Dieu Donne ‘n lus vir sowel die mond as die oog

Hierdie asemrowende uitsig het die algehele ervaring 'n hewige hupstoot gegee!

Dis nie juis asof Franschhoek enige tekort aan eetplekke het nie! Inteendeel, hierdie Bolandse dorp spog dat hy die gastronomiese hoofstad van Suid-Afrika is … en met reg!

 

Ek en vroulief eet gereeld uit en Franschhoek se restaurante het al redelik goed in ons monde indruk gemaak. Nie almal nie, maar darem genoeg om ons twee gereeld op die dorp te kry. Toe ons dus van die Dieu Donne-restaurant op die wynlandgoed met dieselfde naam hoor, het ons net daar besluit dat ons monde nog plek het vir iets nuuts. En sommer so met die aankomslag een Sondagmiddag het ons besef Franschhoek het nog ‘n eetplek om op trots te wees.

 

Die restaurant lê aan die suidwestelike hange van die Franschhoekberge en bied dus ‘n asemrowende uitsig op die vallei en omliggende berge. Net jammer van al die geboue in die vallei wat die natuurskoon beïnvloed. Probeer hulle maar miskyk.

 

Maar die toets van die tong moet natuurlik eers geslaag word voordat mens liries oor ‘n eetplek kan raak en ons het in groot afwagting by ons tafel teenaan die groot venster gaan stelling inneem. Daai uitsig kan mens amper van kos en wyn laat vergeet. Amper!

 

Ek het, in afwagting op wat ek reeds gekies het, vir my ‘n Dieu Donne Merlot 2008 bestel, terwyl my beter helfte besluit het om by haar vrugtesap te bly. Die rooie is ‘n taamlik volronde wyn met heerlike donkerbessiegeure en redelik sagte tanniene.

 

Vroulief het afgeskop met ‘n nektarienslaai met neute en ‘n vrugtige, kerrie-mayonnaise (R55), terwyl ek ‘n Capresse-slaai met mozzarella en kersietamaties (R55) bestel het. Smaaklik verby … en net mooi tergend genoeg om jou na die hoofgereg te laat uitsien!

 

 

 

 

Links: Die restaurant is teen die suidwestelike hange van die Franschhoek-berge gelee. Voor is die terras.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons albei het beesfillet bestel. Vroulief het gevra vir medium-gaar en ek oudergewoonte vir so rou moontlik. Die fillet word met ‘n roket- en aartappel-dauphine, truffle’d-sampioene en vinaigrette bedien en kos R125. Haar fillet was perfek, volgens haar, maar myne kon bietjie rouer gewees het. Ek hou daarvan om die bees sy finale doodsteek in die bord te gee! Of soos sommige dit stel, ‘n goeie veearts behoort hom nog te kan red!

 

Die hoofmaal was egter baie smaakvol en geurig, nes die voorgereg, en die diens so na aan volpunte werd soos bliksem aan ‘n vloekwoord. Jy weet daar’s ‘n sjef in die kombuis (en nie ‘n Ford nie!) wanneer jy elke bestanddeel kan proe.

 

Aangesien ons versadig was, het ons besluit om nagereg te mis en koffie bestel, vroulief haar kaffeïnvrye brousel en ek natuurlik ‘n lang espresso. En ‘n potketelbrandewyn, wat perfek bedien is, om ‘n gastronomiese fees mee af te sluit.

 

Die nagereg is natuurlik net ‘n verskoning om weer soontoe te gaan! En ons sal beslis want ek wil volgende keer ‘n feesmaal buite op die terras geniet aangesien dit na die perfekte eetplek vir ‘n warmrige somers- of wintersdag lyk.

 

Nou maar goed, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 12:

0 - 2 : “skokkend swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “baie swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s nog hoop”

7 – 8: “goed, maar daar’s ruimte vir verbetering”

9 – 10: “baie goed, sal beslis terug gaan en aanbeveel”

11 – 12: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het vroulief vir Dieu Donne 11 punte gegee, maar ek was effe meer beskeie met ‘n 10. Vir diens het ons albei op ‘n 12 besluit. Die aanbieding van die kos het by ons albei 10 punte gekry, terwyl haar kos 11 punte werd was en myne 10. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 12 werd, maar ek was weer eens bietjie minder vrygewig met ‘n 10. As daar natuurlik punte vir uitsig was, sou Dieu Donne beslis nog ‘n 12 by ons albei gekry het!

 

Vir meer besonderhede of om te bespreek, skakel (021) 876-3384 of stuur ‘n epos aan info@dieudonnerestaurant.co.za.

 

Einde