Eat@Altydgedacht bied lekker eerlike, eenvoudige kos in ‘n ontspanne plaasomgewing

Dis heerlik in die skadu van die bome, 'n regte plaasete met eerlike kos en puik wyn.

Hoe meer ek en vroulief uiteet, hoe meer duik die vraag op: Wat is vandag waarde vir geld? Oukei, mens moet darem onderskei tussen haute cuisine en gewone, lekker, hartlike kos. Jy kan byvoorbeeld nie Waterkloof-restaurant buite Somerset-Wes of Terroir buite Stellenbosch met byvoorbeeld Towerbosch op Kanonkop of Eat@Altydgedacht in die Durbanville-wynvallei vergelyk nie. Die eerste twee bied jou haute cuisine, koskunswerke wat jou smaakkliere op ‘n hemelse reis neem, terwyl laasgenoemde twee jou eerlike, eenvoudige en smullekker kos bied, sonder enige fieterjasies.

Maar jy betaal ook meer vir eersgenoemde as vir laasgenoemde, en dis juis wanneer dit by prys kom, en in ag genome die wêreldwye ekonomiese situasie en dat almal se besteebare inkomste by die dag minder word, dat ons dikwels kop krap oor wat is waarde vir geld. Ons het uiteindelik afgekom op ‘n eenvoudige formule vir doodgewone lekker kos: ‘n voorgereg behoort nie meer as sowat R45 kos nie, ‘n hoofgereg nie meer as sowat R75-R80 nie en ‘n nagereg nie meer as sowat R35-R45 nie. Onthou, ons doen net resensies van restaurante op wynplase en die prys van die wyn is nog nie bygereken nie, so ook nie die fooitjie vir diens nie.

Met bogenoemde in gedagte het ons twee een Saterdagmiddag by Altydgedacht in die Durbanville-wynvallei aangekom vir middagete. Ons het al by talle vriende gehoor van die lekker kos teen skaflike pryse by Eat@Altydgedacht, en die feit dat mens byvoorbeeld in die winter in die 300 jaar oue gebou wat die vatkelder huisves, kan aansit vir ete of onder ‘n seil reg voor die kelder, of in die somer onder die bome, het die nuuskierigheid geprikkel. Verder kan Altydgedacht (oorspronklik bekend as Tygerberg) sy geskiedenis terug vat na 1698 toe dit deur Goewerneur Simon van der Stel toegeken is. Die Parker-familie besit die plaas reeds sedert 1852 en die broers John en Ollo, is die vyfde geslag wat hier boer.

Maar terug na kos en wyn. Eat@Altydgedacht is net oop vir ontbyt en middagete van Maandag tot Saterdag, en van 9 vm tot 3 nm. Die hele idee agter hierdie eetplek met sy rustige plaasatmosfeer het glo een somersdag ontstaan tussen die geproe van die jongste sauvignon blanc-oes. Dit het in Desember 2009 amptelik geopen en sedertdien het die rustige atmosfeer, die heerlike kos en die lekker wyn baie vriende gemaak vir Altydgedacht.

Ons het ‘n tafel buite onder die bome gekies en  vroulief het haar tradisionele koeldrank bestel. Ek was nie seker wat om te eet nie en dus ook onseker watter wyn om te bestel het, maar toe vat ons kelner, Herman, die besluit uit my hand. Omdat die proelokaal glo nie juis besig was op daai tydstip nie, het hy aangebied om my die hele wynreeks te laat proe. Net daar het hy sy fooitjie verdien! Dubbel en dwars!

BYSKRIF: Bo is vroulief se Barbera-burger en regs my hoender-potpastei.

Ons het besluit om albei met ‘n halwe porsie Caprese-slaai te begin. Dit kos R35 ( ‘n vol porsie kos R70) en mens kan panini of geroosterde rogbrood teen R8 by bestel. Die porsies was ideaal en die slaai vars en geurig. Herman het my bederf met Altydgedacht se 2012- Blanc de Blanc, 2012- Sauvignon Blanc en 2012- Gewürztraminer.

As hoofgereg het ek hul gewilde hoender-potpastei (R85) bestel, terwyl vroulief op die Barbera-burger (R75) besluit het. Die pastei word met groente en aartappelwiggies bedien en die burger met parmesan, chedder, gebraaide uie en aartappelwiggies.  Die wyne wat Herman aangedra het, het Altydgedacht se droë 2012- Weisser Riesling en Cabernet Franc Blanc de Noir van dieselfde oesjaar ingesluit.

Hoewel vroulief haar Barbera-burger baie geniet het, was ek effe teleurgestel in my hoender-potpastei. Eerstens was dit baie waterig en tweedens was daai potjie maar net so driekwart gevul met hoender. Nadat ek die kors gebreek en dit die meeste vog laat opslurp het, het die hoofgereg eers tot sy reg gekom, maar ek het steeds gekla oor die hoeveelheid hoender en Sharon, die bestuurder, het my verseker dat die potjie veronderstel is om tot heelbo gevul te wees en dat sy daaraan sal aandag gee.

Vir nagereg het vroulief op gebakte kaaskoek met roomys besluit en ek op sjokoladebruintjies met roomys (links). Al die nageregte kos R30 elk. Herman het my bederf met ‘n glasie van Altydgedacht se 2011- Semillon Noble Late Harvest. Die nageregte was die ideale afsluiting van ‘n heerlike ete, en daai soetetjie het beslis bygedra tot die dekadente genot.

Voor ek vergeet, kinders is welkom, maar die goeie nuus is dat daar eenkant vir hulle speelplek is sodat hulle nie ander mense hoef te irriteer en hul etes bederf nie. As daar nou een ding is wat ‘n lekker ete in ‘n nagmerrie kan verander, is dit die ongedissiplineerde kinders van selfsugtige ouers!

Nou maar goed, kom ons kyk hoe lyk die puntetoekennings. Ons werk op ‘n skaal van 0 – 10:

0 - 3 : Swak

4 – 6: Gemiddeld

7 – 8: Goed

9 – 10: Uitstekend

In uitsonderlike gevalle sal ons 11 – 12 punte aanbied, maar dit sal slegs in gevalle wees waar die betrokke item bo die norm uitstyg.

BYSKRIF: Die ou vatkelder behoort 'n heerlike tuiste te bied in die koue wintermaande.

Wat atmosfeer betref, het ons albei vir eat@Altydgedacht 8 punte gegee. Vir diens het ons albei op ‘n 10 besluit. Die aanbieding van die kos het by ons albei 8 punte gekry, terwyl haar kos 8 punte werd was en myne 7. Die algehele ervaring was vir vroulief ‘n 10 werd, maar ek was bietjie minder vrygewig met ‘n 8.

Vir meer inligting of om te bespreek, en ons sal beslis weer soontoe gaan, skakel 021-975-7815 of stuur ‘n epos aan eat@altydgedacht.co.za.

O ja, moenie dat die ou haakplekkie met die hoender-potpastei jou afskrik nie. Ek's seker die ou sakie sal reg gestel word en ek sien uit na ons volgende besoek. Dis nie maklik om vandag vir onder R300 van 'n eetplek weg te stap nie, veral nie na 'n voorgereg, hoofgereg EN nagereg nie. Oukei, die fooitjie is nog nie bygereken nie, en ook nie 'n voggie of drie nie, maar nogtans ...

Einde