Clos Malverne se Nadia Louw Smith laat jou vergeet van dieet!

Hierdie pragtige uitsig laat die kos en wyn sommer lekkerder smaak!

“A fine meal ... is a delight in itself; add a glass of wine ... gleaming red or translucent greenish gold – and delectation will be doubled.” – Alexis Lichine’s New Encyclopedia of Wine and Spirits.

Lekker eet, veral as dit in ‘n restaurant is met ‘n verwelkomende atmosfeer en ‘n sjef wat weet wat om met potte en panne aan te vang, bly maar een van die lewe se vele seëninge. En as jy nog pragtige natuurskoon en goeie diens by die pakket sit, wel, van wanneer af is lekker dan nie meer lekker nie?

Ek praat van die Restaurant @ Clos Malverne daar aan die einde van die Devon-vallei buite Stellenbosch. Clos Malverne het oor die jare heen bekend geword as ‘n boetiek-wynlandgoed wat uitsonderlike rooiwyn maak, maar ek het al ‘n hele paar keer wittes daar geniet wat geen duim vir enige ander hoef terug te staan nie.

Met hul asemrowende uitsigte op die omliggende vallei en sy wingerde was dit seker geen verrassing toe die eienaars, die Pritchards,‘n jaar of wat gelede besluit het om ‘n restaurant te begin nie. En die idee was om ‘n puik restaurant met puik kos, puik wyn en puik diens aan te bied sonder dat gaste liggaamsdele hoef op te offer vir die voorreg om daar te eet. En dit het hulle reg gekry.

Ek en vroulief het verlede jaar besluit om een Sondag ‘n oom en tannie wat baie na aan ons harte lê soontoe te vat vir middagete. Aangesien al die tafels op die stoep reeds bespreek was, het ons besluit om binne te sit.

Ons is baie vriendelik ontvang en na ons tafel geneem. Ons het besluit om hul Food and Wine Pairing Menu teen R168 per persoon te probeer. Die eerste gang het uit drie geregte bestaan en vroulief, tannie Frieda en oom Toekies het op die Harissa Chicken & Bulgur Salad besluit, terwyl ek die Tempura Prawns (regs) bestel het. Albei is met Clos Malverne se Sauvignon Blanc bedien.

Sommer met die heel eerste gang het Nadia Louw Smith ons tonge se aandag ten volle gekry. Nie net was die aanbieding uit die boonste rakke nie (hier maak ek staat op vroulief wat ‘n kenner is), maar elke bestanddeel het vlugvoetig rondom ons smaakkliere gedartel en ons net meer laat uitsien na Nadia se volgende kunswerk.

Vir die tweede gang het die ander drie besluit om weer saam te staan en Slow Roasted Pork bestel, terwyl ek weer stroomop was en Saldanha Bay Mussels gekies het. Clos Malverne se Cabernet Sauvignon/Merlot-versnit is met die vark bedien en ek het ‘n glas van hul Chardonnay ontvang. En weer eens is ons nie teleur gestel nie. Inteendeel!

Vir die derde gang het ons laer getrek en al vier Grilled Fillet Steak (links) bestel. Dis vergesel van Clos Malverne se Auret, toevallig een van my gunsteling- rooi versnitte. Dis dikwels hier waar ‘n sjef gemaak of gebreek word want om elkeen se stuk vleis gaar te maak soos hy dit wil hê en dit tegelyk te bedien, is makliker gesê as gedoen.

Oom Toekies en tannie Frieda wou hul vleis gaar hê, vroulief wou hare halfgaar hê, maar meer gaar as rou, terwyl ek glo ‘n goeie veearts behoort die bees nog te kan red, maar hy moet darem ook nie in sy eie bloed swem nie! Nadia was in die kol!

As ‘n grand finale het hulle drie besluit op Vanilla Pod Crème Caramel, terwyl ek besluit het op Caramel & Mango Fridge Cheese Cake. Pinotage is met albei bedien. Elke maal moet so eindig, dis wragtag al wat ek kan sê!

Maar voor ek vergeet, ons kelner was nie een keer skaam om my glas, op versoek, “op te top” nie, en hoewel die geregte nie groot was nie, was dit meer as voldoende en het ons almal versadig en verkwik van die tafel opgestaan.

Nou maar goed, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 10:

0 - 2 : “baie swak, maak eerder die deure toe”

3 – 4: “swak, maar wonderwerke gebeur nog”

5 – 6: “gemiddeld, daar’s ruimte vir verbetering”

7 – 8: “goed, kan beslis aanbeveel”

9 – 10: “uitstekend, ‘n sonde om dit nie te ervaar nie”

Wat atmosfeer betref, het vroulief vir die Restaurant @ Clos Malverne 8 punte gegee, maar ek was effe meer beskeie met ‘n 7. Ek dink die atmosfeer behoort saans iets besonders te wees. Vir diens het ons albei op ‘n 9 besluit. Die aanbieding van die kos het ook by ons albei 9 punte gekry, en so ook die kos self. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 9 werd, maar ek was weer eens bietjie minder vrygewig met ‘n 8. As daar natuurlik punte vir uitsig was, sou die Restaurant @ Clos Malverne beslis nog ‘n 9 by ons albei gekry het!

As jy nog nie daar was nie, moenie uitstel nie, maar probeer aandete wanneer die atmosfeer meer romanties behoort te wees.

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-865-2022 of stuur ‘n epos aan info@closmalverne.co.za. Die faksnommer is 021-865-2518.

 

Einde