Nektar van die gode: Waar kom ons wonderlike sopie vandaan?

Wynvate

Wyn is ‘n alkoholiese drankie wat gemaak word deur druiwe se sap te laat gis. Die natuurlike chemiese balans van druiwe is sodanig dat hulle kan gis sonder die byvoeging van suiker, suur, ensieme of ander voedingstowwe. 

 

Wyn word geproduseer deur geparste druiwe te laat gis met die hulp van verskillende soorte gis wat die suiker in die druiwe in alkohol verander.  Verskillende druifkultivars en gistipes word gebruik afhangende van die soort wyn wat gemaak word.

Die verskillende prosesse wat gevolg word vir die maak van byvoorbeeld witwyn,  rooiwyn, vonkelwyn en brandewyn, asook gefortifiseerde wyn, sal mettertyd verduidelik word.

Eers ietsie vir die intellektueles! Die wingerdstok wat oor die wêreld heen gevind word, is lid van die botaniese familie Vitaceae. Die plantlyn waaruit vandag se kultivars (of variëteite) voortspruit, kom volgens alle aanduidings van die gebiede langs die Swart- en Kaspiese See.

Die wetenskaplike naam is Vitis Vinifera Vinum, van die Latyn “vinum” vir wyn en “ferens” vir draend.

Meer as 2000 kultivars is oor die eeue heen deur wingerdpraktyke voortgebring.

En so gepraat van eeue, die geskiedenis van wyn gaan baie ver terug en is ten nouste verweef met die geskiedenis van die mens. Volgens argeologiese bevindings is wyn reeds 8000 jaar voor Christus se geboorte in Antieke Persië gemaak. Dis daar in die omgewing waar Iran homself vandag bevind, m.a.w. die Midde Ooste.

Die nektar van die gode het glo hiervandaan sy pad suidweswaarts in die rigting van Assirië gevind, suidwaarts na Babilonië en verder na Egipte. Bewyse hiervan kan gesien word in Egiptiese muurskilderye waar wingerdstokke, houtpriële en druiweplukkers uitgebeeld word.

Die Feniciese seevaarders van Tirus in vandag se Lebanon het die wingerdstok glo aan die kusbewoners van die Middellandse See bekend gestel en teen 2000 v.C. het die ou Grieke begin om wyn te maak. Daarna het Kreta gevolg en uiteindelik ook die Romeine, wat op hul beurt die wingerdstok geneem het na waar hulle ook al gebiede gekoloniseer het. Sodoende het die kennis van wyn in Frankryk en Duitsland inslag gevind en verder versprei na Hongarye, Engeland, Spanje en Portugal.

Gedurende die 11de eeu het wynuitvoer ‘n belangrike deel van Europa se ekonomiese bedrywighede geword en in die 16de eeu het die wêreld sy eerste tree gegee in die rigting van ‘n globale dorpie toe ‘n spul avontuurlustige en nuuskierige ontdekkers van Portugal en Spanje seevaarte na die Amerikas en die Ooste onderneem het. Wyn was vir hulle ‘n onontbeerlike deel van hul dieet en daar was dus altyd vate wyn en brandewyn aan boord van die skepe.

In die volgende eeu het die Hollanders wingerd- en wynbou na die Kaap die Goeie Hoop gebring, terwyl die Britte dit in die 18de eeu in Australië en later Nieu-Seeland bekend gestel het.

Ons wonderlike sopie is dus ten nouste verbind met die ontwikkeling van die menslike beskawing. As jy dus nie gereeld ‘n ou glasie skink en in jou keel laat afloop nie (verantwoordelik en met waardering!), is jy onbeskaaf!

Vandag is die nektar van die gode ‘n onontbeerlike simbool in godsdienstige seremonies, as lewensmiddel, as noodsaaklike bestanddeel in die kookkuns, as belangrike handelsartikel en, die heel belangrikste, as ‘n metgesel vir ontspanne sosiale verkeer. Maar verantwoordelikheid en waardering moet altyd die wagwoorde bly wanneer jy en Bacchus arm om die lyf staan.

En soos met bykans alles in die lewe maak kennis ‘n reuse verskil in die waardering van wyn. Al is dit net ‘n bietjie kennis. Gaan klop dus gerus, en GROOT asseblief, by die Kaapse Wynakademie (KWA) aan en doen ten minste hul inleidende wynkursus. Jy sal nooit spyt wees nie.

Die KWA se kontakbesonderhede is (021) 889 8844 of info@cwa.org.za.

 

Hou hierdie ruimte dop vir die verskillende wynmaakprosesse en ander agtergrondinligting.