Ontdek en verken ‘die Tuinroete se wynroete’

Peter en Caroline Thorpe van Bramon: waar daar vreugde is, is daar lekker wyn, lekker kos en lekker samesyn.

Suid-Afrikaanse wynliefhebbers is bederf, baie bederf. Met ons land se groot diversiteit in terme van sy terroir, word ons wynliefhebbers bederf met ‘n groot verskeidenheid wyne en wynstyle. Daar is letterlik ‘n wyn vir elke smaak en elke sak. Van wittes, rooies en pienkes tot vonkelendes, soetes en vuurwater (overgeset synde, brandewyn!). En byna elkeen word in verskillende style gemaak, van lig tot medium tot volrond. As jou tong dus nie iets kry waarvan hy hou nie, lê die fout beslis nie by ons wynbedryf nie!

Net so van die os op die jas, die Franse woord terroir beteken al daai faktore wat lei tot die eindproduk in die bottel, van die grond en die grond se ligging tot die klimaat (wind, son, reën ... die hele boksemdaais!).

Maar wat die Kaapse wynlande ekstra kleur en geur gee, bo en behalwe die puik wyne en lekker eetplekke en akkommodasie op wynplase en by kelders, i s sy diversiteit in terme van natuurskoon en omgewing.  Dis lank nie meer net die Kaapse Skiereiland (Constantia) en die die Boland (Stellenbosch, Paarl, Wellington en Franschhoek) wat die alleenreg het op wyntoerisme nie. Ook nie op lekker wyn, lekker kos en lekker kuier nie. Aikôna, vat die pad Swartland toe en jy sal verbaas wees oor wat daar gebeur. Ry dan verder langs die Weskus op en jou onderkaak sal op die grond val van al die wingerde daar by Klawer, Vredendal en Lutzville. Ry verder in die rigting van die Oranjerivier en jou onderkaak sal flenters wees!

Asof dit nie reeds genoeg is om oor opgewonde en trots te wees nie, is die langste wynroete in die land in die Klein Karoo, anderkant Worcester en Robertson se wynstreke, en as jy die N2 uit Kaapstad vat, kom jy af op die Walkerbaai-wynstreek en die mees suidelike wingerde in die Strandveld. Maar dis hier waar dit opgehou het. Wel, tot in 2005!

Maar kom ek begin voor met my storie oor ‘n byna onontdekte juweel in die Tuinroete. Einde 2011 vat ek en vroulief mos vir die eerste keer in baie jare die pad Nature’s Valley toe. Ons sou eers ‘n paar dae in die Wildernis deurbring en Knysna en sy omgewing verken. Toe ons uiteindelik die pad Nature’s Valley toe vat, ry ons anderkant Plettenbergbaai verby ‘n polo-klub, maar pleks van ‘n poloveld is daar rye en rye wingerd! Ek het nog hieroor getob toe ons  in die bergagtige area bekend as The Crags verby ‘n groot kennisgewingsbord ry waarop die naam Bramon Wine Estate staan.

Om ‘n lang storie kort te maak, ons het eendag daar gaan inloer vir middagete by Bramon se “restaurant in die wingerd” en kennis gemaak met die dinamiese Peter en Caroline Thorpe, die eienaars. Peter het vertel dat Plettenbergbaai in 2005 ‘n wynwyk geword het, dat daar 20 produsente in hierdie wyk is met sowat 50 hektaar onder wingerd en dat die wingerdgrootte wissel van 1 hektaar tot 12 hektaar. Byna al die wyn word in Bramon se kelder gemaak.

Nodeloos om te sê, ons moes net eenvoudig terug, maar hierdie keer om “die Tuinroete se wynroete” te ontdek. So gesê, so gemaak. Einde verlede jaar het ons toe weer die pad na daai geweste aangepak. Hierdie keer sou ons eers ‘n paar dae in Knysna oorbly en daarna ‘n paar dae in die klein dorpie Stormsrivier.

BO: Die pragtige uitsig van Packwood se gastehuis af word selfs beter en mooier met wyn, brood en kaas as geselskap.

