‘Van die Heer se beste saad (het) gelek, gelek en uitgeval’ … oor die Weskus-Namakwaland

Op die kaai in Doringbaai ... wag Fryer's Cove!

Die Tuinroete is byna soos ’n skaamtelose meisie wat haar bates en juwele vir almal ten toon stel. Daarteenoor is die Weskus-Namakwaland ’n taamlike kuis aster wat eintlik net een keer ’n jaar onbeskaamd haar bates wys en die res van die tyd jou uitnooi tot ’n heerlike voorspel waartydens sy jou byna uitdaag om haar bates en juwele te vind, te geniet en te waardeer. En glo my vry, hulle is daar, en ook sommer baie van hulle.

Maar ek loop myself vooruit. Ons het aan die begin van September besluit om te gaan blomme kyk. Ek het baie dekades gelede as motorjoernalis die voorreg gehad om Namakwaland se kaleidoskoop van kleur in sy volle glorie te aanskou. Dit was op ’n plaas anderkant Nieuwoudtville, en die blommeprag het my en my kollegas se asems weg geslaan. Ek sukkel nou al etlike jare om vir my blom daai blommeprag te wys.

Hoe dit ook al sy, ons het die Weskuspad Doringbaai toe gevat waar ons die eerste nag sou oorbly in Thornby Accommodation (027-215-1333 / thornby@doringbaai-accommodation.co.za) met sy pragtige uitsigte op die ou vissershawe en die see. Hoewel dit gou duidelik geword het dat die beste van die blommeprag verby is, het ons van anderkant Dwarskersbos af begin pers, pienk en wit in die veld bespeur.

By Elandsbaai, wat glo ’n paradys is vir branderplankryers, natuurliefhebbers en buitelewe-entoesiaste, wag die indrukwekkende Verlorenvlei mens in. Hiervandaan is ons met die grond-tolpad langs en verby kolle pienk, pers, geel en wit tot by Lambertsbaai, en verder met die volgende grond-tolpad tot by Doringbaai.

BYSKRIF: Hoewel ons plek-plek langs die pad kolle kleurvolle blomme gesien het, moes ons wag tot in Namakwaland hiervoor. Aan die geduldiges ...

Op Doringbaai aangekom, moes ons darem eers by die tuiste van Fryer’s Cove-wyne gaan inloer. As daar ’n wynkelder en proelokaal nader aan die see is as hierdie een, wil ek graag van hom weet. Daar op die kaai in Doringbaai (en kyk hoe laat die blomme en wyn my nou dig!) kan jy knibbel aan heerlike seekos (ons twee het calamari gedeel) terwyl jy Fryer’s Cove se wyne proe (ek het hul Bamboes Bay Sauvignon Blanc 2014 onder hande geneem!).

Hierna het die Doring Bay Sauvignon Blanc 2014, die effe vrugtiger The Jetty Sauvignon Blanc 2014 en die 2012- Pinot Noir deur geloop. Ek sukkel maar altyd om my van Fryer’s Cove weg te skeur, maar met vroulief se hulp is ons uiteindelik vort.

Ons het ons tasse by Thornby gaan aflaai en buite op die stoep die pragtige uitsigte oor die hawe gade geslaan totdat die son soos ’n vuurbal oor die horison verdwyn het. G’n wonder die Weskus staan bekend as die Sunset Coast nie!

Aandete was ‘n tipiese Weskus-affêre by die Cabin Restaurant so ’n paar minute se stap van Thornby af. Ek het kans gesien vir ’n bord seekos vir een (ek reken Elize van Wyk het een gesin in gedagte gehad!), terwyl vroulief op vis en tjips besluit het. Kyk, dis nie haute cuisine nie, net smaaklike, heilsame Weskuskos wat jou laat wens jou maag is groter! En hier tel Weskustyd, en dit het niks met ’n horlosie te doen nie, eerder ’n kalender, maar jou geduld sal goed beloon word.

BYSKRIF: 'n Seekosbord vir een! Saam met 'n Sauvignon Blanc uit Fryer's Cove se kelder was dit die perfekte einde aan 'n uitsonderlike dag.

