In die middel van die Groot Karoo, ’n klein oase

Die Groot Karoo se pragtigste oase, die Prins Albert-vallei.

“Een keer per jaar moet jy na ’n plek gaan waar jy nog nie vantevore was nie.” – Dalai Lama.

Met hierdie lewensfilosofie in gedagte het ek nie net dekades gelede die wêreld aangepak nie, maar meer as ’n dekade gelede ook die wynproduserende wêreld. My wynreis van ontdekking het in Stellenbosch, die dorp waar ek gebore en getoë is, begin, en vanuit die Stellenbosse wynstreek het ek in alle windrigtings in koers gekies om nuwe wynstreke te ontdek, hul wyne te proe, hul streekskos te geniet en hul wynmense te ontmoet.

In Suid-Afrika het ek van die Weskus-wynstreek in die weste tot die Plettenbergbaai-wyndistrik in die ooste, en alles tussenin, ontdek en ervaar. Of so het ek gedink. En toe hoor ek mos eendag van ’n klein wyn-oase in die middel van die Groot Karoo, die Prins Albert-vallei daar iewers in die dorre Karoo tussen Oudtshoorn en Beaufort-Wes.

En by verdere navraag vind ek die name uit van die vier wynprodusente in daai vallei, van Soet Karoo op die dorp self, en dan die dorp uit verby Fernskloof en Bergwater tot by Reiersvlei.

Eendag, in die middel van die somer (wat nie juis die beste besluit is wat ek al ooit geneem het nie!), vat ons twee toe mos die pad vanaf die Tuinroete deur Oudtshoorn en die asemrowende Meiringspoort na Prins Albert. En dis warm. So warm dat die pappegaaie nie eers meer kans sien om te gaap nie. Die volgende keer sal dit beslis in die winter wees. Die korter roete oor die Swartbergpas, nog een van Thomas Bain se meesterstukke, met sy grondpad het ek nie voor kans gesien nie. Ook volgende keer.

Maar terug na ons besoek. Ons het twee dae in ’n gastehuis op die dorp oorgebly en tussen die besoeke aan die wynprodusente ook Prins Albert se vele verrassings verken en ontdek, van die verskeidenheid eetplekke en kunsgalerye tot die Fransie Pienaar Museum en ander besienswaardighede.

Prins Albert, oorspronklik bekend as Albertsburg, het in 1842 ontstaan. Die dorp is in 1845 vernoem na Koningin Victoria se man. Die dorp het nog baie van sy 19de eeuse karakter behou en baie van sy Kaaps Hollandse, Karoo- en Victoriaanse argitektuur.


Soet Karoo se dekadente dessertwyne!

My wynreis van ontdekking hier het by Soet Karoo van Herman en Susan Perold begin. Soet Karoo is ’n “dorpsplasie” van een hektaar in die dorp se hoofstraat. Die Perolds maak heerlike dessertwyn van die druiwe uit die “druiwetuin”.

Herman het die hektaar wingerd in 2000 geplant. Die kultivars waarop besluit is, is rooi hanepoot, rooi muskadel, petit verdot en touriga nacional. Susan het die motorhuis in ’n garagiste-keldertjie omgeskep. Om die konsep van “handgemaakte wyn” te beklemtoon, word die bottelering en verpakking van Soet Karoo se dessertwyne ook hier gedoen.

Jors troelie en Susan Perold met daai tongtergende Soet Karoo-soetes wat ook hul pad na my hart gevind het!

Vir meer inligting oor Soet Karoo se heerlik dekadente soetes, besoek www.soetkaroo.co.za, of kontak Herman of Susan op 023 541 1768 of perold@netactive.co.za.

’n Paar kilometer buite die dorp lê Fernskloof waar die Le Grange-familie reeds ses geslagte lank boer. Dis ’n boetiek-wynmakery waar Diederik vandag die septer in sowel die wingerd as die kelder swaai. Hy het wingerdbou en wynkunde aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer en daarna oeste beleef in Australië, Amerika, Uruguay, Frankryk en Nieu-Seeland. Hy weet dus wat hy doen!


Ongekunsteld en onpretensieus, nes die wynmaker, maar 'n heerlike smaaksensasie, dis Fernskloof se wyne.

Nadat die eerste twee geslagte Le Grange met druiwe geboer het, is die wingerde ongelukkig vroeg in die 1900s uitgekap, maar in 1995 is 8 hektaar chardonnay, merlot, pinotage, shiraz en cabernet sauvignon aangeplant. Sedert 2009 word daar organies geboer hier.

Diederik maak ’n heerlike Merlot, Cabernet Sauvignon, Shiraz en Chardonnay onder die Fernskloof-naam, asook ’n effe soet Pinotage Rosé.

Net so terloops, die naam Fernskloof is afgelei van ’n pragtige kloof op die plaas met druppende water, varings en stalaktiete wat in skerp kontras is met die andersins droë landskap van die Groot Karoo.

Diederik la Grange, so ongekunsteld en onpretensieus soos sy wyne, in Fernskloof se kelder.

As jy meer te wete wil kom oor Fernskloof en sy wyne, besoek www.fernskloof.co.za of kontak die plaas op 023 541 1702 of info@fernskloof.co.za.

Die volgende “stasie” op my wynreis van ontdekking was Bergwater waar Jacques Kruger, die wynmaker, my te woord gestaan het. Ons het eers die massiewe kelder besoek voordat ons proekamer toe is om bietjie wyn te proe.

Bergwater bestaan uit drie plase wat ’n massiewe 1 500 hektaar beslaan. Hiervan is sowat 80 hektaar onder wingerd. Die moderne kelder is glo die grootste in die Groot Karoo.


Bergwater het die grootste reeks wyne in die vallei.

Net so van die os op die jas, die wyne uit hierdie vallei (wat werklik soos ’n oase in die dorre Groot Karoo is) het in 2002 amptelike erkenning gekry as Wyn van Oorsprong Prins Albert-vallei. Bergwater se wyne sluit in ’n Merlot, Shiraz, Cabernet Sauvignon, Sauvignon Blanc, Chardonnay, Rosé en rooi en wit versnitte. Hier’s selfs koperketels vir die maak van jy-weet-wat, vuurwater! En olywe.

Meer inligting oor Bergwater en sy produkte kan gekry word by www.bergwater.com.

Een van die reiers op die plaas besig om op te styg. Hier is ook 'n vlei vol flaminke.

Ons laaste besoek op hierdie kort maar interessante wynreis van ontdekking was by Reiersvlei, so 24 km van Prins Albert af. Reiersvlei is weer ’n klassieke boetiekwynmakery waar Russell Inggs, wat voorheen diep spore in die sakewêreld getrap het, besluit het om sy “aftrede” te geniet. Die plaas is vernoem na die groot getal reiers wat ’n tuiste hier geskep het.

Die kelder is in ’n ou, historiese gebou op die plaas wat netjies gerestoureer is. Die wyne wissel van ’n puik droë witwyn tot volronde rooies en selfs heerlik dekadente dessertwyne, van muskadel tot port.

Vir meer inligting, besoek gerus www.reiersvleiwines.co.za, of kontak Russell op 023 541 1556 of reier@pawireless.co.za.

En so kom alle goeie en lekker dinge ongelukkig tot ’n einde. Ons twee sal beslis weer daar in die Prins Albert-vallei gaan inloer, maar wanneer dit koeler is. As jy meer wil uitvind oor hierdie dorp en sy omgewing, wat hier alles te sien, te doen en te ervaar is, besoek gerus www.princealbert.org.za of www.patourism.co.za, of stuur ’n epos aan princealberttourism@intekom.co.za.

 

EINDE