Op pad Stormsrivier toe het ons besluit om by vyf van die wynplase op “die Tuinroete se wynroete”, oftewel die Plettenbergbaai-wynwyk, aan te doen. Ons eerste besoek was by Packwood, ‘n boetiekwynplaas naby Plettenbergbaai, waar Peter en Vicky Gent (en hul kinders, perde en vriendelike honde) in 2006 besluit het om wingerd aan te plant na ‘n deeglike grondontleding. Packwood is eintlik ‘n suiwelplaas van sowat 1 000 hektaar en volgens Vicky heg die wingerde en wyn waarde toe aan die boerdery. O ja, en hier’s ook viersterverblyf met asemrowende uitsigte in een van die mooiste landelike omgewings.

“Dit was altyd ons droom om wingerd te hê en wyn te maak,” vertel Vicky terwyl die jongste van haar vierpootkinders op die naat van sy rug by my voete lê, soos ‘n wafferse straatmeisie, “en toe beplant ons net minder as 4 hektaar met sauvignon blanc, pinot noir en chardonnay. Die bekroonde wynmaker, Teddy Hall, wat ook lid is van die Kaapse Wynmakersgilde, maak ons wyne op Stellenbosch van ons heel beste druiwe wat met die hand gepluk en hanteer is.”

Packwood se eerste oes het in hul 2009- Sauvignon Blanc gegaan. Nog sauvignon blancs het sedertdien gevolg, en in 2010 het ‘n Blanc de Noir MCC van pinot noir-druiwe by hulle aangesluit. Vicky vertel met so ‘n vonkel in die oog dat ‘n Packwood-nuweling, ‘n sjampanje van pinot noir en chardonnay, in die nabye toekoms die lig gaan sien.

Ek het van Packwood se heerlike sauvignon blanc geproe en ‘n bottel van daai MCC (foto links) huistoe gevat. Laasgenoemde het nie lank in die bottel gebly nie!

Vir meer inligting oor Packwood, hul wyne, akkommodasie en ander aanbiedings, besoek www.packwood.co.za, skakel 044-532-7614 of stuur ‘n epos aan vicky@packwood.co.za.

‘n Entjie verderaan in die rigting van Plettenbergbaai, ook aan die linkerkant van die N7, lê Luka Wines van Hennie en Anita Kritzinger. Die naam Luka is afgelei van die name van hul twee kleinkinders, Luke en Kate. Hierdie twee Zambiërs het in 1976 Suid-Afrika toe verhuis en in 2006 hier kom “aftree”.

Die liefde vir familie en vriende, lekker wyn, lekker kos en lekker samesyn het eintlik gelei tot die geboorte van Luka Wines, het Hennie vertel terwyl ons sy fluweelsagte 2012- Sauvignon Blanc geproe het in die oorspronklike huisie wat vandag as proekamer dien en oor die wingerd van 1,5 hektaar en die Knysna-olifantpark kyk. En terwyl die heerlike voggies so in ons kele afgesypel het, het drie van die reuse stadig aangestap na waar hulle kos kry. ‘n Heerlike bonus!

BO: 'n Lugfoto van Luka Wines wys hoe 'n boetiekwynplaas van 1,5 hektaar lyk! Klein maar getrein, proe maar net hul wyn! Onder is die dam wat Luka Wines van die Knysna-olifantpark skei.

Volgens Hennie gesels Anita gereeld met die wingerdstokke en speel sy soms ook vir hulle musiek. En daarna kon ek sweer ek proe albei hierdie gawe mense in daai voggie! En miskien was die streelsagte musiek wat ek daarna gehoor het met elke druppel ook maar net my verbeelding. Die silwer medalje wat hul sauvignon blanc al op die Old Mutual-trofeeskou gewen het, is beslis nie!

Vir meer inligting oor Luka Wines, skakel 082 332 3299 of stuur ‘n epos aan henita@telkomsa.net.

Byna regoor die pad van Luka Wines af, nader aan Plettenbergbaai, is die tuiste van Plettenvale Wines waar Gloria Strack op regte, egte boetiekwyse wyn maak. Nes die Gents en die Kritzingers is die Stracks groot diereliefhebbers, ware diereliefhebbers, en dit tel sommer baie in my en vroulief se boek.