Die Saterdagoggend het ons gesorg dat ons tienuur by Lutzville-kelder is vir brekvis, so ’n halfuur se ry noordwaarts. Soos oral langs die Weskus en in Namakwaland is ons oorval met gasvryheid, en na ’n heerlike brekvis is daar eers weer bietjie wyn geproe voordat ons die pad gevat het.

Esmé Claase het my vier van hul wyne laat proe, onder meer hul 2012- gehoute Chenin Blanc waarvoor ek ’n baie sagte plekkie het, asook hul 2010- Semillon en 2012- Ebenhaeser, al drie uit Lutzville se Diamond Collection-reeks, en die 2012- Shiraz Rosé uit hul “Easy Drinking”-reeks.

As jy nou praat van waarde vir geld, praat jy van Lutzville se wyne. Die natuurlike soetwyne skop af by R27 per bottel, die duurste witte is R55 (daai gehoute Chenin Blanc) en die duurste rooie is hul vlagskip, die rooi versnit Ebenhaeser wat jou slegs R85 uit die sak sal jaag.

Nog twee proeë het op my gewag voordat ons die kort stukkie pad Vanrhynsdorp toe moes vat.

Eers is daar by Namaqua-kelder net buite Vredendal ingeloer waar ek twee wit en twee rooi versnitte onder hande geneem het. Hul Spencer Bay-reeks het ek vantevore geproe en is enige tyd welkom hier by my!

Toe is daar by Teubes Family Wines ’n klein entjie verder gestop vir ’n heerlike kaasbord en ’n proe van nege van hul heerlike wyne, met die baie vriendelike hulp en bystand van die jongeheer Sybrand Teubes. Drie Malkopbaai-wyne, vier uit die Teubes Family Wines-reeks en die Sir Lambert Sauvignon Blanc 2014 is gevolg deur die Lamberts Bay’s Finest Sauvignon Blanc 2014 wat my onmiddellik aan die Japannese uitdrukking Waku doki laat dink het.

BYSKRIF: Sybrand Teubes by 'n paar van hul puik wyne en 'n heerlike kaasbord in die pragtige proelokaal wat mens uitnooi om sommer lank te kuier!

Vir diegene wat nie weet nie, Waku-Waku is die verwagting van suiwer genot, terwyl Doki-Doki die klank van jou hartklop is. Waku doki is dus wanneer jy só opgewonde oor genot is dat jou hart vinniger klop.

 

Maar die blomme het steeds geroep! Ons is Vanrhyndsorp toe waar ons eers by die bekende Kokerboom-kwekery gaan inloer het. As jy dink dis net blomme waarvoor hierdie geweste bekend is, dink weer ’n keer. Die verskeidenheid vetplante met hul name wat jou soms laat bloos, soms laat glimlag en ander kere laat skater, is absoluut verstommend. Daar is halfmens, beestong, hondebal, bababoudjies, poeierkwas en koekamakranka, kleuterviooltjies, geelkatstert en rooikatstert, knoppies, witeendekos, beesvygies en rooikoppie-en-piering, om maar net ‘n paar te noem.

 

 

BYSKRIF: Een van die Heer se vele saadjies, die bobbejaanvinger!

 

Maar vetplante skree nie op jou soos Namakwaland se blomme een keer ’n jaar nie. Nee, hulle fluister, maar as jy mooi luister (lees: soek nader aan moeder aarde), sal jy beloon word met ’n natuurlike rykdom wat vir my en vroulief steeds, na al die jare, oopmond laat.

 

Vandaar is ons na die gerestoureerde ou tronk in die hoofstraat wat vandag ‘n toeriste-attraksie is. Nadat ons bietjie met die oë gekoop het, het ons elkeen ’n lekker koppie boeretroos en die lekkerste kaaskoek wat ons in ‘n baie lank tyd geproe het, geniet, en toe is uit die bloute smaaklike, tuisgebakte brood voor ons neergesit, “net ’n proeseltjie”, maar dit was genoeg om die mond behoorlik te laat water.

