Harvest at Laborie lewer ‘n oes wat jou sintuie streel

Die groot bome op die ruim stoep lok jou om jou eetervaring daar af te skop.

Die Amerikaanse humoris, James Grover Thurber (1894-1961), het gesê: “Seeing isn’t believing, it’s eating that’s believing.” Wel, as jy nog nie glo nie, sal Harvest at Laborie beslis van jou ‘n gelowige maak!

Maar ‘n eetervaring is baie meer as net die kos en die wyn wat jy geniet. Dis ook die geselskap met wie jy dit deel. Dis die aanbieding van die kos, die atmosfeer van die restaurant, die diens wat jy ontvang. Dis dinge soos tafeldoeke, servette, eetgerei. Ja, dis selfs die agtergrondmusiek. Dit, en meer, vorm jou algehele ervaring.

Ek en vroulief het verlede jaar ‘n naweek van Laborie se smaakvolle en weelderige verblyf gebruik gemaak en toe sommer die Saterdagaand in die “ou” Laborie-restaurant se intieme privaat eetkamer geëet. Dit was ‘n ervaring waaroor ons lank gesels en met vriende en familie gedeel het. Toe ek dus verneem dat die restaurant ‘n opkikkering ondergaan het, nou Harvest at Laborie heet en met ‘n internasionale konsultant-sjef spog, moes ons net weer ‘n slag daar gaan eet!

Maar gun my ‘n oomblik om net eers gou te vertel van die voertuig wat ek daai betrokke week onder hande gehad het. Lexus is ‘n naam wat jy met eetplekke  soos Harvest at Laborie assosieer. Dis Toyota se luuksemotorafdeling en dus motor-elite. Die Lexus CT 200h F-Sport het my eers stupid laat voel, maar namate ek hom gewoond geraak het, het die “onnoselheid” plek gemaak vir verwondering. Lees gerus meer by http://planeetwyn.co.za/node/3433.

Oukei, terug na twee van die lewe se grootste seëninge, puik kos en puik wyn. Harvest, die “nuwe” restaurant op die Laborie-wynlandgoed in die hart van die Paarl, bied ‘n groot verskeidenheid watertandgeregte wat deur die internasionaal erkende konsultant-sjef, Matthew Gordon, geskep is.

Links: Elegant en smaakvol is hoe vroulief die restaurant beskryf.

Matthew fokus op kontemporêre Suid-Afrikaanse kos met die klem op vars produkte uit die Paarl-omgewing. Die klem is ook op vryloop en organies, met Karoo-lamsvleis, beesvleis en vars vis wat so veel moontlik op die spyskaart verskyn. Kruie en groente kom uit die restaurant se eie tuin. Dit alles verseker ‘n gastronomiese ervaring wat die twee komponente verteenwoordig wat Matthew in elke gereg wil hê, naamlik diepte van geur en voortreflike aanbieding.

Hierdie gesinsvriendelike restaurant, wat altesaam 80 gaste binne en nog 100 kan huisves op sy pragtige terras wat oor die plaas se wingerde en die omliggende berge kyk, is ook ideaal vir troues, korporatiewe funksies en spesiale geleenthede. “Gesinsvriendelik” beteken ongelukkig ook dat selfsugtige en onverantwoordelike ouers hul ongedissiplineerde kinders toelaat om ander te verontrief, en hiervoor sal Harvest op hul hoede moet wees en streng optree.

Die privaat eetkamer met sy moderne, kontemporêre dekor is ideaal vir kleiner, meer intieme groepe, terwyl gaste kan ontspan en meng terwyl hulle ‘n glas of twee van Laborie se puik wyne in The Wine Lounge geniet.

Laat een Saterdagmiddag ‘n rukkie gelede het ons daar aangekom, verras met hoeveel mense op die terras die lewe sit en geniet het, en toe self daar gaan sit, elkeen met ‘n glasie van Laborie se eie MCC-vonkelwyn in die hand. Ongelukkig was daar ‘n handvol van genoemde kleingoed (die perfekte argument vir geboortebeheer!) wat duidelik die meeste mense geïrriteer het, insluitende ons twee, terwyl hul selfsugtige ouers hulle aan alles wat vloei vergryp het, en toe het ons maar vroeër as beplan gaan aansit vir aandete. Ongelukkig het ek vergeet van The Wine Lounge anders nie sou ons daar gaan sit en ons vonkelwyn geniet het. Volgende keer!

