Lemberg bied die ideale plek vir uitspan en ontspan

Uitspan en ontspan in 'n rustige landelike omgewing, dis Lemberg se gerieflike rondawel.

Ek en vroulief het vroeër vanjaar ‘n lelike stel afgetrap met verblyf naby Hermon in die Riebeek-vallei toe ons deur die internet ‘n naweek in ‘n sogenaamde vierstergastehuis op die oewer van die Bergrivier bespreek het. Alles op die gastehuis se webblad het pragtig gelyk en geklink, maar die werklikheid was heeltemal anders.

Sedertdien is ons baie versigting vir mooi beskrywings en foto’s en doen ons eerder navraag by toerismekantore en mense wat die betrokke omgewing en sy verblyf ken.

Dis nou ‘n lang aanloop tot die beskrywing van ‘n heerlike en luilekker naweek wat ons onlangs op die Lemberg-wynlandgoed naby Tulbagh deurgebring het. So ‘n kilometer of so anderkant die Nuwekloofpas, met die asemrowende berge van daai prentjiemooi vallei wat jou verwelkom, lê Lemberg aan die linkerkant. Hier maak David Sadie van die lekkerste wyne wat jy kan aan dink, terwyl Henk de Bruyn (‘n dokter van beroep en eienaar van hierdie boetiekwynplaas) en Suzette Jansen van Rensburg, sy lewensmaat, ‘n ruim rondawel gevat en dit in ‘n heerlike uitspanplek omskep het.

Maar voor ek vergeet, die week waartydens ons Lemberg toe is, het ek die voorreg gehad om agter die stuur van Nissan se uitmuntende Qashqai deur te bring. Dis nou die nuwe een met die groot glasdak. Ek juk al lank om oor die Qashqai te skryf aangesien ek so met myne beïndruk is, maar lees gerus self van hierdie sogenaamde SUV crossover by http://planeetwyn.co.za/node/2974.

Links: Die gerieflike en goed toegeruste sit- en eetkamer, met die klein kombuis in die agtergrond.

Terug na Lemberg. Die rondawel is stapafstand van die kelder, proelokaal en die plaashuis af, maar ‘n welige tuin vol bome, plante en struike skei dit van genoemde geboue en verseker jou privaatheid. Aan die anderkant skei ‘n groot, lowergroen grasperk die rondawel van die plaasdam. Die bome voor die rondawel bied ook skaduryke parkering.

Voor die rondawel staan ‘n tafel met vier stoele, terwyl ‘n bankie en nog ‘n tafel met stoele jou by die twee vuurmaakplekke op die grasperk inwag. Die sit/eetkamer het ook twee enkelbeddens teen die muur wat as sit- of slaapplek kan dien, terwyl die klein kombuis ten volle toegerus is met onder meer ‘n yskas, gasstoof, mikrogolfoond, rooster en ketel. Die ruim slaapkamer bevat ‘n lekker groot en gerieflike bed, ‘n sitbank en stoele, terwyl die badkamer uit ‘n stort, wasbak en toilet bestaan. Alles is baie skoon, netjies en smaaklik – ‘n huis weg van die huis! - en ek reken die verblyf is maklik drie sterre werd. Die koste vir die hele rondawel is tussen R550 en R600 per nag, en dis nogal goeie waarde vir geld.

Regs: Die gerieflike slaapkamer met sy massiewe bed het bygedra tot 'n heerlike nagrus.

O ja, vir diegene wat hulself nie met ‘n leesboek of iets anders kan besig hou nie, daar’s televisie, ‘n DVD-speler en klanktoerusting. Vir die meer avontuurlustiges en natuurliefhebbers, die grondpad wat jou na die plaas vat en ander paaie in die omgewing agter Tulbagh bied heerlike fietsry- en stapgeleenthede. En as jy nie jou eie kano of kajak het nie, daar’s ‘n roeibootjie om op die dam mee rond te vaar. En hier’s glo ook 4x4-roetes vir diegene wat bietjie bos voel!

