Die Weskus gaan oor lekker kos, lekker wyn en lekker mense

Jan "Ponk" van Zyl (staande) en Wynand Hamman (regs voor) saam met die res van die groepie aan tafel in Doringbaai.

Ek en vroulief het ‘n reëling met haar neef en sy vrou uit Edinburgh in Skotland: elke keer wanneer hulle Suid-Afrika toe kom, vat ons hulle vir ‘n naweek iewers heen waar hulle nog nooit was nie. Hulle kom twee keer elke jaar op vakansie na hul huis in Stellenbosch, is mal oor die buitelewe en is twee fanatiese fotograwe. Die druk is dus elke keer groot om met iets spesiaals vorendag te kom.

O ja, en albei geniet lekker kos en lekker kuier, terwyl veral Jenny saam met my in vervoering raak oor Suid-Afrikaanse wyne!

Toe hulle onlangs hier was, het ons hulle teen die Weskus opgeneem. Hulle was reeds by ‘n vorige geleentheid tot by Lambertsbaai met hul deeglik toegeruste Land Rover Defender 110, maar ek het ‘n verrassing of twee in gedagte gehad.

Toyota het my hul jongste Hilux 4.0 V6 Raider Auto geleen en ons het een Vrydagmiddag die Weskuspad gevat deur Velddrif en Elandsbaai, verby Leipoldtville tot by Lambertsbaai waar ons die nag sou oorbly. Maar voordat ek verder vertel, ‘n paar woorde oor hierdie dubbelkajuit. Nissan se Navara 3.0 V6-diesel (ook ‘n dubbelkajuit) het einde verlede jaar my oë oopgemaak vir hierdie soort veeldoelvoertuig en die Toyota het al die positiewe indrukke net verder onderstreep. Lees gerus meer van hierdie bielie by http://planeetwyn.co.za/node/3535.

Links: Jors troelie en Ian McNairn met daai bloedjong sauvignon blanc by Muisbosskerm. Jip, dis die Atlantiese Oseaan in die agtergrond!

Daardie aand het ons by die Muisbosskerm (027-432-1017 / www.muisbosskerm.co.za) gaan eet. Kyk, ek het al soveel keer by daai buitelug-eetplek teenaan die see net buite Lambertsbaai geëet dat ek en die Turners op voornaamterme is! Tertius was weer aan diens en ons het uitgesien na ‘n watertandfees! En natuurlik is ons weer eens nie te teleur gestel nie. Die probleem by Muisbosskerm is, soos altyd, om jouself te “pace” want hier is soveel om aan te peusel dat jy ‘n ekstra pens moet saambring as jy genoeg van alles wil hê!

Ek het twee bottels van ‘n bloedjong sauvignon blanc saamgevat, die John B Sauvignon Blanc 2012. Dit kom van Rietvallei daar naby Robertson. Ek kan nie mooi verstaan hoekom wynmakers dit doen nie. Ek bedoel nou ‘n wyn so jonk bekend stel nie. Dis duidelik dat hierdie wittetjie potensiaal het, maar hy’t beslis nog tyd in die bottel nodig om te ontwikkel, maklik ‘n jaar of twee. Die wyntjie het goed met die seekosse gewerk by Muisbosskerm, maar op sy eie was hy effe skerp (“crisp”) en het sy natuurlike suur bietjie oorheers. Ek het darem nog ‘n bottel in my versameling en sal hom volgende jaar hierdie tyd oopmaak en geniet.

Ian en Jenny het hul eerste ervaring van Muisbosskerm gate uit geniet en foto’s vir ‘n vale geneem om vir almal in Skotland te gaan wys hoe kos, wyn en mense langs die Weskus bymekaar kom. Maar wat hulle nie geweet het nie, was dat die beste nog voorgelê het!

Na ‘n heerlike nagrus en ‘n regte, egte Weskus-ontbyt het ons laat die oggend die pad gevat Doringbaai toe. Net buite Lambertsbaai vat jy die tolpad links na Doringbaai, Strandfontein en Lutzville. Net so terloops, jy ry verby die sauvignon blanc-wingerde aan jou regterkant waarvan die bekende en gewilde Sir Lambert Sauvignon Blanc gemaak word. Die grondpad is altyd in ‘n goeie toestand, nie dat die Toyota hoegenaamd gebodder sou gewees het deur ‘n bietjie “rough and tumble” nie!

Dis nie ver Doringbaai toe nie en ons het skuins voor twaalfuur daar aangekom. Omdat ons vroeg was vir ons afspraak met die mense wat verantwoordelik is vir Fryer’s Cove se wyne, het ons bietjie in die hawe foto’s geneem en met ‘n paar vissermanne wat daar rond gehang het,  gesels.

Bo: Jenny, Ian, Renske, Jan en Sharon op die kaai met die sinkgeboutjie in die agtergrond en die pot vol krewe aan die stoom oor die kole. Dis Fryer's Cove se twee sauvignon blancs en pinot noir wat so verinneweer word in die herfssonnetjie!

