Slanghoekvallei ’n onontginde juweel propvol glans

'n Panoramiese blik op die Slanghoekvallei vanaf die staproete oor die Badsberg.

Juwele! Die Kaap is propvol van hulle. Een van die mees onontginde is die Slanghoekvallei, skaars ’n uur se ry van Kaapstad af. En miskien is dít juis die rede hoekom hierdie vallei, wat skaars 16 km lank is en binne ’n handvol minute al langs ’n kronkelende pad van een kant na die ander plat gery kan word, so spesiaal is; die feit dat dit nog byna onontgin en steeds ongekunsteld is.

Eerlik, natuurlik, opreg, byna onaangeraak deur kommersiële aktiwiteite. En dis nie net die vallei nie, maar ook sy mense ... en sy wyne. Gasvry en gulhartig, dis die Slanghoekvallei se mense én sy wyne!

En wanneer jy praat van puik waarde vir geld, praat jy van die wyne in die Slanghoekvallei! Jy gaan moeilik die vallei se wyne klop wat dit betref, van duskant Jasonsfontein (die tuiste van Jason’s Hill-wyne) tot anderkant Opstal.

BO: Uit enige hoek slaan die asemrowende skoonheid van hierdie vallei jou asem weg.

Maar waar het dit alles begin? Om en by 1858, so gaan die storie, het ene Johannes Coenraad Rossouw van Wellington, ook bekend as Lang Jan Rossouw, besluit om, soos vele ander, sy heil “anderkant die berge” te gaan soek. Hy het met al sy besittings oor die Bainskloof getrek en hom in sy “beloofde land” in die skilderagtige Slanghoekvallei, “in die veldkornetskap van Goudini”, gevestig. Hier, tussen die Slanghoekberge in die weste, ’n uitbreiding van die Drakensteinberge, en die kleiner Badsberg in die ooste, het hy en sy gesin hulle langs die rivier wat soos ’n slang deur die vallei kronkel, gevestig op ’n stuk grond wat hy vir 1 700 “goue ponde” gekoop het. Hy het dit Opstal gedoop.

Net so terloops, Lang Jan was met Margaretha Magdalena Cilliers, die dogter van Piet Cilliers, ook van Wellington, getroud. Uit hierdie huwelik is tien kinders gebore (daar was destyds nie televisie nie!). Na Lang Jan se afsterwe is die plaas (wat bykans die hele vallei beslaan het) in nege dele verdeel sodat nege van sy tien kinders elkeen ’n plaas kon erf. Die oudste kind, ’n dogter, het geld geërf.

ONDER: En die vallei bied nie net heerlike wyn, smaaklike kos, asemrowende natuurskoon en gulhartige mense nie, daar's ook hope te doen vir die adrenalienverslaafdes.

En vandag nog heers daar ’n soort familie-atmosfeer in die vallei. Maak nie saak waar en by wie jy in die vallei kuier nie, dis soos een groot familie. Hier kom jy as vreemdeling aan en vertrek as vriend, en as dit nie gebeur nie, lê die fout tien teen een by jou.

Maar kom ek vertel van ons besoek aan hierdie skilderagtige vallei en sy gawe, gasvrye en gulhartige mense. Die aanvanklike gedagte was om net ’n naweek daar deur te bring, maar ’n troue of twee by Opstal het ons “gedwing” om reeds die Donderdag deur te ry sodat ons darem een aand met die Louws van Opstal kon deurbring. En glo my vry, ons het nie gekla nie, en na die drie dae in daai geweste sou dit nie veel gekos het om ons te laat aanbly nie!

Ons het oorgebly in een van net drie houthuise (die Platbos Log Cabins) aan die voet van die Slanghoekberge wat oor ’n mensgemaakte dam uitkyk. Die Slanghoek-bergoord, aan wie die drie weelderige houthuise behoort, se webblad jok nie. Dis idillies. Die “platbos” verwys na die bos agter die houthuise wat uit breërivier-geelhoutbome, asook wilde olyf- en kliphoutbome bestaan.

BO: Die drie Platbos Log Cabins aan die voet van die Slanghoekberge. Ons het in die een heel links oorgebly.

