G’n ‘bucket list’ is volledig sonder die Weskus en Namakwaland!

Doringbaai se hawe met Fryer's Cove se kelder links.

“Op die groot saaidag van die heelal

Het reeds ’n entjie duskant Wupperthal

Oor die kaal noordweste van die Heer

Se beste saad gelek, gelek en uitgeval.”

Wanneer ek aan die Kaapse Weskus en Namakwaland dink, kom hierdie gediggie van DJ Opperman altyd in my gedagtes op. Dit som vir my hierdie kosbare gedeelte van ons land so pragtig op ... en net die gelukkiges wat die Weskus en Namakwaland al in hul siel en weefsels ervaar het, sal dit verstaan.

Mense raak liries oor die Tuinroete, en met rede, maar wanneer daar van die Weskus en Namakwaland gepraat word, is daar dikwels nie dieselfde entoesiasme nie. O ja, die blomme en die vetplante maak mense opgewonde, maar dis ook omtrent al. En dit wys jou hoe bedrieglik hierdie deel van ons pragtige land is: hy het soveel juwele, baie versteek reg onder mens se neus, dat jy nooit alles met een besoek kan ervaar nie.

Diegene wat hierdie landskap egter ken, voel nes daai mense wat liedere oor die Tuinroete se natuurskoon sing want hulle weet waaruit hierdie landskap werklik bestaan. Hulle ken sy eiesoortige natuurskoon, sy mense, sy geskiedenis, sy staaltjies. Jip, ook sy wyne en sy streekskos, waarvan kreef natuurlik die heel lekkerste is. En natuurlik alles wat hier gedoen kan word, van stap- en bergfietsroetes tot roei, bergklim en 4x4-avonture.

Dit laat my dink aan daai gesegde dat mense wat die natuurskoon langs ’n ompad kan waardeer, besonder geseënd en bevoorreg is. Ook aan wat die bekende Chinese filosoof Confucius gesê het, naamlik dat alles sy skoonheid het, maar dat nie almal dit raaksien nie.

Vir my het die Weskus en Namakwaland ’n baie spesiale plek in die hart en as ’n jaar verbygaan dat ek nie in daai geweste gaan inloer het nie, voel ek ’n gemis. ‘n GROOT gemis. Dis die plek en sy mense, dis sy kos en sy wyn, dis sy geskiedenis en sy staaltjies, dis ’n gevoel van tuiste wat jy moeilik vir ander mense kan beskryf. En ek’s nie eers daar gebore nie!

BO REGS EN ONDER LINKS: Jou Weskuskuier kan al by Lambertsbaai begin waar jy in die duine kan baljaar, of op 'n kwadbaaik of op 'n skaatsplank. Groot pret!

Ek het verlede jaar weer die voorreg gehad om daar te gaan kuier, op uitnodiging van die gawe en gasvrye mense van die Weskus-Namakwalandse toerisme-owerheid. En ek het gesorg dat ek die regte wiele het om my in staat te stel om elke dan en wan van die geteerde roete af te wyk en bietjie nader met die natuur te gaan kennis maak want dis die kuns van die Weskus en Namakwaland geniet en waardeer – hy pootjie jou nie met sy skoonheid nie, hy vra jy moet geduldig wees – avontuurlustig en ondersoekend - en jou oë en jou ore oopmaak en oophou, en sommer jou neus en mond ook. Dis nou vir die geure van streekskos en –wyne natuurlik!

Subaru se blinknuwe vuurvreter- Forester het my redelik vinnig langs die Weskus-pad op gevat tot by Elandsbaai waar ek briek getrap en rustig begin ry en die omgewing begin geniet en waardeer het. Naby Lambertsbaai is ek van die teerpad af en het ek die volle spektrum van die Forester se vermoëns op die proef gestel op die grondpad verby Muisbosskerm, deur Lambertsbaai, en toe links op die tolpad, ook grond, na Doringbaai. Weer eens kon ek volle uiting gee aan my behoefte en begeerte om laf te raak agter ’n moutirkar se stuur, en die Subaru Forester, ’n suksesvolle kruising tussen ’n Es-Joe-Wie en ’n sportsedan, het my heel gelate my gang laat gaan.

Doringbaai is ’n klein vissersgemeenskap tussen Lambertsbaai en Strandfontein. Hier woon maar sowat 2 000 mense. In die goeie ou dae toe die kreefbedryf gebloei het, het baie inwoners ’n lewe gemaak deur in die kreeffabriek in die hawe te werk, maar sedert die fabriek jare gelede toegemaak het, is daar groot werkloosheid op die dorpie. Maar waar daar ’n wil is, is daar mos ’n weg!

