Middelvlei se boerebraai bied ‘n regte, egte SA ervaring

Geniet braaivleis in 'n ontspanne wynplaasomgewing en sonder die sweet!

Om vandag lekker wyn te maak, is skynbaar nie meer goed genoeg nie. Wynboere moet glo waarde toevoeg tot hul wynaanbiedings. Maar dis makliker gesê as gedoen. Olywe en olyfprodukte is ‘n opsie, maar wat gemaak as jy nie olywe het nie? ‘n Eetplek? Oukei, maar dit kos baie geld en daar’s reeds so baie eetplekke op wynplase en by wynkelders dat net nóg ‘n eetplek iets baie uitsonderliks sal moet wees om uit te staan bo die res. En sukses is nie gewaarborg nie.

Kortom, net so kwaai soos die mededinging op die gebied van lekker wyn is, net so kwaai is die mededinging op die gebied van lekker kos op wynplase.

Die Mombergs van Middelvlei net buite Stellenbosch het besluit om “anders” te wees. Pleks van ‘n restaurant op hierdie bekende wynplaas te bou, het hulle besluit om die bestaande proekamer, sy lekker stoep en die ruim grasperk in te span en iets aan te bied wat so deel van die Suid-Afrikaanse kultuur is soos rugby en sonskyn.

Jip, wat anders as ‘n regte, egte vleisbraai. Die Middelvlei-boerebraai! En as jy daai tjops, wors en braaibroodjie met ‘n heerlike vryloop- Pinotage of Middelvlei se vlagskip, die Momberg, afsluk, dan besef jy jy sal ver moet gaan soek vir ‘n lekkerder samesyn en eetervaring. Gooi hierby tradisionele items soos pampoenkoekies, roosterkoek, pap en sous, melktert, koeksusters en malvapoeding en jy kan jou gereed maak vir ‘n kuier duisend. En jy hoef nie ‘n vinger te verroer nie!

Jy kan natuurlik ook jou eie vleis braai as jy reken jy kan beter doen as Middelvlei se eie braaiers, maar jy gaan jou sleg misgis. En dit sal wragtag ook net ‘n masochis wees wat homself sal afsloof voor ‘n warm vuur  terwyl hy eerder lekker saam met familie en/of vriende kan ontspan met een van Middelvlei se heerlike wyne!

Die boerebraai word Saterdag- en Sondagmiddae aangebied, maar daar’s ook ‘n ander Suid-Afrikaanse gunsteling op Middelvlei se spyskaart, potjiekos!

En terwyl pa, ma, oom, tannie, oupa en ouma rustig ontspan met ‘n glasie van die Kaap se beste, kan die kleingoed lekker op die grasperk baljaar of selfs die diere op die plaas voer. Of wat van ‘n rit op ‘n donkiekar om die kindergoed besig te hou? Of miskien kan hulle selfs vroeg begin om kos te maak deur hul eie stokbrode te braai. Hoe dit ook al sy, daar’s meer wat wag op Middelvlei as net lekker braaivleis en goeie wyn.

Byskrif: Verbeel jou hierdie liplekker-braaivleis saam met Middelvlei se ewe heerlike voggies van die wingerdstok!

Die tradisionele vleisbraaispyskaart kos R115 per persoon en sluit in roosterkoek en patee om mee af te skop, gevolg deur boerewors, lamstjops, heuning- en mostert-hoendersosaties, braaibroodjies, soetpapats, konsertina-aartappels en groenslaai. Die soet gedeelte van die ete bestaan uit malvapoeding en tuisgemaakte vla. Jy kan bykomende items kies teen ‘n bybetaling.

Vir die kinders is daar stokbrood of roosterkoek, boerewors, goue stroop, tjips, soetgoed en sap teen R40 elk.

Ek en vroulief het reeds ‘n hele paar keer op Middelvlei gaan eet en elke keer gaste saam genooi wat na die tyd vol lof vir die hele konsep was. Dit was meestal op Sondagmiddae, maar ons het ook een Vrydagaand daar ‘n verjaarsdag gevier, en dit was ook ‘n fees!

Planeet Wyn se gewone puntetoekennings gaan moontlik nie so goed werk op Middelvlei nie aangesien dit nie ‘n formele restaurant is nie, maar ons het tog probeer. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 12:

0 - 2 : “skokkend swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “baie swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s nog hoop”

7 – 8: “goed, maar daar’s ruimte vir verbetering”

9 – 10: “baie goed, sal beslis terug gaan en aanbeveel”

11 – 12: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het sowel ek as vroulief besluit Middelvlei verdien 10 punte. Daar was by twee geleenthede te min kelners gewees en daarom het ons besluit op 9 punte wat diens betref, maar ons het dit onder die Mombergs se aandag gebring en glo hulle sal iets daaraan doen. Die aanbieding van die kos het by ons 10 punte gekry, asook die kos self. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 10 werd, maar ek was bietjie meer vrygewig met ‘n 11. Miskien is dit die lekker Middelvlei-wyne wat my meer vrygewig gemaak het!

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-883-2565 of stuur ‘n epos aan info@middelvlei.co.za.

Einde