Towerbosch betower die siel met hartlike kos

Towerbosch-aardskombuis waar jy tot oorlopens verkwik word.

Versadig en verkwik, magie vol en pensie dik! Towerbosch op die Knorhoek-wynlandgoed teen die hange van die Simonsberg buite Stellenbosch laat my elke keer aan daai ou gesegdetjie van my ouma dink.

As daar nie so baie eetplekke in die Kaap en sy wynlande was nie, sou ek en vroulief beslis meer gereeld by die Towerbosch-aardskombuis gaan eet het. Dis soos om Sondae ma of ouma se hartlike en heerlike kos te gaan verslind. Dis kos sonder grense!

Die Towerbosch-aardskombuis is ‘n afgematte grasdak-lapa wat in ‘n kosparadys omskep is ... in ‘n natuurlike paradys in ‘n hoekie van die Simonsberg.  Die dekor is ‘n towerspel van herbenutting en bestaan uit rou materiaal van die plaas wat herwin en ontgin en met liefde omgeskep en gebruik is in die bouwerk en versiering van hierdie gewilde eetplek.

Links: 'n Warm, huislike atmosfeer sal jou laat ontspan totdat jy nie weer wil padgee nie!

Die gebruik van unieke stoele en tafels van verskillende style en groottes verleen aan Towerbosch ‘n eklektiese voorkoms, terwyl die groot kaggel en snoesige biblioteekhoekie met sy ou leesstof en oorgroot leerbanke bydra tot die warm, gesellige, byna huislike atmosfeer.

Buite aan tafel onder die bome en langs ‘n klein, kabbelende stroompie nooi die rustige plaasatmosfeer jou om jou skoene uit te skop en net te ontspan, terwyl die groot, lowergroen grasperk jou aan gesinsdae vol pret en plesier rondom piekniekmandjies herrinner. Dis hier waar warmer somers-, herfs-, winters- of lentedae met net soveel oorgawe geniet kan word as binne. En terwyl die grootmense ontspan met ‘n glasie van Knorhoek se bekroonde wyne, kan die kleingoed hulleself vermaak in die rotsagtige swembad.

Maar Towerbosch se grootste trekpleister is sy hart-en-siel-kos. Westley Müller en Carmen van der Merwe, sjefs en lewensmaats, sorg dat gaste nooit wegry met leë mae nie. Ook nie sonder ‘n groot glimlag van genoegdoening nie. In hulle kombuis bestaan daar nie iets soos die aanjaag van ‘n Karoo-lamsboud nie. Ook nie die gebruik van swaar en oordadige souse nie. Elke dis word tydsaam voorberei met groentes en ander bykosse wat net soveel aandag geniet soos hul gewilde vleis-hoofgeregte.

Hier sal jy ook geen vreemde Franse terme of fynproewersnobisme vind nie, slegs eerlike en opregte tuisgemaakte kos gemaak van die beste bestanddele.

Dink aan tradisionele Kaapse smoorsnoek met ingelegde kerrie-uitjies, stadig geroosterde tamatiesop met varsgebakte plaasbrood en tuisgemaakte konfyt, gerookte lendestuk-slaai met knoffel-mayonnaise of ‘n liplekker-springbokpastei bedien met ingelegde kwepers. Nagereg sluit in ingelegde koejawels en tuisgemaakte vla , ‘n tradisionele Jan Ellis-poeding en ‘n watertand-tipsietert.

Regs: Voeg net 'n bottel of twee van Knorhoek se bekoorlike wyne by en jy't 'n feesmaal soos min.

 

Sondae steek Towerbosch die vure aan vir hul gewilde Asado-middagete, soortgelyk aan ‘n tipiese Argentynse vleisbraai, wat veral onder gesinne met kinders van alle ouderdomme gewild is. Ons twee was reeds ‘n hele paar keer daar en het al vriende en familie soontoe gevat, wat op hul beurt weer vriende en familie gevat het! En ons sien uit na ons volgende besoek.

Hierdie weeklikse vleisfees in die restaurant, onder die bome of langs die swembad skop af met ‘n empanada (vleispasteitjie), gevolg deur vars plaasbrood en hemelse vleisgeregte. Bykosse sluit in vetgebakte aartappels, kaneel-soetpampoen, lemoenpatats, slaphakskeentjies en tamatie-en-uieslaai.

‘n Tipiese ete by Towerbosch kos R130 per persoon vir ‘n tweegang- en R160 vir ‘n driegangete en sluit ‘n glas Knorhoek-wyn in. Die Asado-middagete kos R165 per persoon.

Oukei, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 12:

0 - 2 : “skokkend swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “baie swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s nog hoop”

7 – 8: “goed, maar daar’s ruimte vir verbetering”

9 – 10: “baie goed, sal beslis terug gaan en aanbeveel”

11 – 12: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het vroulief vir Towerbosch 12 gegee en ek ‘n 10. Vir diens het ons albei op ‘n 11 besluit. Die aanbieding van die kos het ook by ons 10 punte gekry, asook die kos self. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 10 werd, maar ek was bietjie meer vrygewig met ‘n 11. Ek reken dis daai lekker Knorhoek-wyne wat so heerlik saam met die kos gaan wat my meer vrygewig gemaak het!

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-865-2958 of stuur ‘n epos aan towerbosch@knorhoek.co.za.

Einde