REGS: Gloria Strack en haar "skaduwee" in die klein kelder op Plettenvale Wines.

“Ons het in 2008 begin met die voorbereiding van die grond en die eerste wingerdstokke in September van daai jaar aangeplant,” het Gloria vertel. “Ons eerste oes was in 2011 en ons het 630 bottels Brut Rosé MCC van pinot noir en chardonnay gemaak. Die oes was maar klein as gevolg van die droogte en die voëls. In 2012 het sake beter verloop en ons het 2 800 bottels van die MCC gemaak en 1 300 bottels van ons droë rosé. Dis van dieselfde chardonnay- en pinot noir-sap as die MCC gemaak.”

Gloria-hulle het intussen hul eie klein kelder gebou en beplan om voortaan al hul eie wyne te maak. Anton Smal van Bramon, wat van die vorige wyne gemaak het, sal as konsultant optree.  Die klein kelder het ook ‘n proegedeelte.

“Ons gaan ons reeks vanjaar uitbrei met ‘n chardonnay, ‘n pinot noir en ‘n shiraz,” verduidelik Gloria, “wat sal meebring dat ons altesaam vyf boetiekwyne aanbied.”

BO: Hierdie wingerd op Plettenvale Wines kyk Plettenbergbaai en see se kant toe. Die Stracks se huis sit bo-op die koppie.

Plettenvale Wines bied ook twee selfsorgkothuisies wat gaste die kans bied om nie net Gloria se lekker wyne deeglik te proe nie, maar ook om aan die oesbedrywighede deel te neem. Vir meer inligting, skakel 044-533-9146 of stuur ‘n epos aan plettenvalewines@gmail.com.

Hiervandaan is ons verby Plettenbergbaai tot in die bergagtige gedeelte bekend as The Crags waar ons ‘n ete-afspraak met die Thorpes gehad het, tussen die wingerde. En glo my, hul tapas en wyn tussen die rye wingerdstokke is iets om te ervaar.

LINKS: Bramon se The Crags Sauvignon Blanc 2012 sal jou smaakkliere betower.

Maar voor ek verdrink in my eie kwyl! Die naam Bramon is afgelei van Peter en Caroline se kinders, Bram en Manon. Dis die eerste en tot dusver enigste landgoed in die Plettenbergbaai-wynwyk en die Thorpes kan dus as ware wynpioniers beskou word. Hulle is ook die enigste van die vyf wynplase wat ons besoek het waar jy nie vooraf ‘n afspraak hoef te maak nie. Hul proelokaal lê teenaan die hoofpad.

Peter het op ‘n wynplaas in die Rawsonville-omgewing groot geword en nog altyd ‘n passie vir wyn en die grond gehad. Toe hy op hierdie stukkie paradys afgekom het, het hy die potensiaal raak gesien en in 2000 die eerste wingerdstokke hier, sauvignon blanc, aangeplant, wat van hom ‘n ware wynpionier maak. Vier jaar later is ‘n MCC (overgeset syne sjampanje) van hierdie druiwe gemaak en sover vasgestel kan word, is dit die eerste en moontlik steeds die enigste sjampanje gemaak van hierdie kultivar.

“Die hellings wat see se kant toe kyk en die koel seebriese, plus die goeie grond, het vir my onmiddellik gesê dat wyndruiwe hier verbou kan word,” vertel Peter, ‘n viskundige van beroep. “Ons het tans sowat 6 hektaar onder wingerd. Dit behels sauvignon blanc, weisser riesling, chardonnay en pinot noir. Die MCC is van die 2004- tot die 2007-oesjare by Graham Beck Wines gemaak deur die bekende Pieter Ferreira en die volgende twee oesjare is die wyn deur  Teddy Hall by Koelenhof gemaak. In 2010 het Anton Smal hom by ons aangesluit en net die volgende jaar is ons kelder van 250 ton voltooi. Al ons wyne word nou hier gemaak.”

