Die Robertson-wynvallei bly verras met sy groot verskeidenheid

Die Robertson-wynvallei loop oor van verrassings, waarvan sy natuurskoon een is.

Suid-Afrika, en die Wes-Kaap in die besonder, het soveel te verken, ervaar en geniet dat ons jare gelede besluit het om so ver moontlik nooit na dieselfde plek terug te keer nie. Nodeloos om te sê, daar is egter sekere gebiede waar mens net eenvoudig nie kan wegbly nie. Die Robertson-wynvallei is een van hulle.

Vroeër vanjaar was ons twee dan ook vir die tweede keer in omtrent net soveel jaar weer eens in daai geweste. Hierdie keer het die baie gawe mense van die wynroetevereniging vir ons ’n “nuwe” naweek aangelê, met nuwe eetplekke, blyplekke, wyne en ervarings. En dit was, weer eens, “pura gioia” soos die Italianers dit noem, pure genot in die Boeretaal.

Ons naweek van “pura gioia” het afgeskop met ’n besoek aan die bekende Zandvliet-wynlandgoed tussen Robertson en Ashton. Nou kyk, as ek aan Zandvliet dink, dink ek aan shiraz. Moenie my vra waar dit vandaan kom nie, maar baie jare gelede het ek ’n bottel Zandvliet Shiraz met iemand gedeel en daai rooie het só ’n indruk op my gemaak dat ek dit vandag nog kan onthou. En onthou, daardie jare het ek niks van wyn geweet nie, nie dat ek vandag veel meer weet nie, “but you get the picture”!

Zandvliet het vir ons ’n “olyfpestoparing” aangelê, iets waaroor ek maar skepties was, maar wat ’n heerlike, avontuurlike en opvoedkundige ervaring was dit toe nie! Gewoonlik by sulke geleenthede kry mens kos en wyn wat bymekaar pas, wat die hele affêre ’n aangename ervaring maak maar jou nie veel leer nie. Hier moes ek self meet en pas tussen verskillende olyfpastas en Zandvliet-wyne, en gou het ek uitgewerk wat vir my smaakkliere die beste werk en wat nie. Dit was nie net pret en leersaam nie, maar het my wynreis van ontdekking ook ’n stewige hupstoot gegee.

Die wyne wat ek geproe en gepaar het, was Zandvliet se 2014- Chardonnay, 2011- Shiraz, 2011- Cabernet Sauvignon, 2014- My Best Friend Cape Muscat, 2011- Hill of Enon Terroir Chardonnay, 2012- Hill of Enon Small Berry Pick Shiraz en 2009- Kalkveld Shiraz. Omdat wyn so ’n subjektiewe en persoonlike ervaring is, hou ek nie juis daarvan om “gunstelinge” te kies nie, maar Zandvliet se Shiraz, enigeen van hulle, het my laat verstaan hoekom ek al die jare hierdie kultivar met hierdie landgoed assosieer. Vir meer oor Zandvliet, besoek gerus www.zandvliet.co.za.

Aangesien dit reeds laterig die Vrydagmiddag was, het ons besluit om na ons oornagverblyf by Mo&Rose at Soekershof te gaan, ook tussen Robertson en Ashton, en in te bespreek. Soekershof verwys na die tuin gevul met bome en ’n allemintige verskeidenheid vetplante van verskillende vorms en groottes wat die lowergroen grasperke “omhels”, ’n ware lus vir die oog.

BO: Mo&Rose se pragtige tuin bied lafenis vir die siel terwyl die puik akkommodasie en die ewe puik resaurant jou ander behoeftes sal bevredig.

Ons sou later die aand vir Fanus Bruwer van Quando-wyne daar kry vir ’n proe van sy wyne en aandete in die restaurant. Die Robertson-vallei het ons by ’n vorige geleentheid verras met die gehalte en verskeidenheid van sy verblyf, maar ek reken Mo&Rose vat die koek, of deel dit ten minste met ’n paar ander plekke in daai vallei waar ons reeds oornag het. Nie alleen is dit ’n natuurskone oase van grasperke en vetplante wat jou verwelkom nie, maar ook vriendelike en professionele personeel, en ons kamer was goed genoeg vir BBP’s. En net so ’n aangename verrassing was die jong paartjie wat dit besit en baie professioneel bedryf, Alex Daniel uit Duitsland en die pragtige Monika wat uit Italië kom.

Die restaurant kyk uit op genoemde oase, wat ontbyt natuurlik ekstra lekker maak, en ons het teen sonsondergang vir Fanus daar gekry. Hy het vier van sy wyne saamgebring en ons het weggespring met die Quando Sauvignon Blanc 2014, gevolg deur die Chenin Blanc Viognier 2014, die Mourvèrdre Rosé 2014 en sy 2012- Pinot Noir. Die Pinot Noir is die duurste van sy wyne, teen slegs sowat R80, terwyl die wittes wissel van sowat R45 tot R55. As ek nie reeds soveel wyn gehad het nie (en onthou, ek drink alleen maar het altyd ’n nugter drywer!) het ek beslis ’n kissie elk van daai wit versnit en die Rosé gevat, en sommer ook ’n paar bottels van daai Sauvignon Blanc. Dis nou puik waarde vir geld.

