Robertson-wynvallei bied ietsie van als, vir ’n ieder en ‘n elk

Die pragtige Robertson-vallei is soos 'n oase in die Klein Karoo se voortuin.

Suid-Afrikaners is baie gelukkig en bevoorreg! Gaan loer gerus in by die wynstreke van Frankryk en Italië, of selfs Australië en Nieu-Seeland, en jy sal vind dat die fasiliteite vir besoekers wat by ons wynkelders aangebied word met die beste vergelyk wat daardie lande bied, en dikwels beter is, veel beter.

 

Dit bring my by een van die bekendste wynstreke in die Kaap, ’n streek wat jou letterlik ietsie van alles bied. En hy lê nie eers in die Boland nie! Nee, hy is letterlik op die Klein Karoo se voorstoep.

 

Die Robertson-wynvallei het geen bekendstelling nodig nie. Daarvoor sorg vier gewilde wynfeeste en ons almal se “four cousins”!

 

ONDER: Met die rivier wat soos 'n slag deur die vallei kronkel, is daar natuurlike vele wateraktiwiteite wat moontlik is.

 

Ons jongste besoek aan hierdie natuurskone vallei met sy wingerde en vrugteboorde waardeur die Breërivier soos ’n slang kronkel, het by Excelsior van die De Wet-familie afgeskop. Oukei, nou moet ek eers gou vinnig verduidelik; dis die De Wets van Excelsior, Freddie en sy seuns Peter en Jacques!

 

Sien, as jy aan die bopunt van die vallei kliphard die naam De Wet uitbasuin, sal sommer ’n hele paar wynplase se deure oopvlieg met sommer ’n hele paar De Wets wat verward en met groot vraagtekens in die oog die lug in staar op soek na die oorsprong van daai lawaai. Mens kan amper sê die vallei is die tuiste van die De Wets.

 

Hoe dit ook al sy, ons eerste verblyf was die “verepaleis” op Excelsior, die ou herehuis wat in ’n pragtige gastehuis omgeskep is wat jou aan toeka se dae herrinner, toe ’n heer nog ’n heer was en ’n dame nooit self ’n deur oopgemaak of ’n stoel uitgetrek het nie. ’n Berig oor ons heerlike verblyf hier verskyn op Planeet Wyn se Akkomodasie-blad.

 

Die geskiedenis van Excelsior klink amper soos ’n sepie! In 1859 het Koos de Wet en sy broer se verloofde weggehol na Robertson vanaf die familieplaas by Worcester. Hy’t nie ’n pennie op hom gehad nie en hulle twee is toe na sy ma se broer, ene mnr. Marais, van die plaas Klipdrift. Ja, dis glo dieselfde Marais wat die skuld moet kry vir Klippies en Coke ... wel, vir die Klippies-gedeelte in elk geval want hy het die bekende Klipdrift-handelsmerk begin!

 

 

BO: Links is die "verepaleis", in die middel die proelokaal op die damwal en regs die kelder.

 

Mnr. Marais, Koos se oom, leen hom toe geld om die plaas Zandvliet naby Ashton te koop. Koos het uiteindelik die plaas in drie gedeel en elkeen van sy seuns een derde gegee. Die derde seun, Kowie, het die westelike derde gekry en dit Excelsior gedoop. En vandag is dit Freddie, Kowie se kleinseun, en sy twee seuns wat hier die septer swaai.

 

Excelsior is ’n groot plaas met meer as 200 hektaar onder wingerd (hoofsaaklik cabernet sauvignon, shiraz, merlot, petit verdot, sauvignon blanc en chardonnay) en vrugteboorde, en hier is derhalwe meer as genoeg grondpaaie vir stap en bergfietsry. En as jy nie jou eie ysterperd het nie, Excelsior het twee wat besoekers kan leen. Dan kan jy ook hier visvang, voëls dophou en piekniek hou.