BO REGS: Anton Smal, Bramon se wynmaker, in die nuwe kelder op die plaas.

Bramon, wat reeds met 'n vierstergradering vir een van sy sauvignon blancs in die gesaghebbende Platters-wyngids kan spog, het ook ‘n paar rooiwyne in sy portefeulje om ‘n groter spektrum smake en voorkeure te dek, maar hulle kom uit die meer tradisionele wynproduserende gebiede waar die betrokke kultivars die beste vaar.

Caroline is onder meer verantwoordelik vir die restaurant op Bramon en na twee besoeke kan ons dit ten sterkste aanbeveel. Maar wees gewaarsku, as jy daar by hulle vashaak, veral tussen die wingerde, beter jy ‘n geheelonthouer saamvat of alternatiewe vervoer reël, want jy sal so vinnig wortel skiet dat daai wingerde gaan sukkel om voedingstowwe uit die grond te haal!

BO: Tapas en wyn tussen die wingerde op Bramon, wat 'n fees!

Vir meer inligting oor Bramon, skakel  044-534-8007, stuur ‘n epos aan peter@bramonwines.co.za, caroline@bramonwines.co.za of besoek www.bramonwines.co.za.  Om vir die restaurant te bespreek, skakel 073 833 8183.

Ons het ons behoorlik weg geskeur van Bramon en die Thorpes, maar ons laaste besoek van die dag het skuins anderkant die pad op ons gewag en tyd staan vir niemand stil nie.

Newstead Lund Family Vineyards is die jongste produsent op “die Tuinroete se wynroete”. Doug en Sue Lund se eerste wyn is in 2012 gemaak deur Bramon se Anton Smal. Daar is twee wyne, ‘n ongehoute chardonnay en ‘n sauvignon blanc, maar die Lunds beplan om vanjaar nog ‘n pinot noir en ‘n MCC die lig te laat sien.

REGS: Doug en Sue Lund in hul pragtige proekamer, net die regte plek om hul heerlike sauvignon blanc en chardonnay te proe. 

Sowel Doug as Sue kom uit KwaZulu-Natal waar hul families in suiker- en suiwelboerdery betrokke is. Maar daar was ‘n behoefte by albei vir ‘n verandering en ‘n nuwe uitdaging. ‘n Besoek aan Nieu Seeland het hulle geïnspireer om na wynbou te kyk as daai verandering en uitdaging, en in 2006 het hulle 11,5 hektaar grond in The Crags aan die voet van die Tsitsikammaberge aangeskaf. Vyf hektaar is met sauvignon blanc, chardonnay en pinot noir beplant. En die huis en proelokaal is met hul eie hande gebou.

“Doug sien om na die wingerde en ek na die besoekers,” vertel die dinamiese Sue met ‘n glimlag. Hul drie kinders is deel van die boerdery en sit ‘n hand by tydens die oes en help met die voorbereiding van eetgoed vir besoekers.

LINKS: Stylvol en smaaklik, dis hoe dinge op Newstead Lund Family Vinyards gedoen word.

Net so terloops, as die Lunds se wyne met dieselfde sorg en aandag gemaak word as waarmee die wingerde in stand gehou word, moet hulle beslis binnekort met toekennings spog. Die wingerde op pad na die proelokaal is só netjies dat mens wonder of daar nie met snorskêre eerder as met snoeiskêre gewerk word nie!

Vir meer inligting of enige navrae, skakel 044-534-8387, stuur ‘n epos aan info@newsteadwines.com of besoek www.newsteadwines.com. O ja, die Lunds koerier wyn landwyd en hul proekamer bied ook heerlike middagetes aan.

So, die volgende keer wat jy in hierdie geweste is, doen jouself ‘n guns en gaan loer bietjie in by die lede van “die Tuinroete se wynroete”. Jy sal nooit spyt wees nie. Gawe mense ontvang jou in ‘n rustige omgewing en dra by tot ‘n heerlike, intieme en persoonlike wynervaring.

Ons sal hulle almal met groot belangstelling dophou, veral in die lig van mense soos Peter Thorpe se groot planne vir die toekoms. Hier kom ‘n ding!

Einde