 

 

BYSKRIF: Die ou tronk op Vanrhynsdorp wat vandag 'n toeriste-attraksie en besoek werd is.

Maar die blommeprag het ons steeds vermy en ek was vasbeslote om vir my blom daai kakofonie van kleur te wys. Ons is toe noordwaarts op die N7 verby die Knersvlakte (waaroor mens self boekdele kan skryf en ’n paradys is vir fotograwe en natuur- en buitelewemense) tot by Nuwerus, so 67 km van Vanrhynsdorp af, waar ons in die Hardeveld Lodge (074 190 7266 / kambro@telkomsa.net) sou oornag. Aangesien dit reeds namiddag was en die blomme kop weg gesteek het, het Kobus van Heerden, wat die Harveld Lodge saam met sy vrou Frey besit, ons vinnig in sy Jeep die veld ingeneem om Namakwaland se ander skatte te besigtig, genoemde vetplante.

En dis hier waar die kuis meisie jou uitdaag om bietjie moeite te doen en na haar bates te soek. Soek en jy sal vind, en name soos genoemde halfmens, beestong, hondebal, bababoudjies, poeierkwas en koekamakranka het oor Kobus se lippe gerol soos hy die plantjies aan ons uitgewys het. Dis die vreemdste en interessantste vormpies, en nie almal bevat kleurvolle blommetjies nie, maar as jy ’n avonturier en/of natuurmens is, sal jou mond oophang oor die rykdom van Namakwaland se vetplante.

BYSKRIF: 'n Springbokvygie wys dat vetplante net so asemrowend mooi kan wees soos Namakwaland se blommeparadys op sy asemrowendste.

Na ‘n heerlike aandete en brekvis, voorberei deur Kobus, is ons terug deur Vanrhynsdorp, oor die Vanrhynspas tot by Nieuwoudtville waar ons eers na die twee watervalle gaan kyk het. Nieuwoudtville se watervalle word gevoed deur die Willems- en Groenriviere wat dan by die watervalle die Klein Doringrivier word wat in die Maaierskloof afvloei.

BYSKRIF: Vanrhynsdorp se groot waterval. Die kleiner een is agter hom.

Die grootHiervandaan is ons na die anderkant van die dorp waar die blomme op Matjiesfontein-plaas op ons gewag het. Hier het ons die laaste van vanjaar se blommeprag in al sy glorie aanskou op ’n sirkelroete wat ons elke paar meter laat stop het vir foto’s. Dit was ‘n see van geel, wit, rooi en oranje net waar mens gekyk het … en die plaasmense het ons te vertel dat ons die beste gemis het!

’n Nieuwoudtville-blommelys het ons gehelp om baie van die kleurvolle juwele uit te ken, soos die Namakwa-gousblom, kougoed, jakkalsbos, rooi-gousblom, perskussing, Karoo-vetkousie, snotrosie en ander.

BYSKRIF: "Op die groot saaidag van die heelal ..."

Al die blomme en vetplante wat ons bevoorreg was om te sien, het my laat dink aan DJ Opperman se gediggie oor hierdie geweste wat lui:

“Op die groot saaidag van die heelal

Het reeds ‘n entjie duskant Wupperthal

Oor die kaal noordweste

Van die Heer se beste saad gelek, gelek en uitgeval.”

Ek reken daai saad verwys ook na die Weskus-Namakwaland se ander juwele!

Alle goeie dinge kom ongelukkig tot ’n einde, of so word ons vertel, en ons moes die pad terug huistoe aandurf, maar volgende jaar sal ons hierdie “pelgrimstog” effe vroeër pak. Ek móét eenvoudig vir my blom wys hoe Namakwaland lyk as die kuis meisie haar kleurvolle bates bloot lê! En daar’s nog baie vetplante om te ontdek, sommer daar in die veld, en met heerlike Weskuskos en Weskuswyn wat die hongerpyne stil maak en die droogte uit die keel hou, het ons beslis geen uitnodiging nodig nie.

Waku doki, jou naam is Weskus-Namakwaland!

EINDE