 

Maar terug na wyn! Ons het vinnig afgepak en by die gastehuis inbespreek, en is toe onmiddellik vort na die proelokaal daarnaby wat op die wal van ‘n dam gebou is, en op die houtdek wat oor die water uitkyk, het ek en Peter de Wet gesels en geproe, twee van Excelsior se wittes en drie rooies. Met pryse wat wissel van ’n skugter R31 tot ’n skamele R45 is daar eintlik geen verskoning dat ’n paar Excelsior-wyne nie in elkeen se versameling pronk nie. En hier’s selfs ’n rooi muskadel vir diegene wat ’n heerlike soete kan waardeer.

 

O ja, en die kersie op die koek? Wel, jy kan jou eie wyn hier versny en botteleer, en dan met jou eie etiket daarop gaan spog by almal wat leef en beef dat jy nou ook ’n wynmaker is!

 

REGS: Jors troelie en Peter de Wet aan't proe aan Excelsior se heerlike wyne. Dis maar 'n tawwe djob!

 

Vir meer inligting, skakel 023-615-2050 of besoek www.excelsior.co.za.

 

Na ’n heerlike brekvis langs die swembad en ’n kilojoule-vretende stap deur die wingerde en vrugteboorde het ons die pad Viljoensdrift toe gevat, skaars ’n klipgooi of twee verder en teenaan die Breërivier. Hier sou ons die boot vang en rustig in die stadig vloeiende rivier op en af vaar, maar eers moes daar weer wyn geproe en ’n piekniekmandjie gekies word.

 

Viljoensdrift is die tuiste van die Viljoens (wie dan anders!) en kan sy wynmaakgeskiedenis so ver terug vat as 1818 toe die Viljoens se Hugenote-voorvaders die eerste wingerde hier aangeplant het. Vandag sit die broers Fred en Manie hierdie tradisie voort, Manie in die wingerd en Fred in die kelder, maar so saam-saam maak hulle wyn wat jou smaakkliere betower.

 

Ons het ons monde “versier” met Viljoensdrift se Villion MCC waarna ek die Chardonnay, Cape Blend, Merlot en Anchor Drift Dry White onder hande geneem het. Laasgenoemde het my watertand-piekniekmandjie op die rivierboot vergesel. En daai bootvaart (met die piekniekmandjie en wyn) is beslis die moeite werd en ons beveel dit gereeld aan vir plaaslike sowel as buitelandse vriende en familie wat dit tot dusver elke keer gate uit geniet het.

 

 

BO: Is daar 'n lekkerder manier om 'n piekniek te geniet?

 

Die bootvaart is so bietjie langer as ’n uur wat jou genoeg tyd gee om jou kos en wyn rustig te geniet terwyl jy die natuurskoon gade slaan. Om die waarheid te sê, jy sal verskoon word as jy seerower wil speel en die rivierboot kaap met die omdraaislag!

 

Vir meer inligting, skakel 023-615-1901 of besoek www.viljoensdrift.co.za. Jy kan ook ’n epos stuur aan wines@viljoensdrift.co.za.

 

Aangesien dit ’n lekker lang dag was met baie ervarings het ons besluit om na ons volgende oornagbestemming te vertrek, Fraai Uitzicht 1798 in die Klaas Voogds-vallei aan die voet van die Langeberge. Fraai Uitzicht is een van daai plekke wat jy minstens een keer in jou lewe móét ervaar want dis die soort ervaring wat tot mooi herrinneringe lei ... en ons sal beslis altyd die mooiste herrinneringe van ons kort tydjie by Karl en Sandra hê.

 

 

BO: Fraai Uitzicht bied puik akkommodasie in 'n lowergroen, natuurskone en rustige omgewing.

 

Fraai Uitzicht is een van die oudste plase in hierdie omgewing en dateer uit die 1740s. Die plaashuis en kelder self kom uit 1798. Die plaas was vir byna 200 jaar as Boplaas bekend, maar aangesien daar so baie plase met hierdie naam was, is dit Fraai Uitzicht 1798 herdoop. Hierdie wyn- en vrugteplaas beslaan 175 hektaar, waarvan net 15 hektaar onder kultivars soos merlot, shiraz, viognier, grenache, mourvèdre en touriga nacional is. En as jy die kelder sien, besef jy dat Fraai Uitzicht ’n boetiekkelder is in die volle sin van die woord. Verder is daar appelkose, perskes en olyfbome.

