Hyundai se Elantra 1.8 GLS outomaties ‘n waardige kampioen

Netjiese, fors stilering dra by om hierdie motor 'n ware kampioen te maak!

So dertig jaar gelede was die algemene wysheid dat jy na Duitsland gekyk het as jy van bougehalte by moutirkarre gepraat het. Die Japanners het motors gebou met byna onvernietigbare enjins en ratkaste, maar jy’t snags gelê en luister hoe hul bakwerke geroes het. Wel, tye het verander en vandag kan die Japannese saam gesels met die Duitsers as dit ook by bougehalte kom.

Maar wat van die Koreane? Nie te lank gelede nie was dit hulle wat onder negatiewe persepsies gebuk gegaan het. Dikwels geregverdig. Blikkerig, raserig, nie dieselfde vlak van sofistikasie nie, nie dieselfde gehalte nie, nie die dieselfde vlak van rygerief nie. Dit was ‘n paar van die klagtes wat gereeld geopper is deur motorkenners.

Toe Hyundai se jongste geslag Elantra, die 1.8 GLS outomaties, by my afgelewer is, het ek nie veel verwag nie. Ek is vooraf vertel dat dit ‘n finalis in die SA Motor van die Jaar-kompetisie is en dat ek baie aangenaam verras gaan wees, maar ek het maar langtand aan daai storie gekou. Ek het ‘n jaar tevore ‘n sogenaamde SUV crossover gesoek en alles in my prysklas oorweeg, insluitende Hyundai se ix35, maar vroulief het na die toetsrit dit afgemaak as “blikkerig en raserig”. En ek moes saamstem. Nodeloos om te sê, die ix35 het dit toe nie tot in my garage gemaak nie.

Na ‘n week agter die stuur van die Elantra 1.8 GLS kan ek verstaan hoekom dit sowel Amerika as Suid-Afrika se Motor van die Jaar is.

Links: Smaaklik, stylvol, gerieflik en luuks. Deel van die pakket van die Motor van die Jaar!

Maar die Elantra se storie begin nog voordat jy agter sy stuur inskuif. Sy fors, sportiewe en opvallende stilering met daai lae daklyn tref onmiddellik die oog. En die kajuit spreek van gerief en weelde, terwyl hy sy “Oosterse” afwerking verruil het vir ‘n baie meer gesofistikeerde “Westerse” gewaad. Die lang lys toerusting sluit selfs reënsensors in wat die ruitveërs outomaties aktiveer!

En op die pad is hy net so vol verrassings. ‘n Puik 110 kW @6 500 r/min en 178 N.m @ 4 700 r/min uit die viersilinderenjin van 1 797 cc, wat deur ‘n sesgang- outomatiese ratkas na die voorwiele oorgedra word, sorg vir lekker lewendige werkverrigting, terwyl die vering eweveel vertroue inboesem op die oop pad as op kronkelpaaie, sonder om enigsins rygerief in te boet.

Die Elantra kom met ‘n fabriekswaarborg van 5 jaar of 150 000 km en ‘n diensplan van 5 jaar of 90 000 km, en hy word elke 15 000 km gediens.

Kyk, hy’s nie goedkoop nie, maar vir sowat R235 000 kry jy nogal baie moutirkar, en as jy vandag in daai marksektor na ‘n motor soek en hierdie kalant is nie op jou lysie nie, dan het jy beslis nie jou huiswerk gedoen nie.

In teenstelling met die ix35 (wat ek meer as ‘n jaar gelede getoets het), is die Elantra 1.8 GLS outomaties baie welkom in my garage! En ek’s maar steeds ietwat van ‘n motorsnob.

Einde