Regs: Vroulief se voorgereg met die bottel Laborie Sauvignon Blanc 2011 wat ek byna so op my eie opgedrink het.

Vroulief se eerste kommentaar toe ons gaan sit het, was: “Dis nou regtig upmarket”. En sy’t nie net verwys na die smaaklike dekor nie, maar ek weet sy’s ‘n groot voorstander van wit tafeldoeke en servette van lap en eetgerei wat spreek van smaak en gehalte. En dis wat jy by Harvest kry. Ook vyfsterdiens, en dis ook waarna sy verwys het.

Ons het afgeskop met ‘n calamari-, roket en chourico-slaai met ‘n heerlike slaaisous vir haar (R56) en geskroeide, tuisgerookte forel met onder meer vars kruie, tamatie, suurlemoen, olyfolie en forelkaviar vir my (R68). Vroulief het by haar tradisionele koeldrank gebly, terwyl ek Laborie se 2011- Sauvignon Blanc by die glas bestel het. So moet ‘n mens se ete begin, met jou smaakkliere wat geterg word met die belofte van wat nog op hulle wag!

En daai was beslis nie ‘n leë belofte nie! Ons het albei besluit op ‘n driesampioen-linguine (tuis gemaak) met skywe Parmesan-kaas en gesnipperde geroosterde knoffel, sy die kleiner porsie (R44) en ek natuurlik die vol porsie (R85). ‘n Tweede glas van daai Sauvignon Blanc het die kersie op die spreekwoordelike koek geplaas.

Links: Daar's tye wat dit 'n ergernis is as 'n bord en 'n bottel leeg raak, en by Harvest at Laborie is dit beslis so!

Terwyl ons bly was die voorgeregte met hul sterker geure en smake was verby, suiwer omdat ons na daai belofte van nog iets besonders uitgesien het, wou albei van ons hê dat die hoofgereg nie moet opraak nie. Niks in die bord het oorweldig of oorheers nie, niks het uitgespring en jou smaakkliere aan die strot gegryp nie, maar elke bestanddeel het sy rol gespeel om ‘n heerlike, genotvolle geheel te vorm.  En die Laborie Sauvignon Blanc het die ervaring, vir my, daai esktra hupstoot gegee.

Om die gastronomiese reis te eindig op dieselfde hoë noot as waarmee ons dit begin het, het vroulief haar gunsteling, crème brûlée, bestel (R40) en ek het besluit op die warm, sagte sjokoladetert met ‘n sjokolade- en haselneutrolletjie en tuisgemaakte Kit Kat-roomys (R44). O ja, en ‘n skeut van Laborie se bekroonde Alambic-potketelbrandewyn! Kan ‘n ongelooflike ete lekkerder eindig?

Oukei, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 10:

0 - 3 : Swak

4 – 6: Gemiddeld

7 – 8: Goed

9 – 10: Uitstekend

In uitsonderlike gevalle sal ons 11 – 12 punte toeken, maar dit sal werklik slegs wees wanneer die ervaring buitengewoon is.

Regs: En dis hoe mens 'n ete moet afsluit, selfmoord met behulp van sjokolade en 'n knertsie Alambic-potketelbrandewyn! Hemel op aarde!

 

Wat atmosfeer betref, het vroulief vir Harvest at Laborie 9 punte gegee, maar ek was effe meer beskeie met ‘n 8. Vir diens het ons albei op ‘n 10 besluit. Die aanbieding van die kos het by ons albei 8 punte gekry, terwyl die kos self 9 punte by ons verdien het. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 10 werd, maar ek was weer eens bietjie minder vrygewig met ‘n 9.

 

Harvest bied ‘n goed gebalanseerde spyskaart en ‘n ewe goeie en omvattende wynlys, en daar’s ook ‘n spyskaart vir kinders (ongelukkig!).

 

Harvest at Laborie is sewe dae ‘n week oop vir middagete, terwyl ontbyt Saterdagoggende aangebied word. Aandete word Woensdae, Donderdae, Vrydae en Saterdae bedien.

 

Matthew en die hoofsjef, Geraldine White, saam met die bestuurder, Yolanda Prinsloo, bied iets heel besonders hier en ons kan Harvest aanbeveel vir enigiemand wat goeie kos waardeer. O ja, en goeie wyn!

 

Vir enige navrae of om te bespreek, skakel 021-807-3095 of stuur ‘n epos aan yolanda@harvestrestaurant.co.za.  Jy kan ook www.laboriewines.co.za/restaurant besoek.

 

Einde