En moenie verbaas wees as vier vriendelike honde jou verwelkom nie. Die Jack Russell, twee Engelse bulhonde en spekvet Rhodesiese rifrug laat jou onmiddellik tuis voel. Hulle is nooit onder jou voete nie, maar as jy lus voel om die mens se heel beste vriend bietjie liefde en aandag te gee, is hulle net roep weg. Ek reken hulle kry hul gasvryheid van hul eienaars! Henk en Suzette laat jou sommer met die intrapslag welkom en tuis voel, en as David nie daar is om jou van hul lekker wyn te laat proe nie, sal Henk en Suzette jou beslis baie tuis laat voel in hul pragtige en intieme proelokaal.

Maar terug na my en vroulief se naweek op Lemberg. Onder die boom langs die rondawel en met die braaivleisvuurtjie wat heerlik knetter in een van daai twee braaiplekke het ons twee daai Vrydagaand ons naweek afgeskop, ek met ‘n Lemberg Sauvignon Blanc en vroulief met haar geliefde koeldrank. En terwyl die son stadig maar seker oor die majestieuse berge gekruip en die tarentale en ander voëls ons geselskap gehou het, het ons stadig maar seker die stres van die alledaagse lewe verruil vir die rustigheid van die plaaslewe.

Links: Die vleisbraaikole is byna reg, maar 'n spesiale braaibrood en 'n heerlike Lemberg Sauvignon Blanc wag reeds om geniet te word. Ai, hoekom is lekker dan so lekker?

Na ‘n heerlike nagrus het ons die volgende oggend eers vinnig ‘n ligte ontbyt onder die bome op die stoepie voor die voordeur geniet waarna ons na ‘n nabygeleë spa is vir ‘n groot bederf, so ‘n dubbeldoor ene waar ons twee saam gemasseer is! Daarna is ons na ‘n veiling van antieke meubels op ‘n ander wynplaas en toe na die Kersbasaar by die Drostdy. Hierna het ons bietjie in Tulbagh se geskiedkundige Kerkstraat rond geloop, by ‘n eetplekkie koffie gedrink en ‘n soetigheidjie geniet, en by etlike kunsgalerytjies en ander interessante plekke ingeloer.

Wanneer jy in die Tulbagh-omgewing is en jy loer nie ook by ‘n paar ander wynprodusente in nie, dan kan jy niemand blameer as jy onkundig bly oor hierdie natuurskone vallei se groot verskeidenheid lekker wyne nie. Omdat ek etlike maande tevore ‘n artikel oor die Tulbagh-wynvallei gedoen het (sien Planeet Wyn se Wynreis-blad) en vroulief nou nie juis op voornaamterme met Bacchus is nie, het ek my weerhou.

Daai middag het ons bietjie sport op teevee gekyk en toe besluit om een van Tulbagh se restaurante aan te durf vir aandete pleks van potjiekos op die oop vuur in daai reuse amfiteater van die allermooiste berge te maak. Dit was miskien nie die beste besluit nie en ek sal besoekers aanraai om dit eerder ‘n hele naweek van selfsorg te maak. En eintlik het jy niks anders nodig as jy op Lemberg kuier nie.

As een foto 'n duisend woorde werd is, moet hierdie een 'n miljoen werd wees! Dis jou uitsig vir slegs 'n paar honderd rand per dag! Dis mos nou 'n "bargain'!

‘n Welkome reëntjie het ons Sondagoggend begroet. Die hele vallei was in wolke gehul en ‘n ligte, grys gordyn het aanhoudend op die vallei se bodem neer gesif waar die wingerde dit met ope arms verwelkom het. Ons het op die gemaklike rusbank voor die teevee koffie en beskuit geniet en toe langtand begin gereed maak vir die pad terug huistoe. Vroulief wou in elk geval nog vinnig by ‘n paar winkeltjies op Riebeek Kasteel gaan inloer.

Dis tog te jammer dat alle goeie dinge tot ‘n einde moet kom! Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-300-1130 of 082 749 7585, of stuur ‘n faks aan 021-300-1131 of ‘n epos aan suzette@lemberg.co.za.

Einde