Net so terloops, bo en behalwe die drie weelderige houthuise bied die bergoord ook gerieflike verblyf wat wissel van kampering (tente en woonwaens) langs ’n bergstroom tot 8 verskillende selfsorg-kothuisies, twee en-suite dubbelkamers met opsionele ontbyt en 13 gerieflike en-suite tente. Vir meer inligting, skakel 023-344-3138, stuur ’n epos aan info@slanghoekresort.co.za of besoek www.slanghoekresort.co.za.

Die grondpad na die houthuise kronkel verby wingerde en oor stroompies. Hoewel dit maar net sowat 4 km lank is, vat dit mens ’n goeie 20 minute aangesien jy stadig en versigtig moet ry. Maar dis ook ’n goeie ding want dan sien mens die verskeidenheid voëls raak, en as jy gelukkig is, ook ’n bokkie of drie. En ek sal nie voorstel mens durf daai pad met ’n gewone moutirkar aan nie. ’n Bakkie of ’n fô-baai-fô of iets wat effe hoër van die grond is, werk die beste. Maar dis ’n goeie ding want dit beteken dat jy heerlik afgesonder is van mense, behalwe vir die mense saam met jou of dié in die ander twee “log cabins”. Maar gelukkig is hulle ver genoeg van mekaar en is daar nie lawaaigoed soos televisie of radio of CD-spelers nie. Dis net jy en die natuur! Idillies!

Hier het ons weer eens geleer hoe waar die ou gesegde van “die môrestond het goud in sy mond” is. Ons het soggens voor sonsopkoms met bekers stomende koffie op die dek die opkomende son oor die Badsberg ingewag en saans weer dopgehou hoe die laaste strale oor die Badsberg verdwyn soos die son agter ons oor die Slanghoekberge gesak het. Die gasbraaier op die dek is dan ingespan en met ’n plaaslike wyntjie in die hand is daar op die lekkerste manier moontlik van die dag afskeid geneem.

BO & ONDER: Die Platbos Log Cabins bied weelderige gerief in 'n rustige en natuurskone omgewing. Bo is 'n blik op die binnekant en onder 'n uitsig oor die omgewing vanaf die dek.

Die “log cabins” kan ses mense in groot gerief en gemak huisves. Daar is drie slaapkamers, twee op die grondvloer met koningin-grootte beddens en een bo met twee enkelbeddens, ’n badkamer wat uit ’n stort, toilet en wasbak bestaan, en ’n ruim vertrek wat die sitkamer, eethoekie en ten volle toegeruste kombuis insluit. Alles werk met gas, batterye en sonkrag. Die beligting regdeur die “log cabin” is sag en ek sal voorstel dat gaste tog maar ’n lantern of twee saamneem. En daar’s ’n kaggel wat ons elke aand gebruik het en die hele houthuis heerlik warm maak in die winter.

Vat gerus jou stapskoene saam Slanghoekvallei toe, en as jy ’n ysterperd het, laai hom ook sommer in want hier’s nie net ’n hele paar bergfietsroetes nie, maar die kronkelende teerpad wat deur die vallei loop, bied ook lekker rygeleenthede. En as jy in een van die “log cabins” oorbly, en jy het ’n kano, vat dit ook sommer saam.

Die eerste aand in die vallei was ons bevoorreg om deur Stanley en Ria Louw van Opstal onthaal te word. En sommer met die intrapslag het ons geweet, hier gaan ons lekker kuier! Gaaf, gasvry en gulhartig, dis die Louws van Opstal. Terwyl Stanley gebraai het, het ons soos ou bekendes gekuier met Opstal se heerlike lafenis uit die kelder ... en die reuse-boerboel Oscar aan my voete!

BO: Jasonsfontein se kelder/proelokaal/bistro links en die asemrowende uitsigte wat besoekers begroet.

Na ’n lekker kuier en ’n heerlike nagrus in die stilte van die vallei was ons alweer slaggereed vir eet! Ontbyt het by Jason’s Hill gewag nader aan Rawsonville. Wanneer mens op die balkon van die bistro op die eerste verdieping van die kelder/proelokaal staan en oor die vallei uitkyk, met ’n koppie sterk koffie in die hand, besef jy (weer eens) hoe mooi hierdie geweste werklik is. In die somer moet dit ’n absolute plesier wees om op die balkon brekvis te geniet, maar die koeler weer het ons binnetoe gedwing. Daai heerlike brekvis het egter meer as vergoed vir die koue.

