Bloemendal se buffet laat die mond water, maar die beursie kreun

Asemrowende uitsigte, een op een van die sewe wonders van die nuwe wereld, is een van Bloemendal se vele pluspunte.

Een Sondagoggend net na kerk besluit ek en vroulief om eerder te gaan uiteet as om self kos te maak. Maar waar? Ons hou nogal daarvan om op wynplase te gaan eet. Die hele ervaring is gewoonlik onvergeetlik, en omdat die Durbanville-wynvallei die naaste wynroete aan ons is, besluit ons toe om soontoe te ry.

Hier is ‘n hele paar restaurante, maar die Bloemendal-restaurant (021-975-7575) bo-op die koppie spog al geruime tyd met sy seekos en ons besluit om die bult op te ry soontoe. Die uitsigte van daar bo af is natuurlik asemrowend, en snags baie romanties, of dit nou oor Valsbaai, Tafelberg en Robbeneiland is of na die anderkant oor die noordelike voorstede.

Maar ons was nie daar net vir die uitsigte nie. Ongelukkig vind ons toe dat die seekos nie Sondae aangebied word nie, maar dat daar ‘n heerlike buffet wag ... teen R228.50 per kop vir volwassenes, halfprys vir kinders tussen 6 en 12, en R45 vir kinders onder 6. Aangesien dit nogal duur is, het ons eers so bietjie gehanna-hanna en toe besluit om ‘n kans te vat eerder as om verder te ry en ons miskien vas te loop teen vol restaurante.

‘n Verwelkomingsdrankie het die pyn van die prys effe verlig. Ek het ‘n glas heerlike jerepiko gevat en vroulief lemoensap, en toe het ons ‘n tafel teen die venster aan die Atlantiese Oseaan se kant gekies. Aangesien die kelner effe gedraai het, het ek solank gaan kyk hoe die voorgeregte en die slaaitafel lyk. Varsgebakte brood met tuisgemaakte konfyt en heelvrugtekonfyt, ‘n keuse van patees en sop, en ‘n romerige seekospotjie bedien met rys was die voorgeregte. Een kyk na daai slaaitafel en ek het geweet, hier moet ek my vandag pace!

Toe die kelner uiteindelik opdaag, het ek ‘n bottel De Grendel Rosé bestel. Hoewel dit op die wynlys was, het hulle dit nie in voorraad gehad nie. Nie ‘n goeie begin nie! Ek het toe Diemersdal se Rosé bestel, terwyl vroulief by haar koeldrank gebly het.

Byskrif: 'n Slaaitafel wat enige mond sal laat water!

Terwyl ons die uitsigte bewonder het, het ‘n vent met ‘n kitaar kliphard probeer om ons en die ander tafels se mense te vermaak. Vroulief stem nie saam nie, maar ek reken agtergrondmusiek op ‘n CD sou baie beter gewerk het want wat daai vent met ‘n paar van die 60’s en 70’s se klassieke liedjies gedoen het, sou Elvis Presley, Roy Orbison en ander in hul grafte laat omdraai het!

Toe dit tyd raak om die ete in alle erns af te skop, het ons albei brood met bykosse gaan haal en daarna rys met van daai seekospotjie ingeskep. Laasgenoemde was heerlik, maar reeds effe koud en ek moes jaag om dit in te kry voordat dit heeltemal koud is, nie die manier wat ek van hou om my kos te geniet nie. Nog ‘n kruisie!

Hierna is ons twee na die allemintige slaaitafel met sy groot verskeidenheid – sjef se keuse van die dag, Griekse slaai, tropiese pasta, kerriepasta, wortelslaai, hoenderslaai, beet en aartappelslaai. Terwyl ons mekaar daaraan herrinner het dat daar selfs ‘n groter verskeidenheid hoofgeregte op ons wag, het ons versigtig ingeskep, so ‘n bietjie van byna alles, net om darem die smaakkliere so ‘n bietjie te terg met al die verskillende geure.

En toe is dit tyd vir die hoofgereg. Ondanks die “vermaak” se pogings om die dag vir my te bederf, het ek vir my ‘n bord vol geskep van daardie items wat my die meeste gelok het, in die vae hoop dat ek daarna nog plek sou hê vir ‘n tweede bord met ‘n goeie deursnit van wat oorbly. Ongelukkig was daar toe nie genoeg pens vir ‘n tweede bord kos nie! Maar dit wat maag toe is, was heerlik.

Die warm buffet het uit die volgende bestaan: lam op die spit, tradisionele hoenderpastei, bobotie en rys, Maleise kerrie, lamspotjie, volstruisnek, beesstert, tamatiebredie, tong, varkboud, geroosterde aartappels, kool met kaassous, wortels in ‘n sousie, bruinrys, sampioene, soetpatat en pampoen!

Byskrif: Nie te sleg vir die middel van die dag nie, maar saans is die atmosfeer romanties, veral met die flikkerende liggies van die omliggende voorstede in die verte.

Teen hierdie tyd was ons albei deeglik versadig en verkwik en het ons maar langtand uitgesien na die nagereg wat bestaan het uit Karoopoeding, vla, sjokolade-mousse, appeltert, vrugteslaai, trifle, gebakte sjokoladepoeding, broodpoeding, roomys, koeksisters, kaasbord en natuurlik koffie, tee en rooibostee. Maar ‘n ou soetigheidjie na ete is darem nie te versmaai nie en al moet mens nou jou vuis gebruik, vir ‘n soetigheidjie moet daar plek gemaak word. Ek het koeksisters bestel en vroulief appeltert. Dit is gevolg deur koffie vir ons albei.

Die twee etes, twee koeldranke en een bottel wyn het my ‘n stewige R564.50 uit die sak gejaag, en dit het nie eers ‘n footjie ingesluit nie. Ek reken daarvoor kon ons by ‘n windgat restaurant à la carte geëet het. Ons albei reken die kos was uitstekend, maar dat dit die prys nie werd was nie. Miskien is dit ook die rede hoekom die restaurant maar sowat 40% vol was. Onder R200 per persoon sou, na ons beskeie mening, beter waarde gebied het.

Nou maar goed, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 12:

0 - 2 : “skokkend swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “baie swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s nog hoop”

7 – 8: “goed, maar daar’s ruimte vir verbetering”

9 – 10: “baie goed, sal beslis terug gaan en aanbeveel”

11 – 12: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het ons albei vir Bloemendal 8 punte gegee (hoofsaaklik as gevolg van die pragtige uitsigte). Saans is dit uiteraard ‘n heel ander saak. Vir diens het ons albei op ‘n 8 besluit. Die aanbieding van die kos het by ons albei 10 punte gekry, terwyl die kos self ‘n 11 by albei van ons verdien het. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 9 werd, maar ek was weer eens bietjie minder vrygewig met ‘n 8.

 

Einde