Cinsaut en ruby cabernet smag om verken te word!

Die rooies wat van vooraf "ontdek" en "verken" is.

Vier jaar gelede in Italië het ek agter gekom dat daar baie meer wyne is as die paar Italiaanse knape wat ons hier aan die suidpunt van Afrika ken. Sommer BAIE meer. Verlede jaar in Portugal en vroeër vanjaar in Spanje is ek weer eens uit die veld geslaan oor hoeveel verskillede kultivars daar is waarvan ek niks weet nie. En ek was tegelykertyd teneergedruk en verheug! Teneergedruk omdat daar nog so baie wyne is wat ontdek en verken moet word en verheug … omdat daar nog so baie wyne is wat ontdek en verken moet word!

Nes ek bekommerd raak dat my wynreis van ontdekking einde se kant toe staan, duik die onbekendes en minder bekendes soos ’n wafferse kisduiweltjie (vir diegene wat nie weet nie, “jack-in-the-box”) op om my te laat besef dat hierdie reis eintlik nooit ’n einde het nie.

En dis nie net in die buiteland waar ek my wynreis elke jaar probeer voortsit nie, maar ook hier op tuisbodem.

Ek het onlangs tot my groot skok en teleurstelling agter gekom dat wit kultivars soos colombard en riesling byna geen aftrek kry by Suid-Afrikaanse wyndrinkers nie. Let wel, ek verwys na wyndrinkers want wynliefhebbers sal altyd iets nuuts probeer, is nuuskierig, avontuurlustig, ondersoekend en verkennend.

Terwyl ek toe my wyne in bokse pak vir die trek na ons nuwe tuiste effens verder op teen die Weskus, kom ek mos met ’n skok agter dat daar ruimte vir verbetering is. Nie een cinsaut nie, nie een ruby cabernet nie!

Ek gaan loer toe weer in by dieselfde supermarkte en drankwinkels waar ek na colombard en riesling gaan soek het, met dieselfde resultaat: “Jammer meneer, ons hou dit nie aan nie want daar’s nie ‘n vraag daarvoor nie!”

Terwyl ek innerlik gevloek en skel het omdat ons steeds nie ’n wynkultuur in Suid-Afrika het nie – dis wanneer wyn verantwoordelik geniet EN waardeer word deur mense op die wynreis van ontdekking – het ek rond gebel en uiteindelik my hande gelê op twee cinsauts en twee ruby cabernets.

Die cinsauts kom van Darling Cellars en Landskroon, en die ruby cabernets van BELLPOST en Robertson Winery.

CINSAUT

Suid-Afrikaners ken cinsaut (ook bekend as hermitage) as die een “ouer” van ons trots Suid-Afrikaanse rooi kultivar, pinotage. Die ander ouer is natuurlik pinot noir.

Cinsaut (ook cinsault gespel) is ’n donker rooi druifsoort wat tradisioneel gebruik word as versnitmaat vir grenache, syrah en mourvedre in ’n klassieke Suidelike Rhône-versnit. Dit is redelik vreemd om cinsaut as ’n enkelkultivarwyn te vind, behalwe as ’n rosé waar hy homself glo uitdruk as lig, aromaties en verfrissend. En tog kan dit ’n heerlike, genotvolle drinkwyn maak wat so halfpad tussen lig en volrond pas.

Hierdie druifsoort word eeue lank al in die suide van Frankryk aangetref en is een van die sogenaamde “mindere” druifsoorte wat in die bekende Chateauneuf-du-Pape-versnit toegelaat word.

Cinsaut se “verdraagsaamheid” vir baie warm, droë klimate het daartoe gelei dat dit met groot sukses in lande soos Marokko, Algerië en Lebanon verbou word.

Wyn van cinsaut bied oor die algemeen lae tanniene. Die druifsoort word oor die algemeen in versnitte gebruik weens sy parfuumgeure. Dit het baie in gemeen met grenache.

Cinsaut is nie so swaar dat dit met kos geniet móét word nie, maar Marokkaanse lamsvleis met pruimedante en appelkose is glo ’n wenkombinasie met die wyn, so ook ham en varkvleis, en selfs sardientjies en salm.

Wanneer ek van cinsaut praat, dink ek altyd heel eerste aan Landskroon daar by die Paarl, en daarom was ek bly dat ek my hande kon lê op ’n kissie Landskroon Cinsaut 2015.  En dis beslis nie my laaste nie! Die geure van rooi kersies in die wyn word pragtig gebalanseer deur die ligte houtbehandeling, terwyl die sagte tanniene en die talmende nasmaak mens laat uitsien na die volgende glas.

Die tweede cinsaut, Darling se 2014- Cinful Cinsault, doen sy beskrywing agterop die bottel deeglik gestand, naamlik “A devilishly good red from Darling Cellars”! Heerlike aromas van granaat, spookasem en droplekkers is jou eerste bewuswording wanneer jy hom ruik, en hierdie geure vind jy ook in die mond. Dis ’n sagte, vrugtige en vars wyn wat eenvoudig daarop gemik is om plesier te verskaf.

Bedien albei wyne teen “Europese” kamertemperatuur – min of meer 16°C – en moenie skaam wees om dit in die somer so 20 minute voor “drinktyd” in die yskas te sit nie.

RUBY CABERNET

Ruby cabernet is ’n kruis tussen cabernet sauvignon en carignan, en is oorspronklik geskep om ’n meer bekostigbare, genotvolle tafelwyn van goeie gehalte te produseer. Nes cinsaut word dit ook oor die algemeen gebruik in versnitte, om kleur en geur te verleen.

Hierdie druifsoort het oor die jare heen baie gewild geword in die Suidelike Halfrond, en sommige dele van Amerika, vanweë sy weerstand teen hitte en die goeie gehalte-wyn wat hy kan oplewer. Dit is ongelukkig nie ’n maklike wyndruif om te verbou nie en baie van die streke wat daarmee begin het, het uiteindelik tou opgegooi. Streke soos Robertson en die Olifantsriviervallei van die Weskus lewer steeds puik tafelwyne van hierdie kultivar.

Wyn wat van ruby cabernet gemaak word, is oor die algemeen effe ligter as dié wat cabernet sauvignon voortbring. Dit is oor die algemeen sag en nogal pruimagtig in terme van geur, met aardse geure en ferm tanniene.

Maar kom ons kyk bietjie na ons twee “proefkonynes”. My eerste kennismaking met ruby cabernet was uit die Olifantsriviervallei daar by Vredendal, en dit was een van BELLPOST s’n. Die 2011-oesjaar van hierdie wyn spog met geure van rooi en swart vrugte, droplekkers en speserye, het ’n stewige tannienstruktuur en eindig lekker droog in die mond. Die kultivar het al heelwat toekennings vir BELLPOST ingesamel en behoort in elke ware wynliefhebber se versameling te wees.

Die ander ruby cabernet kom van Robertson af, uit die 2015-oesjaar. Hierdie wyn, wat die wynmakery aanbeveel jonk geniet moet word, is vrugtig en sappig en stel aardse en aarbeigeure vry. Die wynmaker reken dit moet teen tussen 12 en 14°C geniet word, op sy eie of saam met ’n verskeidenheid disse wat oondgeroosterde beesvleis en hoender, potjies en kasserolle, lamsvleis en selfs pasta insluit.

Nou ja, as jy nog nie cinsaut en ruby cabernet ervaar en geniet het nie, is dit nou die tyd. Moenie op die stasie se perron sit en kyk hoe die lewe verby jou flits en jou agter laat nie, klim op die trein en geniet die ongelooflike wynreis van ontdekking.

Tjorts!

EINDE