Gaan herlaai jou battery op Nooitgedacht in die Aprilskloof

Omring deur wingerde en fynbos, en met die natuur as jou enigste geselskap.

En daar kuier ons toe verlede jaar ’n Australiese paartjie raak. In Dubrovnik, Kroasië, van alle plekke. In ’n eetplekkie in die ou, geskiedkundige, ommuurde stad. Rondom kos en wyn. Hulle hoor hoe gooi ons die boeretaal en vra onmiddellik of ons uit Suid-Afrika kom en of ons Afrikaans praat. Ons sê ja en hulle vertel ons van hul besoek die vorige jaar aan ons pragtige land, hul eerste, en van hul reis vanaf Zimbabwe al teen die ooskus af tot in die “mooiste, mooiste Kaap”.

 

Hoewel hulle hul kommer oor ons hoë misdaadstatistiek uitgespreek het en glo nooit veilig of gemaklik in ons stede gevoel het nie, was die Kaap en sy wynlande ’n ongelooflike ervaring en beveel hulle dit oral aan.

 

“Jul wynlande se toerisme-aanbiedings is absoluut ongelooflik,” vertel hulle met aansteeklike entoesiasme. “Dis ligjare beter as ons s’n, en die verskeidenheid wyne, verblyfplekke en eetplekke op wynplase is verstommend.”

 

Hulle het drie weke in die wynlande deurgebring, ’n week elk in ‘n vierster-gastehuis in die Hemel-en-Aarde-vallei, ’n vyfster-boetiekhotel in die Franschhoek-wynvallei en ’n selfsorgkothuis in die Olifantsriviervallei naby Vredendal, deel van die Weskus-wynstreek. Al die verblyf was op wynplase en hulle kon nie uitgepraat raak oor die gasvryheid en vriendelikheid van almal nie.

 

Ek en vroulief kan getuig van die groot verskeidenheid en die gehalte van sowel die verblyf as die eetplekke op wynplase. As ons moet kies tussen weelderige gastehuise of boetiekhotels en gemaklike selfsorgverblyf, sal dit maar moeilik gaan. Elkeen bied iets besonders en spesiaal.

 

Vat nou die plaas Nooitgedacht daar hoog op in die Aprilskloof net buite Malmesbury op die pad na die Paarl en Wellington as voorbeeld. Hier het Kobus & Hetéma Basson so ’n eenkant-plaashuisie omgeskep in heerlike, gerieflike selfsorgverblyf. Omring deur wingerde met ’n dam reg voor die huis wat die speelgrond is vir ’n verskeidenheid voëls en drinkplek vir ’n trop bokkies, bied Nooitgedacht se kothuis lafenis vir gees en vlees.

 

As jy enigsins ’n natuur- of buitelewemens is, sal die boegoe en fynbos beslis jou oog vang, asook die elande, grysbokkies en duikers, om nie van die bobbejane te praat nie. Laasgenoemde laat elke middag luidkeels van hulle hoor vanaf die klipkoppie ’n hele ent agter die huis.

 

Die huisie is ten volle toegerus en bestaan uit twee slaapkamers, een met ’n dubbelbed en een met twee enkelbeddens, ’n klein badkamer met ’n toilet, wasbak en stort, en ’n oopplan-kombuis, -eetkamer en -sitkamer. Laasgenoemde het ’n kaggel vir daai koue wintersaande. En dan’s daar ’n ruim stoep met pragtige uisigte op die dam reg en die omliggende wingerde en Paardeberg, wat miskien eerder ’n koppie as ’n berg is ... vir ons Kapenaars in elk geval. Daar is ook ’n ooptrekbank in die eetkamer/sitkamer.

 

Soos reeds genoem, is die huisie ten volle toegerus en behoort mens net jou eet- en drinkgoed saam te vat. Daar is selfs hout en aansteekgoed vir die kaggel en die mobiele braai op die stoep. Die mobiele braai was op sy laaste bene toe ons daar was, maar die Bassons het onderneem om dit te vervang.

 

Daar is nie lugversorging nie, maar wel ’n waaier, en ons sal voorstel dat gaste maar nog een of twee saamneem vir die slaapkamers aangesien hierdie geweste lekker warm kan word in die somer. In die winter, toe ons daar was, het ’n warmwatersak gesorg dat ons warm aan die slaap kon raak.

 

In die sitkamergedeelte was daar ook ’n televisiestel wat die drie SABC-kanale en Etv kan opvang toe ons daar was, maar ons het dit slegs gebruik om een keer ’n dag nuus te kyk. Hier wil mens nie die natuurlikie ritme en klanke van die natuur met televisie of radio bederf nie.

 

Langs die huisie is ’n ruim grasperk waar kinders heerlik kan speel. Daar is ook ’n hek as jy die eienaars se vriendelike honde wil uithou.

 

As rustig verkeer met ’n boek in die een hand en ’n glas wyn in die ander, verkieslik Babylon’s Peak s’n, nie juis jou koppie tee is nie, kan jy altyd jou bergfiets en/of stapskoene saambring want hier is genoeg plek (en lekker steiltes!) om jou goeie oefening te gee. En in sommige van die damme op die plaas is daar selfs vis wat op ’n uitdaging wag!

 

Nooitgedacht is die tuiste van Babylon’s Peak-wyne en ’n proe van hierdie heerlike kelderskatte in die proekamer binne loopafstand vanaf die kothuisie moet beslis op die agenda wees.

 

 

BYSKRIF: Hierheen, het ons besluit, kom ons beslis terug! Die klipkoppie agter wemel van bobbejane in die laat middag.

 

Die kothuisie is so 10 km van die teerpad af en 18 km vanaf Malmesbury en sowat 30 km vanaf Riebeek Kasteel. Laasgenoemde is altyd ’n besoek werd, nie net vir sdy lekker eetplekke nie, maar ook vir sy interessante winkeltjies.

 

Die verblyftarief is R400 per persoon per nag vir die eerste twee mense en daarna R100 elk per nag vir die bykomende gaste. Kinders onder 12 betaal R50 per nag. Die huisie kan met gemak vier mense huisves en ons bevel dit beslis aan.

 

Vir meer inligting of om te bespreek, skakel 021-300-1052 (kantoorure) of stuur ’n epos aan nooitgedacht@paarlonline.co.za.

 

EINDE