Fanus se Sauvignon Blanc het vier sterre in die Platter-wyngids gekry (so ook die wit versnit) en 91 punte by Robert Parker, so hy weet beslis wat hy doen! Om meer uit te vind oor Quando se wyne, besoek www.quando.co.za. Terloops, Fanus se wyne is beskikbaar by goeie restaurante en uitgesoekte wynwinkels.

BO: Fanus Bruwer agter vier van sy puik Quando-wyne. Onthou die naam!

Van die os op die jas, die mense in Mo&Rose se kombuis het by al drie van ons ’n pluimpie verdien vir die aand se kos, terwyl die diens flink en vriendelik was. Wat meer soek mens?

Die Saterdagoggend is afgeskop met ’n heerlike brekvis in Mo&Rose-restaurant voordat ons die pad gevat het vir ons eerste afspraak by Bonnievale. Vir meer inligting oor Mo&Rose, besoek gerus www.moandrose.co.

Anderkant Bonnievale het die River Goose vir ons op die Breërivier gewag. Ons is deur Bonnievale-kelder uitgenooi om ’n wyn-en-biskuitjieparing op die rivier te ervaar, en die River Goose het ons ’n uur lank op ’n rustige vaart geneem terwyl ’n dametjie van die kelder ons smaakkliere op ’n interessante en opvoedkundige reis met Bonnievale-wyne en biskuitjies geneem het.

BO: 'n Rustige vaart op die Breederivier en 'n eersteklas-wynaanbieding, nog 'n pyl in Robertson se koker!

Ek het baie jare laas iets uit die Bonnievale-kelder geproe en is baie aangenaam verras met al die wyne wat ons op die rivier geproe het.

Vir meer inligting oor Bonnievale-kelder se reeks wyne, besoek gerus www.bonnievalewines.co.za.

Dit was tyd vir middagete en ons het die kort entjie na Esona aan Robertson se kant van Bonnievale gery waar middagete op ons gewag het by die Caryl’s@Esona Deli. ’n Heerlike ligte middagete van kouevleise, kase en vars brood, met pragtige uitsigte op die wingerde en die vallei en ’n bottel van Esona se Frankly my Dear Pinot Noir Blanc de Noir 2013 om my geselskap te hou, is gevolg deur ’n proe van vier van die tien Esona-wyne, die 2012- en 2013- Single Vineyard Sauvignon Blancs, die 2013- Single Vineyard Chardonnay en die 2013- Single Vineyard Shiraz. Die proe-ervaring staan bekend as Esona Taste the Difference Experience en behels ’n verduideliking van die grondsoorte waarin die wingerde staan en hul invloed op die wyne en verskillende druiwe saam met die verskillende wyne.

BO: Vroulief tussen die wingerde van die pragtige vallei en met Esona se kelder/proelokaal/eetplek in die agtergrond.

As ek “single vineyard” op ’n bottel wyn sien uit hierdie geweste, dink ek onmiddellik aan Lourens van der Westhuizen van Arendsig net anderkant die rivier van Esona af. Lourens, wat toevallig ook Esona se wyne maak, is bekend vir sy enkelwingerdwyne en veral die 2012- Sauvignon Blanc en die Shiraz het indruk gemaak. Die groepie wat saam met ons die heerlike wynreis by Esona onderneem het, was ook vol lof vir die wyne, maar hulle het verskil oor watter een die “beste” was, soms nogal heftig, en dit het net weer eens bewys hoe subjektief en persoonlik wyn is. As jy nie van ’n wyn hou nie, beteken dit nie dis sleg nie, dis net jou smaakkliere wat nie daarvan hou nie en iemand anders gaan tien teen een liries raak daaroor.

BO: 'n Foto vertel meer as 'n duisend woorde!

Besoek www.esona.co.za om meer oor hierdie boetiekwynmakery uit te vind.

Ons volgende afspraak was by Ashton-kelder waar ’n vrugte-en-wynparing op ons gewag het. Daar was sewe wyne en sewe “vrugte”. Die wyne het gewissel van die 2014- Chardonnay tot die 2011- Red Muscadel en die “vrugte” van makadamianeute en rosyntjies in sjokolade gehul tot heuning-bedekte piesangstukkies en Turkse appelkoos. Dit was nou ’n behoorlike en heerlike “mix and match” om by die regte kombinasies uit te kom, en weer eens baie leersaam.

Ashton-kelder het ’n omvattende wynreeks om in elkeen se smaak te val, en die pryse is van so ’n aard dat mens maklik ’n kissie van elkeen van jou gunstelinge kan kies sonder om jou bankbestuurder ongelukkig te maak. En daar’s druiwesap ook, wat vroulief gelukkig gemaak het. Besoek www.ashtonkelder.co.za vir meer inligting.

