Knorhoek se gastehuis bied ‘n heerlike wynlandtoevlug

Knorhoek bied rus en vrede in 'n idilliese wynlandomgewing.

Daar’s ‘n rympie wat ek uit my laerskooldae onthou wat min of meer so gaan: “As die lewe te veel word in die stad, pak jou goedjies en vat die pad ...” Waarheen? Wel, wat van die gastehuis op die wynlandgoed Knorhoek daar teen die laer hange van die Simonsberg buite Stellenbosch. Hier ontvlug jy nie net die rotresies nie, maar jy kan sowel vlees as gees ‘n welverdiende blaaskans gee te midde van die mooiste en rustigste natuurskoon.

Geleë tussen reuse-eikebome en omring deur lowergroen grasperke, met wingerde ‘n klipgooi ver, bied die gastehuis agt kamers, insluitende ‘n familie- en wittebrood-suite, wat eens op ‘n tyd die oorspronklike stalle, ystersmidkamer en waenhuis op die plaas was. Elke en-suite-kamer is smaakvol uitgerus met wit linne, koper kroonkandelare en gepoetsde teëls wat uitloop op sy eie privaat stoepie of balkon. Twee selfhelpkothuise beskik oor hul eie braaigeriewe.

Die gastehuis se ouwêreldse sjarme en huislike atmosfeer, asook die vriendelike diens, maak dit ‘n ideale wegbreek vir stadsjapies en besoekers uit die res van die land, veral as die pragtige wynland-natuurskoon bygereken word.

Met ons besoek was die lekker plaasontbyt elke oggend ‘n goeie verskoning om vroeg uit die vere te wees, terwyl aandete op die stoep en te midde van al daai natuurskoon, en natuurlik vergesel van een van Knorhoek se lekker wyne, ‘n ideale manier was om die dag af te sluit. Die gastehuis se kok, Liesel Prins, wat op die plaas gebore is, verdien ‘n pluimpie. Die kersie op die koek was natuurlik die afskeidsete die Sondagmiddag by die Towerbosch-aardskombuis skaars 50 meter van die gastehuis af. Maar dis weer ‘n ander storie!

Of jy net wil ontspan of darem nou en dan van oortollige energie ontslae wil raak, Knorhoek bied jou ietsie van alles. ‘n Informele wynproe onder die bome by die proekamer reg langs die gastehuis of ‘n keldertoer is maar net twee van die aktiwiteite. Verder kan jy deur die wingerde gaan stap of selfs die teerpad tot by die R44 vat. En as jy van bergfietsry hou, die Dirtopia-bergfietssentrum is slegs ‘n paar kilometer van Knorhoek af en hier wag twee lekker roetes op die tweewielbrigade. Vir diegene met geduld is daar ook vlieghengel.

Links: Smaakvolle dekor dra by tot die genot van die verblyf op Knorhoek, en die klem is duidelik op die besoeker se gerief!

Of hoe klink ‘n glasie koue witwyn in die een hand terwyl jy soos wafferse ryke in die swembad ontspan? Of daaiselle glasie wittes met ‘n boek onder die bome en langs die kabbelende stroompie reg langs Towerbosch? Of wat van een van Knorhoek se lekker rooiwyne by die kaggel terwyl die winter buite woed? Ai, hoe kwyl ek nou binnensmonds!

“Alles wat jy in die gastehuis sien, is al van toeka se dae hier, hetsy dit nou my ma se trougeskenk was of ouma se katel. Ons gastehuis is ‘n ‘tuiste weg van die huis’ en bied ‘n rustige ontvlugting van die daaglikse gejaag,” verduidelik Carol van Niekerk, James, die mede-eienaar van die plaas, se vrou wat graag staaltjies uit Knorhoek se ryke geskiedenis met gaste deel.

Van die os op die jas, Knorhoek se naam dateer uit die 1700s toe na hierdie paradys verwys is as “de plaas waar die leeuwen knorren”. Die plaas het destyds aan Martin Melck, ‘n Hollander, behoort. Hy het dit later aan sy dogter as trougeskenk gegee enj sedertdien is dit in die hande van die Van Niekerk-familie. James en sy broer, Hansie, bedryf dit vandag.

Die tariewe wissel vanaf R420 per persoon per nag vir ‘n kamer tot R2 000 vir vier mense per nag in een van die kothuise en sluit ontbyt in.

Vir enige navrae of om te bespreek, skakel die gastehuis op 021-865-2114/5, stuur ‘n epos aan guesthouse@knorhoek.co.za of besoek www.knorhoek.co.za.

Net ‘n klein bietjie raad: as jy soos ek en vroulief is en na rus en vrede soek, maak seker dat jy ‘n kamer met dik mure kry of dat jou kamer so ver moontlik is van gesinne met “lewendige” kleingoed of lawaaierige jongmense. Dit geld vir alle verblyf!

Einde