Ervaar die beste van Anthonij Rupert Wyne en L’Ormarins in een onvergeetlike besoek

Anthonij Rupert Wyne se imposante wynkelderkompleks, wat die proelokaal en antipasti-kroeg insluit.

Die Kaapse wynlande hoef beslis nie terug te staan as dit kom by wyntoerisme-aanbiedings nie. Om die waarheid te sê, daar is bittermin wynstreke enige plek ter wêreld (indien enige) wat die Kaapse wynlande kan nadoen wat toerisme-attraksies betref.

En dis nie net die prag en praal van al die aanbiedings nie, dis ook die diversiteit van die verskillende streke en hul aanbiedings. En dis nie net die wyne en die natuurskoon waarvan ek praat nie, dis ook die kos en verblyf op wynplase.

Maar innovering is die naam van die spel, as ek myself so ’n direkte vertaling mag gun. En die Ruperts staan vir niemand terug wanneer dit kom by innovering nie. Vat nou maar net die Franschhoek-Motormuseum op L’Ormarins, enige seun, van watter ouderdom ook al, se droom. Enigiemand wat uit daai vier skure stap sonder om verbitter te voel dat hy/sy nie sakke vol geld het om een of meer van daai blink waens te kan bekostig nie, het die passie van ’n seeslak!

Maar ek loop nou my storie vooruit. Ek wil mos vertel van ons besoek aan Anthonij Rupert Wyne en L’Ormarins, die tremrit, die kos, die wyn en die motormuseum, nie noodwendig in daardie volgorde nie.

BYSKRIF: Vroulief poseer by die wyntrem tydens ons stop by die geskiedkundige herehuis.

Trems word gereeld in films gesien wat in die Amerikaanse stad San Francisco afspeel en bied kykers ’n blik op hierdie klassieke vorm van vervoer, maar besoekers aan die L’Ormarins-wynlandgoed en Anthonij Rupert Wyne, geleë in die natuurskone Franschhoek-wynvallei, kan hierdie romantiese vorm van vervoer nou eerstehands ervaar.

Johann Rupert, die eienaar, se visie om aan besoekers ’n unieke manier te bied om tussen hierdie twee wynlandgoedere te reis en die natuurskoon te bewonder, het ’n werklikheid geword met die bekendstelling van twee spesiaal geboude trems wat tussen die Franschhoek-motormuseum op L’Ormarins en die twee proelokale (Terra del Capo en Anthonij Rupert Wyne) op die Anthonij Rupert-landgoed beweeg.

Die tradisionele San Francisco-trems is as riglyn gebruik vir hierdie twee. Die enigste verskil is dat die twee tussen Anthonij Rupert Wyne en L’Ormarins op teer beweeg en nie op spore nie. Die twee trems reis in tandem tussen die twee wynlandgoedere en elke reis duur sowat ’n halfuur. Dit werk op ’n opklim-afklim-basis sodat gaste ’n werklik unieke en rustige reis deur die wingerde kan geniet. Die trems neem besoekers op ’n gerieflike en rustige rit deur die mooiste dele van die plase met verskeie plekke om foto’s te neem of om net die pragtige omgewing in te neem. Die trems se groot vensters is spesiaal ontwerp om gaste ’n asemrowende uitsig oor die pragtige Franschhoek-wynvallei, die netjiese wingerde van die twee plase en die majestieuse Groot Drakensteinberge te bied.

 

 

BO & ONDER: Die uitsigte op die omliggende omgewing uit die wyntrem laat mens wens die rit wil nie ophou nie.

 

Ons besoek het afgeskop met koffie en beskuit (regte, egte koffie en regte, egte beskuit, niks plêstiek nie!) in die antipasti-kroeg van die Terra del Capo-proelokaal. Hierna het ons die wyntrem gevang en is ons rustig tussen die wingerde deur en teen die heuwels langs na L’Ormarins. Nodeloos om te sê, daar’s baie foto’s geneem want ’n kiekie is mos meer werd as ’n duisend woorde, en woorde gaan moeilik reg laat geskied aan daardie natuurlike skouspel.

 

 

Op L’Ormarins aangekom, is ons rustig deur die vier skure met hul motorgeskiedenis wat oor ’n honderd jaar strek. Hierdie unieke en opwindende versameling motors, motorfietse, fietse en gedenkwaardighede is … wel, asemrowend is die enigste woord wat in my gedagtes kom as ek daaraan dink. Ek meen, daar is meer as 220 voertuie wat wissel van ’n 1898-model Beeston-driewieler tot ’n Ferrari-supermotor uit 2003, en meer as 80 van hierdie versameling voertuie word op ’n slag ten toon gestel.