Toe is ons die hawe in waar Jan “Ponk” van Zyl en Wynand Hamman hul kelder in een van die vele ou geboue ingerig het. As daar ‘n wynkelder nader aan die see geleë is, wil ek graag daarvan weet! Jy kan ‘n klip met gemak in die hawe gooi van die proekamer af, en as jy in die skadu voor die kelder/proekamer sit en rustig en lustig aan Fryer’s Cove se twee sauvignon blancs en pinot noir proe, miskien met ‘n ietsie te ete van die kiosk net langsaan wat Jan-hulle vir die plaaslike gemeenskap aangebring en ingerig het, kan jy ‘n olyfpit met een allemintige spoeg in die koue Atlantiese Oseaan laat beland! G’n wonder so baie mense kom kuier daar nie, al is dit weg van die hoofroetes af, of miskien juis daarom! Dis nie net lekker nie, dis Weskus-lekker!

Van die kelder/proelokaal af strek die kaai so 50 meter die see in en vorm dan ‘n T. Regs op die T is ‘n dubbelverdieping-sinkgeboutjie waarvan die boonste vloer ingerig is vir ‘n lekker intieme kuier. Aan die voet van hierdie geboutjie het ‘n tafel en stoele en ‘n halwe drom ons op die kaai ingewag. En natuurlik Jan en sy vrou, Renske, en Fryer’s Cove se wynmaker en Jan se swaer, Wynand, en sy vrou, Hazel, Jan se suster. Op die tafel was lekker happies om ons kake besig te hou saam met Fryer’s Cove se Bay to Bay en Bamboes Bay Sauvignon Blancs, asook ‘n Fryer’s Cove Pinot Noir.

O ja, die drom was reeds met hout gepak en die krewe, vis en braaibroodjies het soos gehoorsame Labradors gelê en wag op hul beurt om gebraai te word. Die slaai het bo in die sinkgeboutjie gewag. Maar tipies Weskus is daar eers heerlik gekuier en gesels in die herfssonnetjie en rondom Fryer’s Cove se wyne en die happies voordat Jan die vuur aangesteek het. En dis mos die manier hoe dit gedoen moet word! Daar moet ‘n wet wees teen vure wat reeds aangesteek is wanneer jy aankom of wat aangesteek word sodra jy aankom!

Regs: Dit was ons voorgereg op die kaai in Doringbaai, met 'n Fryer's Cove Sauvignon Blanc net om die kersie op die koek te sit! Daar's niks verkeerd met bietjie dekadensie nie, en so 'n knipsel hedonisme kan ook ver gaan!

Die voorreg van die krewe is aan ons vier “stadsjapies” gelaat en ons het ons skaamteloos te bowe gegaan met al daai kreefsterte! En saam met Fryer’s Cove (083 264 7524 / www.fryerscove.co.za) se sauvignon blancs was daar geen einde aan die dekadensie nie. Toe het ons vier gashere en –vroue by ons aangesluit vir die vis, broodjies en slaai en die agt van ons het daai sinkgeboutjie behoorlik laat kreun van die lekkerte. Dis nou ons lekkerte!

Versadig en verkwik het ons later die middag afskeid geneem. Ons wou nie, maar ons moes! Die Gifberg-rusoord (027-219-1555 / www.gifberg.co.za) anderkant Vanrhynsdorp het op ons gewag. Ons is verby die tuiste van Seal Breeze-wyne by Lutzville (hier’s natuurlik ook ‘n groot kelder in die dorp wat die lekkerste wyne maak), Melkboomsdrift net duskant Vredendal waar ‘n lekker gastehuis en ewe lekker boetiekwyne wag, deur Vredendal en verby Namaqua-kelder tot by Vanrhynsdorp. Hiervandaan vat ‘n grondpad jou die byna 30 km na die Gifberg-rusoord waar ons selfsorghuisie op ons gewag het.

Nadat ons afgepak het, is die vuur in die kaggel (wat ook as braaiplek dien) op die stoep aangesteek en het ons ontspan, elkeen met ‘n glasie iets in die hand. Ek en Jenny het ‘n bottel De Grendel Rosé nader gesleep terwyl vroulief en Ian iets ligter geniet het. Halfpad deur daai rosétjie het die hongerpyne al weer begin knaag. Miskien was dit die wete van die tapas van brode, spesialisvleise, kase en olywe wat op ons gewag het. Met olyfolie en balsamiekasyn natuurlik.

Bo: Nadat ons daai krewe kaf gedraf het, het die lekkerste vis, braaibroodjies en slaai, en nog heerlike sauvignon blanc, op ons gewag. Toe moes ons onsself wegskeur om die pad Gifberge toe te vat.

Nóg ‘n heerlike ete, gepaardgaande met heerlike wyn en goeie geselskap, het ‘n einde gebring aan ‘n baie spesiale dag. Na ‘n goeie nagrus in die stilte van die Gifberge en ‘n koppie of twee sterk boeretroos het die vier van ons een van die staproetes aangedurf. Die skuldige gewetens oor al die lekkerte van kos en wyn het begin knaag en ons het besluit dat ‘n stap/klim in die natuur van die Gifberge net die ding is om daai gewetens bietjie te sus. En dit was toe ook!

Na ‘n lekker brekvissie by die Gifberg-rusoord se koffiekroeg – hulle bied ook ligte etes aan – het ons die Hilux gepak en toe die pad huistoe gepak, N7 langs. Net anderkant Piketberg het ek vrouilief so ‘n skuins kykie gegee – die MacNairns was vas aan die slaap agter in die Hilux – en gevra: “Prinses, ons sal moet uithaal en wys om hierdie naweek te oortref!” Maar ai, dis tog so ‘n lekker uitdaging.

Einde