Balance Bistro bied ligte maaltye en heerlike wyne in ontspanne omgewing

Overhex se Balance Bistro van buite gesien.

Om oor wyn en motors te kan skryf, is ’n besonderse voorreg. Ek meen, die wynskrywery bring my in kontak met ons land se wonderlike wyne wat ek dan gereeld saam met kos geniet wat baie mense nooit eers die voorreg sal hê om te proe nie, terwyl my soeke na nuwe wyne en wynprodusente my nie net na die mooiste dele van ons land vat nie, maar ook na die gaafste wynmense, en dit alles terwyl ek die voorreg het om nuwe moutirkarre te toetsbestuur. Dis nou la dolce vita, soos die Italianers sê, overgeset synde, die lekker lewe!

Op my my vele reistogte op soek na nuwe wyne anderkant Worcester – dis nou in die Worcester-, Robertson- en Klein Karoo-wynstreke – het ek gereeld by Overhex-kelder skuins anderkant Woester (!) verby gery. Dis nou die tuiste van Balance-wyne, daai wyne met die olifant op die etiket wat so ’n fyn balanseertoertjie op die “l” van Balance uitvoer.

Nou, die mense by Overhex vertel graag dat die geheim van die lewe lê in balans, en ek stem natuurlik 100% saam. Dan voeg hulle vinnig by dat die lewe se wipplankryery mens dwing om te balanseer en dis glo hoekom daar altyd Balance is om mens se “gelukkige ekwilibrium” te herstel. Ook g’n wonder ek raak paniekerig as my ou keldertjie (overgeset synde wynversameling) sy “gelukkige ekwilibrium” verloor nie (overgeset synde, die Balance-wyne raak skaars!).

ONDER REGS: Die wyntjie het reeds in die bottel begin sak en die kos het aangekom, en ons twee kuier lekker rustig!

Maar terug na die lekker eetplek by Overhex, Balance Bistro. Op ons jongste besoek aan die Worcester-wynroete het ek en vroulief besluit om vir middagete by Overhex te stop. Dit was ’n Saterdagmiddag en die speelpark op die grasperk voor die kelder was vol kleingoed (nie my gunsteling-spesie nie!) terwyl die grootmense rustig onder sambrele gesit en kuier het. Om die kleingoed te vermy, het ons besluit om binne te gaan sit. Die proelokaal is reg langsaan en ek het sommer gou gaan proe om ’n wyntjie vir die ete te kies. Ek het op hul sauvignon blanc/semillon-versnit besluit.

Omdat dit egter so ’n pragtige somersdag was, wou vroulief buite gaan sit en ons twee het toe ’n tafel onder die afdak gekies, ver genoeg van die klein irritasies af. Ons het die eenvoudige spyskaart bestudeer en toe besluit op hulle “Crispy Chicken Wrap” wat uit sappige en bros hoenderborsies, soet groenrissie, pynappel, roomkaas en soet brandrissiesous bestaan. Dit word met bros aartappelwiggies en ’n mayonnaise-doopsous bedien. Dit kos R65.

ONDER: Die kos het toe so lekker gelyk dat ek sommer 'n hap gevat het nog voordat die foto geneem kon word! En dit het selfs lekkerder gesmaak!

Saam met die wyntjie, die pragtige geselskap en die rustige omgewing het die gereg behoorlik ’n glimlag op my gesig gesit. Vroulief was net so ingenome, hoewel sy hare met ’n koeldrank geniet het.

Vroulief het teen nagereg besluit en koffie bestel, maar ek het maar altyd ’n soet tand gehad en die roomys met sjokoladesous het alte lekker geklink. En die lekkerte het nie by klank gebly nie! Drie skeppe roomys versmoor deur warm sjokoladesous en ek was in die sewende hemel! Die nagereg het R30 gekos en die koffie R16.

O ja, vroulief se koeldrank was R10 per 330ml-blikkie en my Balance Best Blend R32. Wyne uit Overhex se Blance Best Blend, Balance Winemaker’s Selection, Balance Buddy, Balance Bubbly en Soulo is ook op die spyskaart, asook wyne van Haven Point en Walker Bay, en jy sal dus nie dors ly nie. Wyn  word ook per glas aangebied, en daar is ook brandewyn en bier te koop.

Aangesien ons nie haastig was nie, was die diens, wat by tye effe stadig was, nie juis ’n probleem nie.

REGS: Dit LYK so lekker want dit IS so lekker!

Balance Bistro bied ook ontbyt aan wat wissel tussen R45 en R55, terwyl die ligte middagetes enigiets van R45 (vir ’n Griekse slaai) tot R75 (vir ’n “Topless Pepper Sauce Burger” of “Marmalade and Cream Cheese Burger”) kos. Daar word ook voorsiening vir my gunsteling-spesie (!) gemaak en die pryse wissel van R25 tot R45.

Nou-ja, volgende keer as jy koers kies in daardie rigting, ruim gerus ’n tydjie in vir Balance Bistro, of dit nou ontbyt of middagete is. Jy sal nie spyt wees nie.

Vir meer inligting, skakel 023-347-5012, stuur ’n epos aan functions@overhex.com of besoek www.overhex.com.

EINDE