Vandag spog die ou hawe met ’n wynkelder (sekerlik die naaste aan die see ter wêreld aangesien die Atlantiese Oseaan se branders teen sy mure breek!) en ander projekte wat almal ’n besoek werd is. Die wynmakery is natuurlik die bekende en gewilde Fryer’s Cove, en dis hier waar ek vir Monika de Jager en Megan Gelandt van die Weskus-Namakwalandse toerisme-owerheid raak gedrink ... ekskuus, raak geloop het. Nadat ons van Fryer’s Cove se heerlike wyne geproe het (die effe-droë The Jetty Sauvignon Blanc 2012, die Bay to Bay en Bamboes Bay Sauvignon Blancs van die  2012-oesjaar, die Extreme Frontiers Sauvignon Blanc 2012 en die 2012- Pinot Noir), het ons een van daai lekker sauvignon blancs saam met seekos geniet (mens kan darem nie middagete skiep nie, veral nie as daar sulke lekker wyn en kos op die spyskaart is nie!), sommer daar in die proelokaal met sy pragtige uitsigte op die kaai en die aanstormende branders in die hawe.

Fryer’s Cove se wingerde is so na aan die see dat jy die Atlantiese Oseaan in veral daai vars, verfrissende wittes kan proe. Of so word ek vertel. Die wingerde is skaars 800 meter vanaf die kus en sowat 20 meter bokant seevlak, en die kelder en proelokaal is in ’n gedeelte van die ou kreeffabriek geleë. Nou wonder ek net so by myselwers wanneer mens bietjie kreef in een van daai sauvignon blancs sal kan proe!

BO EN ONDER REGS: Van die derduisende baba perlemoene wat in die fabriek groot gemaak word, en 'n paar van die vele interessante klipprodukte.

Nadat ek myself met groot moeite van daai kos en wyn weg geskeur het, het Ruben Saul, voorsitter van Doringbaai se Gemeenskapstrust, ons die ander projekte in die hawe gaan wys. Dit sluit ’n perlemoenplaas en ’n klippiefabriek in. En nee, hier word nie klippies gemaak nie, hier word ’n groot verskeidenheid teëls van klippies gemaak, en dieselfde klippies kan mens ook per sak koop en dan tuis byvoorbeeld by jou potplante voeg om dit selfs mooier te laat lyk.

Maar tyd wag mos vir g’n mens nie en daar was mense wat effens verder op teen die kus op my gewag het. Suzanne du Plessis en Pieter Owies was betrokke by die ontwikkeling van die ekotuin en die labirint by Strandfontein, en terwyl hulle dit vir my gewys het, het Pieter my ook sommer vertel van die stap- en bergfietsroetes langs hierdie deel van die Weskus. 

Die Wandering Whale Labyrinth bied dramatiese uitsigte op die see vanaf sy posisie hoog bo die water op ’n sandsteenkrans. Reg in die middel bevind jy jou omring deur ’n sirkel van rooskleurige kwarts, wat op sy beurt omring word deur ’n sirkel blou mosselskulpe. In die winter kan mens glo hiervandaan sien hoe die walvisse in die see baljaar.

Suzanne het die labirint gebou “omdat ons in so ’n gejaagde wêreld woon en omdat mense nodig het om nader aan die natuur te kom en stadiger te leef”.

Wat die stap- en bergfietsroetes betref, bied die area tussen die Berg- en Olifantsriviere glo puik geleenthede vir aanhangers van albei aktiwiteite. Pieter vertel dat die Kreefroete, wat oor vier dae strek, by Elandsbaai begin en verby Lambertsbaai strek en heuwels, riviere, vleilande, lang strande en sandduine insluit. Vanaf Lambertsbaai tot by Doringbaai is die kuslyn byna heeltemal onbewoon. Die volgende stop is by Papendorp, ’n rustige gehuggie met pragtige uitsigte op die vleilande en die mond van die Olifantsrivier. Hiervaandaan vat mens die pad binneland toe al langs die Olifantsrivier tot by die rustige boere- en vissersgemeenskap van Ebenhaeser, wat baie lank gelede as sendingstasie ontstaan het.

BO EN REGS: Dis mos genoeg om mens se voete te laat jeuk en jou avontuurlus aan te blaas. Dis die Kreefroete!

Benewens asemrowende uitsigte op die rowwe kuslyn en die see, bied hierdie roete ook die Weskus se unieke plantegroei en veldblomme, seevoëls, walvisse en dolfyne in seisoentyd.

Ons planne vir ’n bootvaart met ’n plaaslike visserman in die mond van die Olifantsrivier het ongelukkig skipbreuk gelei, deels omdat ons te lank gekuier het oor middagete met daai lekker sauvignon blanc en seekos en deels omdat die pad soontoe onder water was weens ’n uitsonderlike hooggety, maar dis maar net ’n goeie verskoning om weer te gaan kuier in daai geweste!

