Wyn, kos en mense – dis Planeet Wyn

Planeet Wyn is ‘n virtuele wyngemeenskap waar wynliefhebbers van regoor die wêreld kan kom kuier en saam gesels oor ‘n verskeidenheid onderwerpe rondom die nektar van die gode. Planeet Wyn het aanvanklik as suiwer Afrikaanse wynwebblad begin, maar later is besluit om van tyd tot tyd ook Engelse artikels in te sluit. Handelsoorwegings en druk van lesers om eerder tweetalig te wees, het ons laat besluit om die tweetalige roete van 2012 af te volg.

Lees die jongste Nuus uit die wynlande en kom Reis saam deur die mooiste dele van ons pragtige wynlande in verskillende Wiele. Eet ook saam met ons by Restaurante op wynplase en by kelders, en lees oor die verskillende Akkommodasie op wynplase. Kyk waarop ons gereeld Fokus, hou ons Dagboek dop vir wynverwante verrigtinge, lees die Menings van verskillende mense in die wynbedryf en kwyl saam oor Kos & Wyn. En ten slotte, stuur gerus jou lekker wynfoto’s aan ons Fotogalery

Maar genoeg van Planeet Wyn/Planet Wine. Die twee manne verantwoordelik vir dit alles is Johann Crafford en Arno Esterhuizen, albei groot wynliefhebbers.

Johann se beroepsloopbaan het in die joernalistiek begin toe hy na universiteit (die een op Stellenbosh natuurlik!) by die ou SAUK (in Kaapstad)aangesluit het waar hy onder meer oor die politiek en sport verslag gedoen het. Hy is na sowat agt jaar na Die Burger waar hy in 1980 die weeklikse motorrubriek, Padlangs, begin het.

Na nog sowat agt jaar het hy sy goedjies gepak en Johannesburg toe verskuif om hom op media en kommunikasie toe te spits. Hier het hy byna 12 jaar lank lank sy eie media- en kommunikasie-onderneming bedryf met nasionale sowel as multi-nasionale klante voordat onder meer die verlange na sy geboortewêreld hom terug gelok het Kaap toe. Tussenin het hy ook 'n diploma in bemarking en bemarkingsnavorsing aan UNISA gevolg.

'n Paar jaar nadat ons van die vorige millennium afskeid geneem het, het Johann en Bacchus mekaar ontmoet tydens ‘n toerismekursus en sedertdien het hulle goeie pêlle geword. Dik pêlle, om die waarheid te sê.

Benewens ‘n vryskutjoernalis met ‘n passie vir wyn, kos, reis, motors en die buitelewe (nie noodwendig in daai volgorde nie!), is Johann ook ‘n skrywer (‘n paar kortverhale van hom het al die lig gesien). Hy bied ook 'n professionele en koste-doeltreffende reklamediens vir die wyn-, toerisme- en motorbedrywe aan (persvrystellings, artikels, rubrieke, ens.), asook 'n professionele vertaaldiens, en behartig ook nuusbriewe in albei tale. 

Arno

Arno het Johann toevallig ontmoet toe laasgenoemde nog 'n maandelikse wynrubriek in 'n Afrikaanstalige dagblad gehad het (Arno en sy vrou was lesers van Buite met Bacchus), asook op 'n bekende Afrikaanse kulturele webblad. Toe laasgenoemde gestaak is, het Johann vir Arno genader oor die moontlikheid van 'n onafhanklike wynwebblad. En so het Planeet Wyn ontstaan.

Arno is ‘n IT-spesialis en doenig in die enjinkamer van Planeet Wyn/Planet Wine. Hy sorg dat Planeet Wyn/Planet Wine op hoogte bly van ontwikkelinge en verwikkelinge in die kuberruimte, en het so op sy eie die webblad ontwerp en gebou.

Einde