Jason’s Hill se bistro maak mens lus vir lekker laaaaang kuiers!

Die restaurant is op die eerste verdieping van die kelder/proelokaalgebou en bied pragtige uitsigte.

Suid-Afrikaners is baie bederf, veral dié wat in die Kaapse wynlande bly. As mens net aan die ontsaglike verskeidenheid dink wat die wynlande bied in terme van wyn, kos, akkommodasie en aktiwiteite, dan word dit gou duidelik dat niemand hoef te wonder wat hulle die volgende naweek gaan doen nie, of die volgende klomp naweke nie!

Wat kos betref, kan mens kies van eenvoudige en heilsame kuierkos tot haute cuisine, en ’n hele boksemdaais tussenin, en daar is so baie eetplekke op wynplase en by wynmakerye dat mens letterlik vir ’n paar jaar lank elke week by ’n ander plek kan gaan aansit sonder om twee keer na dieselfde eetplek terug te gaan.


In die natuurskone Slanghoekvallei, wat deel van die Breederivier-wynstreek uitmaak, wag ’n heerlike bistro om mense se hongerpyne te stil, hul lus vir lekker wyn te bevredig en hul siele te voed met asemrowende natuurskoon.

Die intieme Jason’s Hill Restaurant met sy ontspanne atmosfeer (amper soos huis weg van die huis) op Jasonsfontein is op die eerste verdieping van die kelder/proelokaalgebou geleë. In die somer, as die weer saamspeel, kan mens lekker op die balkon onder sonsambrele sit en jou oorgee aan kos, wyn en uitsigte uit die boonste rakke, terwyl ’n knetterende kaggelvuurtjie binne die koue van die wintermaande saam met die bistro se lekker kos en Jason’s Hill se lekker wyne sal hokslaan. Die restaurant het sitplek vir sowat 40 mense.


BO: Voeg net Jason's Hill-wyn hierby en jy't 'n fees vir 'n koning!

’n Suksesvolle ete het ’n eenvoudige resep: vars bestanddele wat deeglik voorberei is en netjies aangebied word. En in hierdie opsig slaag Jason’s Hill se bistro-styl restaurant  uitstekend.

Die spyskaart is oordeelkundig saam gestel met ’n goeie kombinasie van disse en wyn, en teen pryse wat beslis nie jou bankbestuurder ’n epileptiese aanval sal gee nie. Daar is ietsie vir almal, of jy nou net iets ligs soek om ’n hol kol te vul of iets veel meer om ernstige hongerpyne te stil. En die sjef en haar spannetjie staan gereed om honger en dors gaste gelukkig te hou van ontbyt tot middagete!

Jy kan kies uit  ’n verskeidenheid croissants (met of sonder vulsel) van R20 tot R52, bruschettas met vulsels van R55 tot R62, slaaie van R60 tot R70 en watertand hoofgeregte van R58 tot R125. Die hoofgeregte sluit pasta en pizza, die bekende Bistro-burger (regs), beesfilet, vis en tjips, en garnaalkerrie in. ’n Swartbord vertel die storie van die soet tand waarmee elke ete afgesluit móét word!

Benewens die wynlys (wat wyn per glas insluit), is daar ook ander drinkgoed, en dis beslis nie net koffie en tee nie. Aikôna, jy kan gaan sit en Bubbly drink, of verlustig jou aan ’n Boozy Strawberry Limeade, Funky Mojito of Bloody Mary. Daar is selfs bier en spititualieë vir diegene wat nie goeie wyn kan waardeer nie!

Drinking good wine with good food is one of life’s most civilized pleasures! So sê dit op die spyskaart, en hier in die Jason’s Hill Restaurant word dit waar bewys.

Vir enige navrae, meer inligting of om te bespreek, kontak Jason’s Hill by 023-344-3256of info@jasonshill.co.za, of besoek www.jasonshill.co.za.

EINDE