Holden Manz bied nou ook ‘n uitsonderlike kos- en wynervaring

As dit nie jou mond laat water nie, sal niks nie!

Proe die groot verskeidenheid wyne van Holden Manz en ervaar die puik kos- en wynkombinasies by dié manjifieke boetiek-wynlandgoed, geleë tussen twee riviere, met ’n majestieuse uitsig op die Franschhoek-berge.

 

Besoekers aan hierdie kelder wat op soek is na ’n uitsonderlike proe-ervaring kan hulle nou verlustig in ’n uitsonderlike kos- en wynkombinasie van vyf Holden Manz-wyne met ’n verskeidenheid liplekker-happies spesiaal gekies om die subtiele smake van elke wyn na vore te bring.

 

Die geurige en romerige eienskappe van mozzarella en rooi rissie smelt goed saam met die delikate blom- en kersiegeure van die vlesige, dog droë rosé gemaak van 100% cabernet sauvignon in die Franse Anjou-styl. 

 

Die 2010- Holden Manz Merlot word gekombineer met ’n ryk lemoen- en heuning-eend wat ’n luukse kombinasie is met die soet vrugtekarakter van hierdie gladde, sensuele wyn.

 

Beet-risotto en eend-prosciutto is weer die perfekte pasmaats vir die 2008- Holden Manz Shiraz.Die sagte, soet en sout eienskappe ondersteun deur die subtiele soutgehalte van die gekruide eend verrig wondere saam met die volronde Shiraz.

 

Vir Holden Manz se bekroonde vlagskipwyn, die Big G 2009, ‘n goue medaljewenner by die 2011- Decanter World Wine Awards, is die beste lendestuk ’n móét. Saam met croutons en geroosterde tamaties, komplementeer die kombinasie hierdie ryk Bordeaux-styl versnit perfek.

 

Die kos- en wynproe word vervolmaak met die langdgoed se volronde portstylwyn, die 2009- Holden Manz Good Sport Cape Vintage gemaak van shiraz-druiwe. Saam met die sjef, Bjorn Dingemans, se dekadente sjokoladetert bied dit ’n glorieryke einde aan ’n uitsonderlike proe-ervaring.

 

Die kombinasies word ook as ’n vyfgangmaaltyd met volporsiegroottes bedien by Franschhoek Kitchen, geleë bo die kelder, waar Bjorn, wat al saam met van die beste sjefs in Londen gekook het voordat hy hom by Holden Manz aangesluit het, sy kookvernuf ten toon stel.                                                                                                                        

Die kos- en wynproe-ervaring in die proekamer, wat al vyf Holden Manz-wyne insluit, kos R95 per persoon. Besoekers met ’n groter aptyt sal dalk die volle proespyskaart by die restaurant verkies teen R395, wat ’n glas wyn per gang insluit.

 

Holden Manz se proekamer is daagliks van 10h00 tot 17h00 oop. Besprekings word aanbeveel vir die spesiale kos- en wynkombinasies. Skakel 021-876-2729, stuur e-pos na wayne@holdenmanz.com of besoek www.holdenmanz.com.

 

Einde