 

Karl en Sandra Uwe, albei beleggingsbankiers uit Duitsland, het na die draai van die eeu ’n tuiste hier geskep wat uit ’n ongelooflike kuierplek bestaan waar wyn, kos en verblyf uit die boonste rakke saamkom om jou mees dekadente en hedonistiese verwagtinge te oorskry. Terwyl Karl sy toorwerk in die kelder doen, sorg Sandra vir dieselfde betowering in die restaurant en met die verblyf.

 

Gaan loer gerus op ons Fokus-blad vir ’n volledige artikel oor Fraai Uitzicht 1798 en op die Akkommodasie-blad vir ’n artikel oor die verblyf en restaurant op die plaas.

 

LINKS: In die intieme, geskiedkundige keldertjie maak Karl wyn wat die tonge laat gons.

 

Vir meer inligting, skakel 023-626-6156, stuur ’n epos aan info@fraaiuitzicht.com of besoek www.fraaiuitzicht.com.

 

Aangesien dit ’n langnaweek was, kon ons meer as normaalweg inpas van hierdie vallei se vele aanbiedings en kort na nog ’n heerlike ontbyt, hierdie keer op die stoep van Fraai Uitzicht se restaurant (waar ons die vorige aand ’n ete geniet het wat vyf sterre verdien!), het ons die pad gevat na een van die vallei se bekendste wynplase en die tuiste van almal se “vier neefs”, Van Loveren.

 

Van Loveren het nou miskien nie die lang geskiedenis van ander wynplase in die omgewing nie, maar goeie wyn en ewe goeie bemarking het daartoe gelei dat hierdie landgoed een van die bekendste in die Robertson-wynvallei is. En met ’n dinamiese jong vrou soos Bonita Malherbe aan die bemarkingsroer ...

 

 

BO: Die indrukwekkende proelokaal en deli (agter) met die houtdek waar mens onder die bome Van Loveren se wyne kan geniet.

 

Die einste Bonita het ons buite die indrukwekkende proelokaal en delikatessen op die houtdek onder die bome “onthaal” met Van Loveren se kelderskatte, en terwyl ek en vroulief twee van Van Loveren se agt verskillende kos-en-wynparings geniet het (jip, Van Loveren het agt, insluitende ’n nie-alkoholiese paring en selfs een vir die kleingoed!) het sy ons meer van die landgoed vertel.

 

Van Loveren is reeds sedert 1937 in die besit van die Retief-familie. In daardie jaar het Hennie Retief snr die stuk grond, oorspronklik deel van die plaas Goudmyn, weerskante van die Breërivier aangeskaf. Die plaas is later onderverdeel en Hennie het op die stuk bekend as Goudmyn F begin boer. Hennie se vrou Jean het egter nie van die naam gehou nie en gevoel die F staan vir “fools” en “failures” en hom oortuig om die naam te verander. Vir ’n rukkie het hulle oorweeg om dit Roche Rouge te noem na die indrukwekkende rooi rif van die Elandsberg in die agtergrond, maar Jean het uiteindelik haar sin gekry en haar man oorreed om die plaas na haar voorouer, Christina van Loveren, te vernoem.

 

Hennie snr het sy eerste wyn in 1939 gemaak, ’n rooi muskadel, en later het sy seuns, Nico en Wynand, by hom aangesluit. Meer wingerd is aangeplant en die oorspronklike kelder is in 1963 gebou. Die eerste wyn onder die Van Loveren-handelsmerk is in 1980 gemaak, 500 kiste Premium Grand Cru.

 

REGS: Dit lyk so goed want dit smaak so goed!

 

Vanaf die middel van die negentigerjare het Nico en Wynand se vier seuns na hul studies by Van Loveren aangesluit en vandag word die onderneming deur die vier neefs bedryf. Hennie en Neil is die wingerdboukundiges, Bussell die wynmaker en Philip sien om na die besigheidskant van die onderneming.