Hiervandaan is ek Vredendal toe waar ek die nag in die weelderige Belle Ombre-gastehuis (027-213-3337 of belle.ombre@telkomsa.net) sou oorbly nadat die gawe wynmense van Lutzville my die aand onthaal het in ’n plaaslike restaurant. Ek het vir Madaléne van der Lingen van die toerisme-owerheid en Jaco van Niekerk, wynmaker by Lutzville-kelder, by die restaurant ontmoet en was verheug om te sien dat Jaco ’n hele kis van hulle lekker wyne saamgebring het. Ek meen, dis mos die manier om ’n wynproe te doen, in ’n restaurant!

Die wyne van die groot koöperatiewe kelders in hierdie geweste tel reeds geruime tyd onder my gunstelinge aangesien hulle reeds oor en oor bewys het dat “groot” nie laer gehalte beteken nie. Om die waarheid te sê, hier beteken “groot” lekker wyne van gehalte teen sakpaspryse, en wat meer wil mens dan van die wyntjie in jou glas hê! Veral Lutzville se gehoute Chenin Blanc 2012 het daardie aand my tong betower en ek het sommer kliphard aan Jaco se arm gedraai vir ’n kissie daarvan! Daar’s ongelukkig niks meer oor nie!

Die ander wyne uit Lutzville se kelder wat daardie aand rustig oor my tong en in my keel af gedans het, was hul Sauvignon Blanc, Chardonnay, ongehoute Chenin Blanc en Noble Late Harvest, almal van die 2013-oesjaar.

Skuins na ontbyt die volgende oggend is ek en Madaléne na die plaas Oerwoud, die tuiste van Cape Rock-wyne, ’n boetiekkelder tussen Vredendal en Lutzville, waar Willie Brand en sy vrou Des, ’n bekende kunstenaar in hierdie geweste, ons ingewag het. Aangesien Willie meer ’n garagiste-wynmaker as ’n boetiekwynmaker genoem kan word en daar dus nie ’n fênsie kelder of proelokaal is nie (baie wynprodusente spog dat hulle wyn “met die hand gemaak word” ... wel, hier is dit beslis die geval!), het ons sommer in hul voorkamer stelling ingeneem rondom ’n tafel met 6 van sy Cape Rock-wyne en gou-gou soos ou vrinne gekuier.

LINKS: Willie Brand in die klein keldertjie waar Cape Rock-wyne gemaak word. En kyk net al daai bottels ongelooflike nektar!

As ek so na my notas kyk, sien ek dat twee van die wyne by my 8½ uit 10 gekry het, een 8 uit 10 en die ander kort op hul hakke. En ek’s gewoonlik baie konserwatief! Die twee versnitte, een wit (GRV 2012) en een rooi (SMV 2012), was my gunstelinge, met die 2011- Shiraz, Capa Roca 2012 en 2013-  Rosé kort op hul hakke.

Aangesien daar nog twee wynproeë op my gewag het, het ons afskeid geneem van die gawe, gasvrye Brands en koers terug Vredendal toe gekies om by Vredendal-kwekery Herman Nel en Alan van Niekerk se Desert Rose-wyne te proe. Hierdie twee jarelange vriende het maar ’n paar jaar gelede eers besluit om hul talente saam te gooi en wyn te maak. Die resultaat? Agt wyne onder die Desert Rose-etiket. Veral hul 2009- Shiraz en 2010- Pinotage het my tong se aandag gevang, maar enigeen van hul wyne kan maar sy plekke in my ou keldertjie kom inneem.

REGS: Lekker kos en lekker wyn maak darem die lewe 'n lekker plek! Desert Rose se wyne is met watertand-eetgoed geniet.

Anita Vermaak, deel van die toerisme-owerheid se “mooi meisiespan”, het intussen by ons aangesluit en die drie van ons is deur Vanrhynsdorp tot bo-op die Gifberg waar ons by die Gifberg-rusoord (www.gifberg.co.za) saam met Klawer se wynmaker, Pieter van Aarde, ’n ligte middagete sou geniet. Saam met vyf Klawer-wyne natuurlik. Twee witwyne uit die 2013-oesjaar, ’n Sauvignon Blanc en ’n Chenin Blanc, ’n 2012- Pinotage en ’n 2011- Cabernet Sauvignon het gesorg dat ons net daar wou wortel skiet, en toe Pieter nog vir elkeen ’n glasie rooibostee-gegeurde African Ruby Vermouth skink, was dit so byna-byna “verby met Doris Day”. Terloops, Pieter vertel daardie Chenin Blanc is hul top verkoper, en ek verstaan hoekom.

LINKS: Daar is eers gretig en ywerig geproe aan Klawer se gulhartige wyne voordat daar aan die gemaklike kos weg geval is.

