Span uit en ontspan in styl by Kloovenburg Pastorie

Sjarmant, elegant en effe formeel, soos dit in die goeie ou dae was.

Net meer as vier dekades gelede was wyntoerisme in Suid-Afrika nog ’n droom. Toe kry ons ons eerste wynroete en kon ons vir die eerste keer op wynplase in proelokale gaan wyn proe en koop. Nie lank daarna nie het eet- en blyplekke op wynplase hul welkome koppe begin uitsteek.

 

Vandag spog Suid-Afrika met van die beste wyntoerismegeriewe ter wêreld. En daar is iets van alles, van die tradisionele tot hipermoderne, argitektoniese meesterstukke. En dis nie net die kelders waarvan ons praat nie. Die eet- en blyplekke op wynplase het met die veranderende tye en behoeftes tred gehou en vandag is daar ook iets van alles wat dit betref, van eetplekke waar kokke eenvoudige en gemaklike kos aanbied tot restaurante waar bekroonde sjefs die septer swaai. En die verblyf wissel van eenvoudige selfsorgverblyf in asemrowende omgewings tot luukse-boetiekhotels wat jou mees dekadente drome verwesenlik.

 

Ons het aan die begin van April die voorreg gehad om in die Kloovenburg-wynlandgoed se weelderige Die Pastorie-gastehuis te oornag. Kloovenburg is aan die buitewyke van Riebeek Kasteel in die asemrowende Riebeek-vallei in die Swartland geleë. Die gastehuis word van Riebeek Kasteel geskei deur die pad na Riebeek-Wes, wat alles op hierdie dorpie binne loopafstand plaas.

 

Die Du Toits van Kloovenburg, Pieter en Annalene, het die ou Victoriaanse pastorie in 1977 van die NG Kerk gekoop. Vandag is dit een van die Riebeek-vallei se mees luuksueuse verblyfplekke en ’n landmerk wat jy nie kan mis wanneer jy verby (of is dit deur?) Riebeek Kasteel ry nie.

 

 

BO: En as jy moeg is van die natuurskone Riebeek-vallei kan jy agter by die swembad kom ontspan.

Hierdie geskiedkundige eiendom is liefdevol gerestoureer en bied gaste vandag drie smaaklik gemeubileerde en lugversorgde en-suite-slaapkamers met sekere DSTV-kanale, asook heelwat plek om te ontspan (met een van Kloovenburg se puik wyne en olywe natuurlik!), insluitende ’n ruim stoep met pragtige uitsigte oor ’n wingerdblok reg voor die huis, Riebeek Kasteel en die uitgestrekte vallei; onder die bome en op die grasperk voor; langs die swembad agter; in die sitkamer en in die wyn- en olyfproevertrek.

 

Annalene en ’n vriendin het heelwat moeite gedoen met die meubilering van die gastehuis en byna 80% van die meubels, sommige waarvan pragtig gerestoureer is en ander wat geverf of aangepas is, kom uit hul plaashuise wat sorg dat die glans en sjarme van ’n verlore era goed vasgevang is. Die dekor verteenwoordig ’n eklektiese mengsel van Franse en Victoriaanse sjiek.

 

Die detail aan aandag eindig egter nie by die meubels nie. Stel jou voor jy glip slaaptyd tussen lakens van Egiptiese katoen in, of jy bederf jou lyf met heerlike, olyfgebaseerde produkte vanaf Kloovenburg in die Victoriaans-geïnspireerde badkamer! Nodeloos om te sê, ons het soos die spreekwoordelike babas geslaap en huiswaarts gekeer met lywe wat só gepamperlang is deur die olies dat vroulief dit nou ’n daaglikse deel van ons lewens gemaak het!

REGS: Ons slaapkamer het  'n deur na die voorstoep gehad wat ons genoop het om soggens daar te gaan sit en koffie drink ... en oor die dorpie en pragtige vallei te staar. Rus en vrede!

 

En dan sê hulle jy kan nie ’n ou hond nuwe truuks leer nie. Wys jou wat “hulle” weet!

 

En wanneer jy die volgende oggend wakker word, sit jy die ketel aan en maak koffie of tee wat jy dan met heerlike, tuisgebakte beskuit geniet, sommer daar in die oggendsonnetjie op die stoep, voordat jy die pad vat om die dorpie te verken. En daar is heelwat om te ontdek, van die verskeidenheid puik eetplekke tot ’n hele paar plekke wat puik kleinhandelterapie aanbied.

 

En jy kan selfs kies waar jy Kloovenburg se bekroonde wyne en olyfprodukte wil proe, òf in die gastehuis òf op die landgoed self, wat letterlik ’n paar minute se ry weg is.

 

Die tariewe vir Kloovenburg Pastorie wissel van R1 100 tot R1 300 per kamer en sluit tee, koffie (en dis nie kitskoffie nie!), tuisgebakte beskuit en seisoenale vrugte in (ons het heerlike druiwe gehad), asook ’n komplimentêre bottel wyn (ons s’n was ’n baie welkome ongehoute Chardonnay van die 2013-oesjaar) en ’n komplimentêre wyn- en olyfproe in Kloovenburg se proelokaal, reg langs die kelder.

 

Oukei, dis nie goedkoop nie, maar daarvoor kry jy weelderige akkommodasie in ’n stil, rustige en stylvolle omgewing, en lekker privaat. Ek meen, daar’s net drie dubbelkamers! Plekke soos hierdie wat nie vir onbedagsame ouers met ongedissiplineerde kinders voorsiening maak nie, is ’n ware seën.

LINKS: Die ruim badkamer van ons suite.

 

Die hele gastehuis is ook beskikbaar as ’n soort villa vir diegene wat heeltemal wil wegbreek en heeltemal op hul eie wil wees of om ’n privaat-makietie of –geselligheid (soos ’n troue of 21ste verjaarsdag) te hou.

 

Ons het ongelukkig die staproete van sowat 2 uur wat op die webblad geadverteer word, gemis, maar, soos voorheen genoem, die gastehuis is basies binne die dorpsgrense en dis slegs ’n paar minute se stap tot binne die dorpskern. En as jy jou eie ysterperde het … wel, ons het ons telkens vasgeloop in mense (duidelik besoekers!) wat rustig in die dorpie se strate rond gery het. Dit het ons laat voel of ons terug was in Parys of Amsterdam!

 

Vir meer inligting of om te bespreek, kontak die Kloovenburg-wynlandgoed by 022-448-1635 of info@kloovenburg.com, of besoek www.kloovenburg.com.

 

EINDE