 

Vandag bestaan die Van Loveren-onderneming uit 7 plase, naamlik Van Loveren, Spes Bona, Welgeluk, Keerweder, Schoemanshoek, Goedemoed, Wolvendrift en Jacobsdal. Daar is sowat 336 hektaar onder wingerd en 18 verskillende wyndruifsoorte is aangeplant. Sowat 55% van die wingerde is rooiwyndruiwe en die res wit.

 

Wynliefhebbers kan uit vyf verskillende handelsmerke kies, naamlik Christina van Loveren, Van Loveren, Papillon, Five’s Reserve en Four Cousins, en die keuse word verder vergroot deurdat Van Loveren wyn aanbied wat wissel van alledaagse drinkgenot tot bekroonde kelderskatte.

 

Maar kyk gerus verby die indrukwekkende kelder, die moderne proelokaal met sy delikatessen en die uitlokkende houtdek in die skadu van die groot bome en sien die pragtige tuin raak wat Jean Retief se erflating is – ’n tuin met meer stories en legendes as die meeste mense – en die gemaklike bistro, Christina’s, waar jy ’n heerlike maaltyd met Van Loveren se wyn kan geniet.

 

Maar nog is dit het einde niet! Die Visarend-staproete van 7,5 km begin by die kelder en sluit die Elandsberg in. En dan’s daar ook twee bergfietsroetes van 5,7 en 15 km onderskeidelik, asook kelder- en tuintoere.

 

LINKS: Vat gerus jou ysterperd saam Robertson toe.

 

Nadat ons ’n deursnit van Van Loveren se heerlike wyne gepoe het, het ons deur die pragtige tuin gestap tot by Christina’s waar ons ’n ligte middagete geniet het … gepaar met ’n bottel Papillon Brut! En danksy Bonita is ons daar weg met ’n paar bottels witwyn (van die minder bekende en/of minder kommersiële kultivars wat ek deesdae net soveel geniet as die bekende wittes) uit Van Loveren se kelder, soos hul Blanc de Blanc, Cape Riesling, Pinot Grigio, Cramond (’n versnit van sauvignon blanc en chardonnay) en Colombar. La dolce vita!

 

As jy meer van Van Loveren en al sy aanbiedings wil weet, skakel 023-615-1505, stuur ’n epos aan info@vanloveren.co.za of besoek www.vanloveren.co.za.

 

Ons laaste aand in hierdie lekker vallei sou ons op Robertson self deurbring. Ons het in die The Lemon Tree-gastehuis oorgebly, maar darem eers die aand by Passio-restaurant in Voortrekkerstraat aangeklop vir ete, en was ons aangenaam verras! Anne en Marius was nie net puik gasvrou en –heer nie, maar die lekker knus atmosfeer in die eetplek het die kos sommer ekstra lekker laat smaak. Gaan loer gerus daar in. Hulle kan gekontak word by 023-626-2111 of info@passio.co.za.

 

Alle goeie dinge kom mos tot ’n einde – ongelukkig – en die langnaweek het einde se kant toe gestaan, maar eers moes ons darem nog een besoek inpas.

 

Nerina-gasteplaas buite Robertson (aan Worcester se kant) is nie nuut vir my nie. Ek het reeds een keer tevore op die Kolgans-rivierboot uitgevaar – met ’n handvol jong wynmakers uit die streek vir ’n artikel – en dit gate uit geniet, maar vroulief het nog nie hierdie soort plattelandse gasvryheid en pure lekker ervaar nie en ek moes haar net gaan bekend stel aan Frans en Amanda Conradie.

 

Voordat ons egter op die Kolgans die Breërivier kon aanpak en ons ons aan Amanda se kontreikos kon verlustig - saam met ander mense wat in die gastehuis gebly het – is daar eers perd opgesaal en so ’n uur lank die omgewing plat gery. Die Conradies se dogter Reneé is die “horse whisperer” en sy’t die voortou geneem vir die groepie “cowboys” en “cowgirls”!