Hierna was ek bevoorreg om saam met die pragtige Ivy du Toit, wynmaker, in die proelokaal op die grondvloer ’n paar van haar heerlike wyne te proe. Ivy sit ’n tradisie voort wat deur haar familie in 1844 begin is. Sy is ’n direkte afstammeling van die oorspronklik eienaar van die vallei, JC Rossouw, en het glo van kleins af ’n belangstelling in wynmaak getoon. Haar eerste wyn, ’n shiraz, is in 2001 gemaak, en Ivy het sedertdien haar staal getoon deur nie net as Diner’s Club se Jong Wynmaker van die Jaar aangewys te word nie (dit was in 2003), maar die volgende jaar ook as Landbouweekblad se Vroue-wynmaker van die Jaar. Sy weet dus hoe om wyne te maak wat jou aanmekaar na die naam Jason’s Hill laat soek!

Gepraat van Jason’s Hill, die naam van die plaas is eintlik Jasonsfontein. Dis vernoem na die eerste plaaswerker, Jason, wat na die skape omgesien het nog voordat druiwe aangeplant is. Omdat die naam glo te veel Afrikaans was en nie deur die internasionale mark verstaan sou word nie, is die handelsmerk Jason’s Hill geskep.

Ek het die oggend vyf van Ivy se wyne geproe, twee wittes en drie rooies. “Gemaklik, toeganklik en elegant” het ek geantwoord toe vroulief my gevra het wat ek van die wyne dink, en onmiddellik gewonder hoekom ek so min van Jason’s Hill se wyne in my keldertjie het. En puik waarde vir geld! Die pryse wissel tussen R31 en R59!

LINKS: Jors Troelie en die pragtige Ivy du Toit tydens die proe. 'n Dametjie wat sulke lekker wyn maak, verdien mos 'n drukkie ... selfs al is dit van 'n grysbaard!

Benewens heerlike wyn en lekker kos, bied Jasonsfontein ook ’n staproete van 6,5 km, ’n skoonheidsalon wat vol bespreek was die hele naweek (tot vroulief se bitter spyt), ’n winkeltjie en vermaak vir die kleingoed wat voëls en apies insluit. Vir meer inligting, skakel 023-344-3256, stuur ’n epos aan info@jasonshill.so.za of besoek www.jasonshill.co.za.

Hiervandaan is ons terug na Opstal waar Stanley en Ria se seun, Attie, die wynmaker, ons ingewag het. Aangesien my tong die vorige aand reeds deur Opstal se wyne bederf is, het ek geweet wat op my wag. Maar ek het nie gekla nie!

Nes Ivy loop Attie oor van die vallei se vriendelikheid en gasvryheid, en mens voel sommer met die ontmoetslag tuis in hul geselskap. En ek reken dis ook een van die redes dat mens die vallei se wyne so geniet! En nes by Jason’s Hill bied die wyne uitstekende waarde vir geld, van die Sauvignon Blanc/Semillon-versnit van R35 per bottel tot die Syrah/Viognier vir net R50. Oukei, daar’s ‘n 2011- Cabernet Sauvignon wat R75 kos, maar daar’s ’n baie goeie rede hoekom ouer wyne duurder is. En as jy ’n soet tand soos ek en vroulief het, sal jy om die dood nie verby Opstal se Hanepoot en Chardonnay Barrel Dessert stap nie.

BO: Opstal se kelder/proelokaal/restaurant-kompleks bied nie net puik kos en wyn nie, maar ook asemrowende uitsigte oor die vallei en die Slanghoekberge. Die pad wat soos 'n slang regdeur die vallei kronkel, is in die voorgrond.

En nes elke ander plaas in hierdie pragtige vallei het Opstal ook ’n lekker storie te vertel. Daar word vertel dat Carel Willem Pieter Everson die oorspronklike plaas van 500 morg (destyds was daar nie hektare nie!) op ’n veiling gekoop het in die middel van die vorige eeu nadat hy glo met sy dogter Ansie en haar man Attie (gebore Adriaan Jacobus Louw) gesels het. Die plaas was verwaarloos en Everson het nie kans gesien om op sy ouderdom so ’n groot projek aan te pak nie. Ansie was boekhouer by ’n landboukoöperasie en Attie ’n oud-soldaat, en albei het onmiddellik ingestem.