 

Die uitstalling word in ses kategorieë verdeel en begin by antieke voertuie, gebou voor 31 Desember 1904, en eindig by voertuie wat die lig gesien het na 1960. Ek moes myself inhou om nie oor die tou te klim en agter elkeen se stuur in te skuif nie. ’n Petrolkop bly maar altyd ’n petrolkop!

 

 

BYSKRIF: Ja, daar's selfs renmotors van 'n byna vergete era in die motormuseum!

Vroulief het ewe liefies gevra wat my gunsteling onder die spulletjie was! Hel, dis soos om jou gunsteling-kind te moet kies … as jy natuurlik wonderlike kinders het! Maar my hart het ’n slag of wat vinniger geklop by die aanskou van die Ferrari 250 SWB Berlinetta, die Mercedes-Benz 300 SL Gullwing, die Jaguar XLK 120 en die Mclaren F1, asook vir die …

 

Terloops, toegang tot die museum is R60 vir volwassenes, R50 vir pensioenarisse en motorklublede en R30 vir kinders onder 12. Die museum is oop tussen 10vm en 5nm van Maandag tot Vrydag en van 10vm tot 4 nm op Saterdae, Sondae en die meeste openbare vakansiedae.

 

REGS: As daar nie sekuriteit was nie het ek sonder twyfel met hierdie Jaguar XK120 daar weg gery!

 

Die dag het aangestap en ons moes weer die wyntrem bestyg. Ek het myself met moeite los geskeur van die motormuseum en ons het weer die pad gevat, hierdie keer terug na die Anthonij Rupert-landgoed.

 

Maar voor ek vergeet, L’Ormarins is ook die tuiste van die Drakenstein-perdestoet, die tuiste van kampioene soos Trippi en Horse Chestnut. As die perdekrag in die motormuseum jou nie aanstaan nie, kan jy jou staan en verlustig aan ’n ander soort “perdekrag”! Hoewel hierdie soort vier bene pleks van vier wiele het, sal jy verskoon word as jy oopmond staar na hierdie pragtige, statige diere. ’n Mooi dier is darem maar ’n kunswerk op sy eie!

BYSKRIF: Jip, dit was 'n era van elegansie en styl.

Terug op die Anthonij Rupert-landgoed het ons eers gestop by die oorspronklike herehuis op die plaas wat dien as proelokaal vir die Cape of Good Hope- en Anthonij Rupert-wynreekse. Hierdie gebou is ’n nasionale gedenkwaardigheid en tot sy oorspronklike glorie gerestoureer. Die Kaaps Hollandse herehuis spog met karaktervolle houtbalkplafonne, geelhoutvloere en ruim areas vir onthaaldoeleindes en is deurgaans in die styl van die middel 19de eeuse Kaap gemeubileer.

Al die vertrekke huisves versigtig uitgesoekte items soos marmerkaggels en verskeie antieke meubelstukke, sowel as ‘n pragtige versameling kuns wat Kaapse landskappe van daardie tydperk uitbeeld. Die voorste vertrekke lei uit op ‘n stoep met ‘n asemrowende uitsig op ’n pragtige tuin en massiewe grasperk, asook die Franschhoek-wynvallei, terwyl die agterstoep die oog lei na kunstig ontwerpte tuine met ‘n roostuin en die Groot Drakenstein-berge binne sig. ‘n Kruietuin aan die kant van die huis, waarvoor die plante noukeurig gekies is, stel van die land se beste kulinêre en medisinale kruies ten toon.

 

BYSKRIF: Wat kan dan nou beter wees as om uitmuntende wyne te geniet op die stoep van die herehuis met uitsigte wat jou na jou asem laat snak? Hierdie is die drie van die landgoed se vlagskipwyne. Ek het ook die wittes geproe, en ek dink hulle almal dans nog op my tong rond!

En hier het ek my eerste wynproe van die dag gehad. Daar is vyf reekse in Anthonij Rupert Wyne se portefeulje, waarvan die Anthonij Rupert-handelsmerk die vaandeldraer is. L’Ormarins is die tuiste van hul sjampanje, oftewel MCC; Terra del Capo is die tuiste van hul Italiaanse kultivarwyne; die Protea-reeks is geskep om vroeër geniet te word; en Cape of Good Hope is ‘n opwindende reeks wat sy oorsprong het by sommige van die oudste wingerde in Suid-Afrika. Cape of Good Hope bestaan uit terroir-spesifieke wyne wat geskep is ter herdenking van Suid-Afrika se wynboukundige erfenis van meer as 350 jaar.

