Strandveld Vineyards bied rustige verblyf in landelike omgewing met baie te doen

Die twee skakelhuisies met die kelder links agter.

‘n Paar jaar gelede het ek ‘n artikel gaan doen oor die mees suidelike wingerde in Suid-Afrika. Dis daar in die Strandveld tussen Bredasdorp, Struisbaai en Elim. Ek het die naweek op Strandveld Vineyards, die mees suidelike wynmakery in Suid-Afrika, gebly in een van hul twee skakelhuisies, omring deur ‘n ruim grasperk en met ‘n pragtige fynbostuin byna op jou voorstoep. En die proelokaal is binne twintig struikels van jou verblyf af, soos ‘n tandarts-vriend dit sal stel!

O ja, voor ek vergeet, jy word by die plaas se ingang verwelkom deur ‘n massiewe stuk geraamte van ‘n walvis, net om jou te herrinner dat jy naby aan die see is, so ‘n katspoegie of twee van die mees suidelike punt van Afrika, naamlik Kaap Agulhas.

Die ander kelders wat ek daai naweek besoek en heerlik by gekuier het, was Black Oystercatcher, The Berio en Zoetendal. En ek het lank voor dit en lank daarna laas so lekker gekuier saam met baie gawe mense rondom heerlike wyne en lekker kos. En ek het daai grondpaaie rondom Strandveld Vineyards plat geloop en gery met ‘n bergfiets en my verwonder aan die lappe fynbos tussen wingerde en ander gewasse en die rustigheid en landelikheid van die omgewing.

Die doel van daai naweek was egter wyn en ek het maar min gesien van die natuurreservate en ander attraksies, soos Elim, wat die Strandveld aan besoekers bied. Omdat ek egter gedurig op soek is na lekker verblyf op wynplase om Planeet Wyn se lesers van te vertel, het ek en vroulief besluit om vir ‘n naweek op Strandveld Vineyards te gaan bly. Hierdie keer was dit in die middel van die winter en sou die gode van snot en slym saamspan om ons naweek kort te knip!

Maar ek het darem al genoeg tyd in daai geweste en in daai skakelhuisies deurgebring om te kan vertel hoe lekker die ervaring is. As jy rus en vrede in ‘n pragtige, landelike omgewing soek met heelwat te sien en te doen, is die Strandveld net die plek vir jou, en wag daai twee skakelhuisies ook net op jou en joune.

LINKS: Wat meer soek jy vir 'n heerlike nagrus!

Kom ons begin by die twee skakelhuisies. Elkeen bestaan uit ‘n ruim slaapkamer, ‘n netjiese badkamer en ‘n ruim vertrek wat dien as sitkamer, eetkamer en kombuis. En daar’s ‘n lekker kaggel in albei. Buite is ‘n mobiele braai vir die ongelooflike someraande wat mens in daai geweste kry.

Bykomende matrasse word voorsien sodat kinders byvoorbeeld in die ruim vertrek gehuisves kan word. Ek sou sê die huisies kan vier mense met gemak huisves, moontlik selfs meer. Beddegoed en handdoeke word voorsien en die kombuis is deeglik toegerus met byvoorbeeld ‘n yskas, mikrogolfoond en ketel, asook die nodige gereedskap om darem die hongerpyne te help weghou.

Ek kan nie onthou of die verblyf enige sterre het nie, maar ek sou dit beslis ‘n stewige drie sterre gee, miskien selfs drie en ‘n half. Daar is gelukkig nie televisie nie, maar ek het albei kere darem ‘n musiekmaakdingetjie saamgevat, net so vir ‘n geluidjie in die agtergrond terwyl ek braai of kos maak. Anders is die stilte van die omgewing, afgewissel met die natuur se musiek, genoeg lafenis vir die siel en sal enige lawaai deur die mens selfsugtig wees en net alles versteur. Alles is netjies en skoon en word goed onderhou.

