Wie nie vra nie, weet nie!

Die onkundige is die een wat bang is om "dom" vrae te vra!

Hoekom is mense so bang om vrae te vra oor wyn? As jy nie vra nie, sal jy nie weet nie, en hoe meer jy vra, hoe meer leer jy tog. Die mense wat níé vra nie, is diegene wat in onkunde vasgevang bly. Moet dus nie bang wees nie, vra en leer meer. Onthou, daar is baie mense wat ‘n sug van verligting gaan slaak omdat jy die vrae vra wat hulle eintlik te bang is om te vra.

Oor die jare heen het ek talle vrae ontvang van mense wat die wynreis van ontdekking met my meemaak. Waar ek kon, het ek geantwoord, en waar ek nie kon nie, het ek self gaan kers opsteek by mense wat meer as ek weet. En ek doen dit vandag steeds!

Hier’s ’n paar van die vrae wat al opgeduik het.

Verbeter wyn werklik met veroudering?

Ja, maar dit hang van die wyn af. Gehalte en kultivar speel ’n groot rol.

Goedkoper wyne sal waarskynlik nie baat by lang veroudering in die bottel nie. Dit is dus belangrik om by die wynmaker of afsetpunt uit te vind hoe lank die wyn kan verouder. Gehaltewyne word beter met bykomende bottelveroudering, maar dit is belangrik dat dit korrek geberg word. Ook hier kan die wynmaker of afsetpunt jou raad gee oor hoe lank dit nog in die bottel kan deurbring.

En dis nie net rooiwyn wat verder kan verouder nie. Witwyn wat goed gemaak word, kan net so goed verbeter met bottelveroudering. As die etiket agterop die bottel jou nie ’n aanwysing van moontlike veroudering kan gee nie, kan jy gerus na die produsent se webblad gaan kyk.

Hier’s so ’n vinnige samevatting van gewilde wyne wat kan verouder:

ROOI:

Shiraz – 4 tot 16 jaar

Merlot – 2 tot 10 jaar

Cabernet sauvignon – 4 tot 20 jaar

Pinot noir – 2 tot 8 jaar

WIT:

Riesling – 2 tot 30 jaar

Chenin Blanc – 4 tot 30 jaar

Sauvignon Blanc – 2 tot 5 jaar

Chardonnay – 2 tot 6 jaar

Sangiovese – 2 tot 8 jaar

Maak die vorm en grootte van die glas werklik ’n verskil?

Die regte glas sal jou wyngenot beslis vergroot. Rooiwynglase is in die algemeen groter en breër as witwynglase om meer lug toe te laat om met die wyn in kontak te kom en te help om die veelvuldige aromas en geure vry te stel. In die geval van witwyn wil mens juis nie te veel lug toelaat wat moontlik oksidasie kan toelaat en die wyn van sy varsheid en lewendigheid ontneem nie.

Vir sjampanje (bekend as MCC of Cap Classique by ons) word smaller en slanker glase gebruik, maar die jongste tendens is ook na glase wat effe nouer is bo. Maar bly weg van plastiekglase waar moontlik!

Is dit verkeerd om ys by rooiwyn te gooi?

Nee, elke mens moet sy/haar wyn drink soos hy/sy dit die meeste geniet, maar onthou dat ys die wyn verdun en dus ’n negatiewe uitwerking op die aromas en geure kan hê. Rooiwyn moet teen (Europese) amertemperatuur gedrink en geniet word. Dis om en by 16°C.

Al ooit gehoor van die 20 minute-reël? Wel, dit stipuleer dat mens witwyn wat in die yskas aangehou word 20 minute voor die tyd moet uithaal en rooiwyn weer 20 minute voor die bottel oopgemaak word in die yskas moet sit om aft e koel. Probeer dit gerus.

Help dit om ’n oop bottel rooiwyn in die yskas te stoor?

Daar is heelwat meningsverskil hieroor. Sommige mense beweer mens moet ’n oop bottel rooiwyn - met sy prop of skroefdop - teen dieselfde temperatuur berg as voor dit oopgemaak is, maar dan moet dit uiteraard vooraf in ’n koel, donker en stil plek geberg gewees het. Ander beweer weer die wyn moet in die yskas gestoor word - met sy prop of skroefdop - en sowat 20/30 minute voor bediening weer uitgehaal word. Hoe dit ook al sy, drink daai bottel leeg binne 24 – 48 uur want daarna gaan daar nie juis veel oor wees om te geniet nie.

 

Kan mens witwyn nét met wit vleis en rooiwyn nét met rooi vleis geniet?

Hierdie heilige koei het gelukkig lankal in die slagplaas beland! Dit hang alles van “gewig” af: die “gewig” van die kos teenoor die “gewig” van die wyn. So kan mens ’n ligte rooiwyn met hoender geniet wat byvoorbeeld met sterker speserye voorberei is of ’n gehoute witwyn met skaapvleis wat met ligter speserye gaar gemaak is. Die “gewig” van bykosse kan ook die uiteindelike wynkeuse beïnvloed, en so ook die souse wat saam voorgesit word.

Afhangende van wat jy in ’n slaai sit, kan sowel wit- as rooiwyn ’n wenkombinasie maak. En dieselfde geld ook vir pastadisse.

En moenie van rosé-wyne vergeet nie. Veral droë rosé-wyne is baie veelsydig en kan by ’n groot verskeidenheid disse pas.

Dis egter baie belangrik dat mens eksperimenteer en vir jouself uitwerk wat pas die beste bymekaar. Onthou, sowel kos as wyn is NIE ’n bestemming nie, maar ’n wonderlike reis van ontdekking.

Hoe lank moet rooiwyn “asemhaal” voordat mens dit kan drink?

Dit hang alles van die ouderdom van die wyn af. ’n Ouer rooiwyn, sê een van so om en by 10 jaar, sal nie juis baat by blootstelling aan lug nie. Jonger wyne daarenteen kan wel daarby baat. Indien nodig, laat hulle vir tot ’n uur “asemhaal”. Dit kan die geure effens versag.

Wat’s die beste, kurkprop of skroefdop?

Dis ses van die een en ’n halfdosyn van die ander! Albei is ewe goed, hoewel die meeste produsente steeds verkies om hul top wyne met kurk toe te maak. Dit het seker maar met die onkunde van wynverbruikers te doen wat steeds glo dat “beter” wyne kurkproppe het en “goedkoper” wyne skroefdoppe.

Ten slotte, wyn is subjektief, baie persoonlik en dinamies! Die enigste slegte wyn is dié met ’n fout, soos oksidasie, en die enigste ware “wynkenner” is jou tong. Onthou, die beste wyn is die een waarvan jy die meeste hou, ongeag handelsmerk, toekennings of prys.

EINDE