Black Oystercatcher bied ontvlugting van die alledaagse

Die vier gerieflike selfsorg-skakelhuisies op die plaas Moddervei, die tuiste van Black Oystercatcher.

Van basiese, gerieflike kuier tot weelderige bederf, dis wat die Kaapse wynlande bied. Verblyf, eet en aktiwiteite het vandag ’n integrale deel geword van die wyntoerisme-ervaring en is net so belangrik soos die nektar van die gode wat mens op wynplase en by wynkelders geniet.

In ons voortgesette soektog na al die wynlande se verskillende juwele, kom ons van tyd tot tyd af op onverwagse skatte. Moddervlei, die tuiste van alles Black Oystercatcher, in die Strandveld is een van daardie onverwagse skatte. Hiernatoe vlug jy van die alledaagse en loop lekker, gemaklike selfsorgverblyf, heerlike wyn en ewe heerlike kos raak, alles op een plek! En alles onder die Black Oystercatcher-handelsmerk.

Waar is die Strandveld? vra jy. Wel, dis waar die mees suidelike wingerde in Afrika gevind kan word, daar tussen die driehoek wat deur Bredasdorp, Struisbaai en Elim gevorm word.

Dirk “Vaatjie” Human is die soveelste geslag wat hier op Moddervlei boer. Hoewel dit ’n relatief jong wynstreek is, het hy reeds sy stem dik gemaak op die wynfront, sommer baie dik, en sedertdien het verblyf en ’n eetplek by die wyn op Moddervlei aangesluit.

Ons het ’n heerlike, ontspanne wintersnaweek in een van die vier pragtig gerestoureerde volkshuisies op die plaas deurgebring. Die selfsorg-skakelhuisies bied ’n lekker groot stoep vir uitspan en ontspan, met ’n braaiplek en uitsigte oor die vallei. Binne is daar ’n oopplan-kombuis/eetkamer/sitkamer met ’n kaggel en ‘n dubbelkamer met badkamer. Die kombuisie is volledig en smaaklik toegerus, soos die res van die huisie.

Hier is nie TV of enigiets anders wat geraas maak en die rustigheid en stilte versteur nie, maar ek het ons iPod en “docking station” saamgevat vir so bietjie sagte agtergrondmusiek. Ek glo maar steeds in ’n lewe van “wine, women and song”!

Hierdie verblyf is nie vir gesinne nie want elkeen van die vier skakelhuisies kan net twee mense met gerief huisves. Dis eerder vir enkellopendes of paartjies wat van die stadsgewoel vlug en gerieflike verblyf, heerlike wyn en smaaklike kos geniet.

En as jy daardie geweste ken, sal jy weet jy moet jou ysterperd saamvat. Oor die naweek wat ons daar was, het daar gereeld fietsryers in die pad voor die huisies verby gery, òf in die rigting van Elim òf in die rigting van Struisbaai. En ek kan my eerste besoek aan hierdie geweste byna ’n dekade terug nog goed onthou, en met ’n groot glimlag, en daai Sondag se bergfietsrit saam met ’n paar van die omliggende wynmakers tot by ’n strandhuis waar daar so gekuier is dat ek eers die Maandag die pad terug huistoe kon vat pleks van die Sondagmiddag!

Daar is vyf roetes vir pad- en/of bergfietse wat wissel in afstand van 36 km vir die bergfietstrappers tot 95 km vir die padfietstrappers.

Onder die natuurreservate in hierdie omgewing wat enige eko-toeris se mond sal laat water, is die bekende De Hoop-natuurreservaat, Andrew’s Field (‘n privaat reservaat), Agulhas Nasionale Park en Geelkop Privaat Natuurreservaat. En dan’s daar natuurlik Elim.

Maar terug na die juwele van Black Oystercatcher en sy omgewing. Ons het die Vrydagaand op Bredasdorp gaan eet aangesien ons laterig by ons bestemming aangekom het. Daar is nie veel goeie eetplekke op Bredasdorp nie, vra dus gerus vir verwysings van die mense wat weet. Die Saterdagoggend na brekvis het ons besluit om die omgewing te gaan verken en is ons deur Struisbaai na Kaap Agulhas – tot by die vuurtoring en toe na die mees suidelike punt van Afrika – en toe deur Bredasdorp na Arniston. Hier het ons middagete by die hotel geniet.

Aangesien ’n bottel van Dirk se Triton (’n versnit van cabernet sauvignon, merlot en shiraz) en skaaptjoppies, skaapribbetjies en boerewors op ons gewag het (Tab vir vroulief!), asook braaibroodjies, het ons terug gekeer, eers bietjie boek gelees op die stoep en toe die vuurtjie aangesteek. En so in die stilte en rustigheid van die omgewing, met die geknetter van die vuurtjie en die Golden Oldies van die 50s, 60s en 70s om ons geselskap te hou, het ons ’n regte, egte boerebraai gehou, net ek en my prinses.

LINKS: Die vyf heerlike wyne wat onder die Black Oystercatcher-etiket verskyn.

Na nog ’n heerlike nagrus het ek my ysterperd opgesaal en die pad gevat terwyl vroulief besluit het om die koue in die bed te trotseer. Tot by Elim en terug het ek die ysterperd se wiele laat sing op die teerpad, en na ’n lekker warm stort het ons opgepak, maar voordat ons huiswaarts gekeer het, het ons vir middagete gaan aanmeld in Black Oystercatcher se eetplekkie met sy gemaklike, huislike atmosfeer.

Eers het ek die vyf wyne in die Black Oystercatcher-portefeulje geproe – van die Sauvignon Blanc, White Pearl en Rosé tot die Cabernet Sauvignon/Merlot en die Triton – en toe het ek op nog ’n bottel van die Triton besluit om my ete te vergesel. Die spyskaart is eenvoudig, maar maak voorsiening vir die hele gesin, en die disse word van vars bestanddele gemaak. Daar is soppe en slaaie, hoender en seekos, ietsie van die rooster af, en ietsie vir elke soet tand. Dan’s daar ook kaas- en Black Oystercatcher-borde.

REGS: 'n Voorgereg, met daai rooiwyn, om enige smulpaap na sy asem te laat snak!

Soos voorheen reeds telkemale genoem, alle goeie dinge kom ongelukkig tot ’n einde en ons het maar langtand die pad terug huistoe aangepak. Ons het Back Oystercatcher reeds by ’n hele paar geleenthede vir vriende en kennisse aanbeveel en almal het dit die thumbs up gegee!

Vir meer inligting, besoek www.blackoystercatcher.co.za, vir verblyf of restaurantbespreking, skakel 028 482 1618 of stuur ’n epos aan stay@blackoystercatcher.co.za of eat@blackoystercatcher.co.za.

 

EINDE