Delheim se Grand Reserve keer terug in volle glorie

Delheim se Grand Reserve 2013.

Delheim, die bekende Stellenbosse wynplaas van die Sperling-familie, vier die herlewing van sy vlagskip-rooiwyn, die Delheim Grand Reserve, na ‘n afwesigheid van vier jaar met die bekendstelling van die jongste oesjaar, naamlik 2013, wat gemaak is van 100% cabernet sauvignon-druiwe.

Die statige Delheim Grand Reserve, wat slegs in uitsonderlike oesjare in beperkte hoeveelhede geproduseer word, het in 1981 vir die eerste keer die lig gesien. Dit het sedertdien wêreldwyd erkenning ontvang as ‘n ikoniese wyn wat van slegs die beste druiwe op die plaas gemaak word.

“Oor die jare het ons Grand Reserve – wat ‘net die beste’ beteken – sy naam gestand gedoen omdat dit van dag een af toe sy eerste skepper, Kevin Arnold, hom die wêreld ingestuur het, die grootste motivering agter ons ‘super rooi’ was. Vandag koester lojale aanhangers dit nog steeds as ‘n wyn van uitnemendheid,” vertel Delheim se wynmaker en hoofbestuurder, Reg Holder.

Holder en sy span se filosofie in die wingerd en die kelder is dié van minimale inmenging en om die natuurlike siklusse van die wingerde te respekteer, en die Delheim Grand Reserve volg geen spesifieke resep nie, maar eerder ‘n styl. Dit is altyd cabernet sauvignon-gedrewe, maar mag ook titsels van ander Bordeaux-variëteite bevat indien die wynmaker dink dat dit in daardie spesifieke oesjaar sal bydra tot die gehalte van die eindproduk.

“Cabernet sauvignon wys tans sy ‘man alleen’-staal in ons 2013-oesjaar, wat afkomstig is vanaf twee wingerde geleë op die suidwestelike hange op ons Vera Cruz-landgoed. Hierdie stukkie wynparadys op Klapmutskop het Delheim se ‘Oom’ Spatz Sperling al in 1975 bekom sodat hy met die land se beste rooiwyne kon meeding en naam maak as ‘n top rooiwynprodusent,” verduidelik Holder.

Met sy donker robynrooi gelaat weerspieël die Delheim Grand Reserve 2013 die voortreflike, onbetwisbare Simonsberg-terroir met geure en aromas van ryp swartbessies, speserye en donker sjokolade, gesteun deur aardse nuanses. Die wyn is vrugtig met finesse en die mondgevoel is goed gestruktureer met subtiele eikehout-integrasie, elegante dog ferm tanniene en ‘n talmende nasmaak.

Die Delheim Grand Reserve 2013 kan nou dadelik gedrink word, maar sal jou soveel meer beloon as jy dit vir ‘n verdere vyf tot tien jaar verouder om sy volle potensiaal te ontwikkel. Dit is ‘n voortreflike keuse saam met rooivleis soos verouderde ribfilet of lamsnek, of bedien dit ook saam met ‘n geurige risotto van eend en wilde sampioene.

Hierdie sagte dog stewige wyn is beskikbaar teen R285 per bottel en kan direk vanaf die plaas bestel word, of kyk uit vir dit by eksklusiewe wynhandelaars en restaurante landwyd.

Vir meer inligting of wynbestellings, kontak  Delheim by 021 888 4600 of info@delheim.com.

 

EINDE