 

REGS: Ry sit-sit-so, en dan rivier toe vir die Kolgans!

 

Terug op die plaas is ons toe af rivier toe waar Frans en die Kolgans op ons gewag het. Weer het ons rustig op die rivier gevaar, verby tente en woonwaens waar vleisbraaivure heerlik geknetter het, en ons elkeen met ‘n lekker wyntjie in die hand. Kort voor lank is die verskillende disse op die lang tafel geplaas en het ons weggeval in Amanda se skeppings. Alles maak sy self en sy gebruik net wat plaaslik beskikbaar is – dis nou kontreikos!

 

Met die terugvaarslag het Frans anker gegooi en die dapperes onder ons kans gegee om in die rivier te spring/duik en bietjie te swem. Maar die son was reeds ver verby sy hoogtepunt en die pad terug huistoe het op ons almal gewag.

 

Nerina bied ’n groot verskeidenheid verblyf aan, van die hoofhuis, rondawel en kamers met bed en ontbyt tot die somerboskamp se vyf semi-permanente eenhede teenaan die rivier. En dan’s daar natuurlik ook die perderitte en die bootvaart.

 

 

BO: En so het ons langnaweek tot 'n einde gekom, maar ons sal beslis terug gaan want Robertson het nog nie die laaste van ons gesien nie!

En vir diegene wat daarvan hou om iets nuuts te probeer, Burcon Wines @ Nerina Guest Farm bied drie prettige wyne aan, Kinteltjiesus, Oompie se Oeps en Miskien Christine. Vra gerus vir die storie agter elkeen!

 

Vir meer inligting, skakel 023-626-2012, stuur ’n epos aan info@nerinaguestfarm.co.za of besoek www.nerinaguestfarm.co.za.

 

Net so van die os op die jas, alles in hierdie pragtige vallei is binne ’n halfuur se ry van mekaar af wat dit die ideale bestemming maak vir ‘n naweekwegbreek of selfs ’n luilekker-vakansie. En hier is sommer baie om te doen en te ervaar. Gaan kyk maar net op www.robertsonwinevalley.com.

 

Hieronder is ’n paar blink idees wat Bonita Malherbe, van Van Loveren, vir ons gegee het. Dis op ons lysies vir die volgende besoeke! O ja, Robertson sal ons beslis weer sien, en weer ...

 

·         Farmer Redbeard (Ashton) - http://www.farmerredbeard.co.za/  - Bee Keeping, Hands-on-Farming, etc

·         Eseltjiesrus Donkey Sanctuary (McGregor) - http://www.donkeysanctuary.co.za/

·         Rock Climbing (Montagu) - http://www.montaguclimbing.com/

·         Leopard Trail (Bonnievale) – http://www.leopardtrail.co.za/ - uitstappie na waterval – “guided” - , ook “guided” 4x4-roete met baie interessante inligting oor streek/natuur wat op beide vertel word

·         Droëvrugtetoer (Montagu) –  http://www.montagu.org.za/what-to-do/montagu-dried-fruit-route/

·         Montagu Tractor Trips (is al van die 1970s aan die gang en steeds een van die gewildste aktiwiteite!) - http://www.proteafarm.co.za/

·         Dharma Centre, Robertson  (iets ongewoon – die “‘main contempary zen centre in Africa” - http://www.dharmacentre.org.za/ (word deur 2 ongelooflike mense bedryf, Heila & Rodney Downey. Rodney was hoof van ‘n groot “corporate” en het van als weggestap om dit te kom doen).  Soos gesê, iets heeltemal ongewoon en baie min mense weet dit is hier in Robertson.

·         Saggy Stone Brewery – Robertson, naby Rooiberg Kelder (http://www.saggystone.co.za/) – baie oulike mense!

·         Rafting Route 62 – Robertson - http://www.raftingroute62.co.za/ - roei op Breërivier – so mak as wat dit kan kom, en doodveilig met klein kinders – het verlede jaar met my span gedoen en hul wil net weer gaan! 

 

EINDE