My smaakkliere is onthaal met drie wyne uit sowel die Cape of Good Hope- as die Anthonij Rupert-reekse, en nes dit byna onmoontlik was om my gunsteling in die motormuseum te kies, net so moeilik was dit om ’n gunsteling uit daai ses wyne te kies. Ek kwyl steeds as ek net aan hulle dink!

 

Nou-ja, ’n dag van hoogtepunte kan mos net op een manier eindig, op nog ’n hoogtepunt! Die laaste deel van ons wyntoer per trem het ons terug gevat na die imposante kelderkompleks en Terra del Capo se antipasti-kroeg waar ons middagete sou geniet. Was dit somer sou ons buite onder die olyfbome gesit het, maar aangesien dit winterkoue begin byt het, het ons ’n tafel in die antipasti-kroeg gekies … en wat gevolg het, was ’n kulinêre ervaring en belewenis wat woorde nie kan beskryf nie.

 

Met elke gereg het ek onwillekeurig gedink aan wat twee koskenners uit toeka se dae gesê het. George Bernard Shaw, die bekende Ierse dramaturg, het gesê, en ek haal aan: “There is no love sincerer than the love of food.” Veral as dit by sulke kos kom! En James Beard, bekende Amerikaanse kosskrywer, het dit so gestel: “A gourmet who thinks of calories is like a tart who looks at her watch.”

 

BO & ONDER: Kos en wyn soos hierdie moet stadig en met oorgawe geniet word, en dis presies wat ons gedoen het. Maar steeds het ons te vinnig vol geword en moes ons afskeid neem!

 

En die heerlike tapas-styl disse is vergesel van Terra del Capo-wyne. Ek het gevoel of ek in die hemel beland het! En die hemel was iewers tussen kos en wyn vasgevang, met ’n natuurskone vallei, majestieuse berge en groen wingerde as agtergrond.

 

Die antipasti-kroeg se koservaring is eg, smaaklik en lewendig. Die klem is hoofsaaklik op antipasti en die bestanddele word plaaslik voorsien deur spesialisprodusente of organies verbou op die landgoed. Bo en behalwe vars produkte word die heel beste olyfolie, heuning, vars kruie, gemarineerde olywe, spesialisbrode en groenvrugtesap ook op die plaas gemaak. Hierdie produkte word in die proelokaal se plaaswinkeltjie te koop aangebied. ’n Daaglikse sjefskeuse- antipasti-bord van seisoenale produkte word teen R150 per persoon aangebied. Voorbeelde van smulgoed is geroosterde, gemarineerde groente met roosmaryn en knoffel; wit ansjovis met tamatie, olywe en kappertjies; en gebraaide tjokka met suurlemoen en aioli.

Net so van die os op die jas, die wyne in die Terra del Capo-reeks, wat beskryf word as betowerend, fyn afgerond en kosvriendelik, is oorspronklik deur die oorlede Anthonij Rupert ontwikkel. Hy was oortuig dat Suid-Afrikaanse grond ideaal geskik is vir die verbouing van Italiaanse wyndruiwe, maar het ook ‘n liefde gekoester vir Italië en die natuurlike sinergie tussen goeie kos en wyn, ’n sinergie wat ten volle uitgeleef word, daarvan kan ek en vroulief getuig.

En ek kan darem nie hierdie artikel afsluit sonder so ’n bietjie geskiedenis nie. L’Ormarins se geskiedenis gaan sover terug as 1694 toe ene Jean Roi uit Frankryk in Drakenstein aangekom het. As die eerste eienaar van L’Ormarins het hy 4 000 wingerdstokke geplant. In 1799 is ‘n kelder op die plaas gebou, gevolg deur die herehuis in 1811. Wyle dr. Anton Rupert het L’Ormarins in 1969 aangekoop en albei die geboue is in 1984 gerestoureer. Die aangrensende plaas, wat voorheen aan Graham Beck behoort het, is in Februarie 2011 aangeskaf.

Vir meer inligting oor die wyntrems se program of om te bespreek, skakel 021 874 9004 of stuur ’n epos aan tasting@rupertwines.com.

EINDE