Maar kom ek vertel gou die storie van die veiling self. Oupa Carl (vir diegene wat dit nog nie uitgewerk het nie, hy’s Stanley se oupa en Attie se oupagrootjie, en Adriaan Jacobus Louw is Stanley se pa en Attie se oupa) het glo met die afslaer gereël dat solank hy wat Everson is sy sleutels om sy vinger staan en draai, hy bie! Almal by die veiling het glo verwonderd gestaan en rond kyk op soek na die persoon wat so ongesiens aanhou bie het op die “verwaarloosde stuk wildernis” met sy vervalle geboue, wat toe uiteindelik aan Everson toegeken is vir die bedrag van £18 000.

LINKS: En dis wat in Opstal se restaurant op jou wag. Hoef ek meer te vertel!

Vandag maak Everson se agter-kleinseun Attie die wyn op Opstal, en ek reken Oupa Everson sou baie trots gewees het. En Opstal het onlangs ’n baie spesiale wyn bekend gestel ter ere van Oupa Everson, ’n lig gehoute chenin blanc wat jou smaakkliere betower.

Vir meer inligting oor die Opstal-wynlandgoed en sy restaurant, skakel 023-344-3001, rig eposse aan wine@opstal.co.za of restaurant@opstal.co.za, of besoek www.opstal.co.za.

In die lig van al die lekker kos en wyn wat tot op daardie stadium verorber is, het ons twee besluit om terug te keer na ons verblyf en ’n lekker ent te gaan stap. Wat kan ek sê, “the battle of the bulge” raak moeiliker namate mens ouer word!

Saterdagoggend het ons weer eens die goue môrestond begroet met stomende koffie in die hand, en na brekvis het ons koers gekies na Slanghoek-kelder net duskant Jasonsfontein waar ons ’n “blend & bottle”-sessie sou meemaak, gevolg deur ’n privaat wynproe met dié kelder se keldermeester en bestuurder.

Maar eers gou ietsie oor Slanghoek-kelder. Op hul brosjure word die vallei saamgevat as ’n “simfonie van berge, legendes en wingerde”, en ek reken al probeer ek hoe hard, sal ek dit nie beter kan stel nie! En hul wyne sal sowel jou smaak as jou sak soos ’n handskoen pas. Die pryse wissel van R27 vir die tongstrelende Vinay-reeks tot R45 vir Slanghoek se verruklike Cape Ruby en Rooi Muskadel.

BO: Die groepie besoekers uit Mpumalanga wat die "blend & bottle"-sessie by Slanghoek-kelder gate uit geniet het. Agter staan die twee wynmakers wat ons touwys gemaak het.

Maar terug na daai versny- en bottelsessie. Ons het by ’n groep besoekers uit Mpumalanga en twee Engelse paartjies van iewers vreemd aangesluit, en nadat een van die kelder se wynmakers ons aan sy lippe laat hang het met interessante stories en inligting, eers oor die wynmaakproses en toe oor die versnyproses, het ons aan die “werk” gespring. Elkeen het drie bottels rooiwyn gekry, ’n pinotage, ’n shiraz en ’n cabernet sauvignon, al drie uit die 2011-oesjaar, asook die nodige toerusting om die versnyding te doen. En natuurlik potlood en papier om neer te skryf watter komponente gebruik word en hoeveel van elkeen.

Aanvanklik sou vroulief, wat eintlik net so dan en wan haar lippe sit aan sjampanje, port en muskadel, nie deelneem nie, maar die opwinding van jou eie wyn versny en iets besonders skep, het haar gou aangesteek en toe ek my oë uitvee, was sy harder aan’t versny as ek! Toe almal tevrede is met hul versnitte, is ’n bottel van elke versnit gebottelleer, geprop en ge-etiketteer, en elke “nuwe wynmaker” is trots daar weg met sy/haar skepping. Vroulief het sommer twee van haar versnitte laat bottel, miskien om bietjie my neus daarin te vryf, reken ek!!!