Ek, vroulief en haar Skotse neef en sy vrou het reeds vantevore hier op Gifberg oorgebly, en hoewel die verblyf basies maar netjies is, het die blomme en staproetes met rotsformasies en watervalle en –poele ons soos konings laat voel. Hier is ook 4x4-roetes en ek reken ’n bergfiets sal hier ook baie handig te pas kom.

BO EN ONDER REGS: Die Gifberg in die namiddagson. Woorde ontbreek! En watervalle soos hierdie sal jy op jou staptogte in die Gifberg raakloop.

Nog was dit het einde niet! Ons is anderkant die Gifberg af, het ’n reënboog tot by die Ouberg-waterval, waar ek aanvanklik sou oornag en na Johan Smith se streekstories luister, gevolg en is toe terug na my tweede oornagstop by die Maskam Guest Farm (www.maskamguestfarm.co.za) buite Vanrhynsdorp. My bure, gesoute buitelugmense, het om ’n vleisbraaivuurtjie vertel dat hulle reeds ’n week daar bly en elke dag ’n ander rigting met hul fô-baai-fô inslaan. En terwyl hulle my vermaak het met die een wonderlike storie na die ander van hul ervarings in die Weskus-Namakwaland, het ons glasie vir glasie van Lutzville en Klawer se wyne geniet. En so het die vyf van ons, Bacchus ingesluit natuurlik, sommer dik pêlle geraak.

Die volgende oggend het ek maar langtand die pad terug Vanrhynsdorp toe gevat om die lede van die mooimiesiespan op te laai. Nie oor die mooi meisies nie, aikôna, dis oor dit my laaste dag in hierdie kontrei was en drie dae net eenvoudig nie genoeg is om al die juwele van die Weskus-Namakwaland te sien en ervaar nie, soos reeds genoem.

Maar die Knersvlakte het gewag. En brekvis by die Knersvlakte Spens. Die Knersvlakte is mos ’n fotograaf se paradys, ook ’n entoesiastiese voetslaner s’n, en waar mens kan voetslaan, kan jy ook mos maar jou ysterperd inspan. Wel, op die meeste voetslaanpaaie!

So 30 km noord van Vanrhynsdorp langs die N7 lê die plaas Quaggaskop en dis hier, teenaan die hoofpad, waar Buys Wiese en Christine Visser die perfekte bene-rek-en-neusblaas-uitspanplekkie geskep het, en dis hier waar ons gestop het vir ’n heerlike boerebrekvis, voorafgegaan deur regte, egte boeretroos ... omring deur vetplante van alle soorte wat mens spyt maak jy’t nie ’n groot genoeg tuin om sommer almal in jou bagasiebak te laai nie!

BO: Die Knersvlakte! Buys Wiese en die mooimeisiespan van die Weskus-Namakwalandse toerisme-owerheid.

En nadat ons innerlike bevredig is, het Buys ons so ’n entjie die Knersvlakte ingeneem om darem ook ons uiterlike te bevredig. Hy vertel hier’s ’n paar staproetes van verskillende afstande wat ’n ieder en ’n elk behoort te pas. En dis natuurlik die beste manier om hierdie uitsonderlike wêreld te verken ... met ’n kamera in die hand want jy sal beslis vir familie en vriende wil gaan wys wat hier te siene is.

Die tyd het my egter begin inhaal en ek moes darem eers op Vanrhynsdorp ’n draai gaan maak voordat ek die pad huistoe aanpak. Daar het die Kokerboomkwekery (www.kokerboom.co.za), Bo-Tuin Olywe (www.botuin.co.za) en die ou tronk op my gewag. By die kwekery wag plante soos die halfmens, beestong, hondebal, bababoudjies, koekamakranka en poeierkwas jou in. Ek lieg nie!

BO: Die pragtige Olifantsriviervallei. En jy't gedink dis 'n dorre woestynlandskap. Ai, onkunde darem!

Op pad terug op die N7 het ek genoeg tyd gehad om oor my heeltemal te kort besoek aan die Weskus en Namakwaland te besin. My soveelste te kort besoek! Ek reken ek skuld myself ’n veel langer een ... en daarom is dit nou amptelik op my “bucket list”! Saam met nog oorsese besoeke.

En ek het ook gedink aan hoe om hierdie artikel aan te pak en te skryf. Sien, die Weskus en Namakwaland bied eintlik heeltemal te veel vir een artikel. Hierdie moes eintlik vyf artikels gewees het, maar nou moes ek baie in min ruimte inpas, ’n onmoontlike taak om dan reg te laat geskied aan alles en almal. Wat eintlik net nóg rede vir my is om terug te keer en veel langer te vertoef!

O ja, en wanneer jy koers kies soontoe hoef jy nie eers jou eie wyn saam te vat nie want daar’s meer as genoeg wynkelders met meer as genoeg heerlike wyn om jou keel nooit ooit droog te laat word nie! En dit op sigself is ’n wonderlike reis van ontdekking!

EINDE