Ons verblyf vir die Saterdagaand was by Jan Harmsgat Country House (www.janharmsgat.com) langs die pad tussen Bonnievale en Swellendam. Nes Mo&Rose was Jan Harmsgat ’n groot en aangename verrassing. Net so terloops, ons twee het in die honeymoon suite oornag!

Ons is uitgenooi om die aand ’n kos-en-wynparing saam met ander gaste by te woon, maar eers was ek bevoorreg om saam met genoemde Lourens van der Westhuizen vyf van sy enkelwingerdwyne in ’n privaat-sitkamer te proe. Daar was Arendsig se 2012- Cabernet Sauvignon , 2013- Shiraz en drie wyne uit die 2014-oesjaar, die Arendsig Chardonnay, Viognier en Grenache.

BO: Jan Harmsgat Country House laat jou behoorlik ontvlug van die stad se geharwar en geraas.

Dit gebeur selde dat elke wyn wat ek proe van ’n handelsmerk ’n sterretjie by my verdien, maar elkeen van Lourens se wyne het dit reg gekry, terwyl daai Grenache my selfs ’n engelekoor laat hoor het! Gaan kyk gerus na www.arendsig.co.za om meer te wete te kom oor Arendsig se wyne.

BO: Lourens van der Westhuizen by 'n paar van sy puik enkelwingerdwyne.

Die aand se kos-en-wynparing het wyne onder die Jan Harmsgat-etiket, wat toevallig óók deur Lourens gemaak word ingesluit. Die drie wyne was die Jan Harmsgat Sauvignon Blanc 2014 wat met ’n sop gepaar is, die Chardonnay 2014 wat ’n eend-ravioli se maat was en die Shiraz 2011 wat saam met ’n sappige beesfilet geniet is. Terloops, die kombuispersoneel verdien hier ook ’n pluimpie.

Die volgende oggend na ’n heerlike ontbyt het ons afskeid geneem van die paartjie wat Jan Harmsgat Country House bestuur, Riaan “Die Nutsman” Venter en Michelle Garforth-Venter van TV-faam, en die pad terug deur Bonnievale gevat na Excelsior waar Peter de Wet ons ingewag het. Die De Wet-familie is al sedert 1859 die eienaars en bewaarders van hierdie stuk aarde. Eers het Peter ons deur die kelder geneem waar ons ’n paar wyne uit die tenk en vat geproe het voordat ons op die dek van Excelsior se proekamer bo-op ’n plaasdam gaan ontspan het.

BO: Vir die tweede keer in byna soveel jaar het ek en Peter op die dek by Excelsior se proelokaal sit en wyn proe terwyl ons die natuurskoon om on sgade geslaan het. La dolce vita!

Ons het tydens ’n vorige besoek in Excelsior se weelderige herehuis oornag en kan dit ten sterkste aanbeveel, en ek het ook toe die voorreg gehad om saam met Peter die landgoed se wyne te proe, wyne wat glo groot byval vind in veral Amerika, en ek kan verstaan hoekom. Hierdie keer het ek sewe van hul wyne geproe, twee van die 2012-oesjaar en vyf van die 2014-oesjaar. Veral die 2014- Sauvignon Blanc en Chardonnay en die 2012- Merlot het groot indruk gemaak.

Om meer oor Excelsior se aanbiedings uit te vind, besoek www.excelsior.co.za.

Ons laaste uitspanplek die naweek was op Bon Cap tussen Robertson en Worcester waar ons middagete sou geniet en ek sou wyne proe.

Die middagete het bestaan uit ’n heerlike buffet met ’n groot verskeidenheid watertandddisse. Ek het afgeskop met die landgoed se Bon Cap MCC 2007 waarna ek hul 2014- The Ruins Sauvignon Blanc, 2014- The Ruins Chardonnay Viognier en 2014- The Ruins Rosé saam met verskillende voorgeregte geniet het.

BO: Bon Cap: alle goeie dinge kom tot 'n einde, maar hoekom?

Hierna het ek na die rooiwyne oorgeskakel saam met hoofgeregdisse. Eers was dit Bon Cap se 2013- The Ruins Pinotage wat aan die beurt gekom het, gevolg deur die Bon Cap Cape Blend 2007 en die Bon Cap Perfect Blend NV.

Besoek gerus www.boncaporganic.co.za vir meer inligting.

Met die terugry huistoe kon ons (weer eens) nie uitgepraat raak oor die diversiteit en gehalte van die Robertson-vallei se wyntoerisme-aanbiedings nie, en maak nou nie saak of jy ’n wynliefhebber of ’n wynsnob is nie, of ’n liefde het vir haute cuisine of heilsame kontreikos nie, daar is letterlik iets vir elke smaak (en elke beursie) in hierdie natuurskone vallei.

As jy wil weet wat jy alles in hierdie vallei kan sien, ervaar en doen, en daar is sommer baie, besoek gerus www.robertsonwinevalley.com.

Tot volgende keer!

EINDE