Hierna het ek en Pieter Carstens in ’n privaat vertrek byna die hele reeks wyne uit Slanghoek se kelder geproe. Daar was min te kies en te keur, maar hul 2013- Chenin Blanc, 2011- Camerca (’n versnit van cabernet sauvignon en merlot) en 2010- Merlot kan ek nog goed onthou, snaaks genoeg, en natuurlik al die dessertwyne. Ek het maar ’n swakte vir ’n wellustige soete!

Vir meer inligting en enige navrae, skakel 023-344-3026, stuur ’n epos aan info@slanghoek.co.za of besoek www.slanghoek.co.za.

BO: Die Slanghoekvallei in al sy glorie. As jy dit nog nie self gesien en ervaar het nie, weet jy nie wat jy mis nie. Doen jouself dus 'n GROOT guns en gaan kuier daar.

Omdat middagete op hande was, en ons daai aand weer die gasbraaier sou nader sleep, het ons gaan soek na ietsie ligs om te kou. Iemand by Slanghoek-kelder het gepraat van PicardiPlace nader aan Rawsonville, maar steeds op die Slanghoekpad, en ons het die pad gevat om die nuwe plekkie te vind. Daar aangekom, het ons onder die bome op die groot grasperk voor die huis gaan stelling inneem by ’n tafel en elkeen ’n lekker vetkoek bestel, myne vergesel van ’n glas wyn uit die vallei natuurlik.

Ons het so bietjie varkoor gegooi en sodoende uitgevind dat hierdie stukkie paradys onder meer wegbreeknaweke en kooknaweke aanbied. Die Italiaanse kookklasse het my belangstelling geprikkel en ek en vroulief het net daar onderneem om die volgende een by te woon. Vir meer inligting, kontak Jaco by 082 788 9010 of jaco@picardiplace.co.ca, of besoek www.picardiplace.co.za.

Daardie middag het ons die bergoord besoek vir ’n potjie mini-gholf pleks van die waterval-staproete aanpak soos wat voorgestel is. Ons sou die volgende oggend, ons laaste in hierdie stukkie paradys, ‘n lekker ver ent gaan stap voor ons “avondmaal” by Opstal. Dit was Moedersdag en die Louws het ons uitgenooi om dit in hul bekende eetplek te kom vier, en mens kyk nooit ’n gegewe perd in die bek nie!

Maar terug na die Slanghoek-bergoord. As jy tot bo-op die koppie agter die oord stap, wat jou so 20 minute behoort te neem, het jy asemrowende en panoramiese uitsigte op die vallei en die majestieuse berge wat hom in hul arms omhels. Ek het dit tydens ’n vorige besoek aan die vallei, toe ons in die bergoord self oorgebly het, gedoen. Maar hierdie keer het ons ge- putt-putt op ’n 18-putjiebaan met sy eie, unieke uitdagings. Die verloorder sou daardie aand skottelgoed was! Yeah, right, soos die Yanks dit sal stel. Kiepie het natuurlik, soos gewoonlik, vleis gebraai EN skottelgoed gewas! ’n Man doen mos maar hierdie gunsies vir die liefde van jou lewe, of wat praat ek alles!

Nou ja, die laaste dag het daardie Sondagoggend soos die voriges aangebreek, met die son wat stadig oor die horison aangekruip kom en net die geluide van die vallei om mens geselskap te hou. En ons twee met stomende bekers koffie in die hand en heerlike plaasbeskuit as brekvis op die houtdek. Ai, hoekom al die goeie dinge in die lewe tot ’n einde moet kom, aldus die ou spreekwoord.

REGS: En so het ons die Moedersdagete en die naweek afgesluit, met iets dekadents uit Opstal se kelder en kombuis!

Opstal se kos is nes hul wyn, eerlik en heerlik, en na ’n watertand- Moedersdagete het ons twee baie langtand die pad terug huistoe gevat. Maar die Slanghoekvallei sal ons beslis weer sien. Wel, ek het nie eintlik ’n keuse nie, ek het vir Stanley beloof ek gaan hom kom leer vleisbraai!!! Nie dat hy enige lesse nodig het nie. Dis eintlik maar net ’n verskoning om weer daar te gaan gesig wys.

EINDE