Kyk, mens kan natuurlik nie van Strandveld Vineyards praat sonder om ook na hul wyne te verwys nie. Ek het die voorreg as wynskrywer om alles te kan proe, maar die Strandveld-reeks, die vlagskipreeks, is skynbaar nie vir proe beskikbaar vir gewone “plebs” nie! Maar moenie na die vlugsout gryp nie, hul First Sighting-reeks sal jou smaakkliere lank genoeg besig en aan die jubel hou om van die windgatwyne te vergeet. Wel, amper!

REGS: 'n Bad EN 'n stort, en alles is baie netjies en higienies.

Die Strandveld-reeks sluit in ‘n sauvignon blanc, ‘n wit versnit, ‘n pinot noir, ‘n syrah en ‘n rooi versnit, terwyl die First Sighting-reeks ‘n sauvignon blanc, ‘n pinot noir, ‘n shiraz en ‘n shiraz rosé behels. Hierdie area is veral bekend vir sy sauvignon blanc en dit sal dus ‘n skande én ‘n jammerte wees as mens nie minstens hierdie witwyn oor jou tong en in jou keel af laat gly nie.

Net so van die os op die jas, First Sighting bring hulde aan die Portugese ontdekkingsreisiger, Bartholomeu Dias, wat in 1488 die eerste keer die Kaap die Goeie Hoop gesien het op sy soeke na ‘n handelsroete na die ooste rondom die Kaap.

Soos reeds genoem, hier’s ‘n hele paar natuurreservate vir diegene vir wie die pragtige natuurskoon van die Kaapse Blommeryk ‘n spesiale bekoring inhou, en dan’s daar natuurlik ook die vuurtoring by Agulhas wat altyd ‘n attraksie is. En as die geskiedenis van ‘n area of plek vir jou iets beteken, gaan loer gerus in by Elim.

As jy lui is vir kosmaak, Bredasdorp, Struisbaai en Agulhas bied ‘n lekker verskeidenheid eetplekke, maar ons kan nou nie juis getuig van die gehalte van die kos nie aangesien dit te lekker was om ‘n vuurtjie aan te steek, in die mobiele braai in die somer en sommer in die kaggel in die winter, en ietsie te eet aanmekaar te slaan terwyl ons heerlik geteug het aan Strandveld Vineyards se lekker wyn.

Vir die energiekes is daar beslis ook heelwat te doen. Die teerpaaie tussen Bredasdorp en Struisbaai/Agulhas en tussen Bredasdorp en Elim bied jou genoeg kilometers om ‘n lekker eetlus op te bou, terwyl daar ook ‘n hele paar bergfietsroetes is om jou te laat ontslae raak van oortollige energie. ‘n Lekker roete is vanaf Strandveld Vineyards na Struisbaai of Agulhas wat uit sowel teer as grond bestaan.

BO: Die ruim en gerieflike sitkamer/eetkamer/kombuis bied bykomende slaapplek op matrasse en 'n lekker, welverdiende wegbreek van die lewe se geneuk.

En as jy ‘n voetslaner is, vat gerus ‘n kierie saam en pak die grondpaaie rondom Strandveld Vineyards. Stap sommer na die nabygeleë tuistes van Black Oystercatcher en The Berio, gaan proe hul lekker wyn en stap dan die skuldgevoelens af terug na jou verblyf ... voordat jy natuurlik die vuur aansteek om aan nog skuldgevoelens te werk! En as jy lief is vir kiekies neem, vat sommer jou mik-en-druk of fênsie kamera saam. Daar is baie om op “film” te verewig vir diegene met ‘n goeie oog.

Die tariewe vir die skakelhuisies is R550 per nag van begin Desember tot einde April, en dan werk hulle op ‘n glyskaal buite seisoen (dis nou van begin Mei tot einde November). Dan’s die tarief R450 per huisie vir een nag, R400 vir twee, R370 vir drie en R340 vir vier nagte of meer.

As jy meer inligting wil hê of bespreek by Strandveld Vineyards, skakel 028-482-1906, stuur ‘n epos aan info@strandveld.co.za of besoek www.strandveld.co.za.

Einde