Hilda’s Kitchen bied heilsame kos en bekroonde wyn in ‘n rustige plaasomgewing

Vroulief poseer aan ons tafel op die klein en intieme stoep agter langs die een eetkamer.

Restaurante kry swaar! Sedert die ekonomie wêreldwyd suidwaarts begin beweeg het, ons meer en meer moet betaal vir minder en minder op soveel gebiede, en mense se besteebare inkomste ‘n gevoelige knou toegedien is, sien ek al hoe minder mense by eetplekke en hoor ek byna daagliks van restaurante wat in die knyp is. Sommige restaurateurs vat die kortpad: maak porsies kleiner en pryse groter. O ja, en laat mense belaglike kurkfooie betaal!

Die getal en verskeidenheid eetplekke op wynplase vandag is verstommend, en dit wissel van restaurante wat ligte etes bedien tot restaurante wat vir Michelin-sterre in aanmerking sal kom. En tussenin is daar ‘n horde eetplekke waar jy smaaklik kan smul aan kos van gehalte gemaak van die varsste bestanddele. O ja, en in ‘n rustige plaasomgewing.

Een so ‘n eetplek is Hilda’s Kitchen op die wynlandgoed Groote Post naby Darling waar Debbie McLaughlin reeds etlike jare lank kosliefhebbers trakteer op haar toorkunsies uit die kombuis. Hilda’s Kitchen is in die ou, gerestoureerde herehuis op hierdie bekende wynlandgoed geleë wat jou sommer met die intrapslag laat tuis voel. Dis pure plaas: houtvloere, lang vensters en dik mure! Langs die herehuis is ‘n geskiedkundige slaweklok en ‘n katspoegie verder die wynplaas se kelder en proelokaal.

Debbie, ‘n internasionaal erkende cordon bleu-sjef, se spyskaart verander gereeld en jy weet dus nooit vooraf watter verrassings op jou wag nie. Haar kos kan as heilsaam en kontemporêr Suid-Afrikaans (modern country cooking) beskryf word, maar sy het die vermoë om haar disse so ‘n ekstra hupstoot te gee, so asof sy plaasjapies vat en hulle in stadsjapies verander. Overgeset synde, haar disse smaak nie net goed nie, hulle lyk ook goed! Maar die klem bly altyd op eenvoud. Eenvoud, gehalte en die varsste produkte. Die geregte op die spyskaart word gepaar met Groote Post se reeks puik wyne wat iets vir elke smaak bied.

O ja, Hilda’s Kitchen bring hulde aan Hildegarde Duckitt, een van Suid-Afrika se eerste kookboekskrywers. Die restaurant kan glo tot 120 mense akkommodeer, maar jy sal dit nooit sê nie. Die Sondag wat ons daar gaan eet het, was net die agterste eetkamer en die stoep langsaan in gebruik, en ons het besluit om die koue weer te trotseer en op die stoep middagete te geniet.

Links: My carpaccio-voorgereg en daai bottel Old Man's Blend wat die hele ete so wonderlik afgerond het.

‘n Bietjie advies: dis lekker om op die klein, intieme stoep te eet (om die waarheid te sê, dis my eerste keuse), maar as dit koud is, stel ek voor jy vat ‘n kombers saam vir jou bene want daar’s nie verwarmers nie.

Nadat Debbie se man, Shaun, my ‘n paar wyne uit die Groote Post-stal laat proe het, het ek op ‘n bottel van Groote Post se bekende Old Man’s Blend besluit, die rooie, terwyl vroulief haar gewone kafeïenvrye koeldrank bestel het.

Die eenvoudige spyskaart het drie voorgeregte, vier hoofgeregte en drie nageregte aangebied. Vroulief het op ‘n bloukaas- en gekaramaliseerde uietert besluit (R58) vir voorgereg, terwyl ek moeilik verby carpaccio stap. Ek het dus die Springbok- carpaccio met ‘n pikante eiervrugsous (R58) gekies. Eenvoudig, maar smaaklik!

Regs: Vroulief se hoofgereg. Glo my, hy smaak net so lekker soos hy lyk!

Vir hoofgereg het vroulief op pasta bedien met gerookte salm en ‘n gekruide suurroomsous (R75) besluit en ek het by rooivleis gehou deur die Old Man’s- biefstukrol met knoffelroom (R120) te bestel. Hoewel die prys van my gereg effe aan die hoë kant was, moet ek erken daai biefstuk was sagter en sappiger as wat ek al by baie braairestaurante gehad het. En halfgaar nes ek dit bestel het.

Vroulief het teen nagereg besluit en koffie bestel terwyl ek nog ‘n leë holtetjie gehad en klewerige toffiepoeding (sticky toffee pudding – R44) bestel het.

Nou maar goed, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 10:

0 - 3 : Swak

4 – 6: Gemiddeld

7 – 8: Goed

9 – 10: Uitstekend

In uitsonderlike gevalle sal ons 11 – 12 punte aanbied, maar dit sal slegs in gevalle wees waar die betrokke item bo die norm uitstyg.

Wat atmosfeer betref, het ek en vroulief vir Hilda’s Kitchen 8 punte gegee. Binne of buite, dis rustig en huislik; pure plaas, soos ek reeds gesê het. Vir diens het ons albei weer op ‘n 8 besluit. Die aanbieding van die kos het by ons albei 7 punte gekry, terwyl haar kos 9 punte werd was en myne 8. Die algehele ervaring was vir my en vroulief ook 8 punte werd.

Ek het al van klagtes oor stadige diens gehoor, maar dis glo net wanneer Hilda’s Kitchen baie besig is. Ek’s gelukkig nie een wat my kos of my wyn afjaag nie, solank daar net iets is wat ek darem nou en dan oor my lippe kan sit. Die rustige plaasatmosfeer en die warm, huislike omgewing binne die herehuis en die intieme stoep sorg dat mens gou ontspan, veral as jy ‘n glasie Groote Post-wyn in die aan hand het!

Links: 'n Lekker nagereg is soos daai laaste (en lekkerste) glas van jou gunsteling-wyn: jy kan nie wag om daarby uit te kom nie terwyl jy die hele pad soontoe gate uit geniet!

Dit was nie ons eerste besoek aan Hilda’s Kitchen nie en beslis ook nie ons laaste nie, wat baie sê aangesien daar so baie eetplekke op wynplase is en ons probeer om nie twee keer na dieselfde restaurant te gaan nie. Hilda’s Kitchen sluit dus by ‘n uitsoekgroepie aan wat ons twee betref.

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 022-492-2825 of 083 325 4148, stuur ‘n epos aan mclaughlin@worldonline.co.za of besoek www.grootepost.com.

Einde