige navrae, skakel 021-885-1661 of stuur ‘n epos aan info@alluvia.co.za, of besoek www.alluvia.co.za.

Einde