Canto Wines wil ekstra vonkel na Durbanville-wynvallei bring

Die begin van vonkelende dae en sprankelende tye?

Wat het die Italiaanse woorde “canto” en “passione” in gemeen? Wel, eintlik niks nie, maar op Canto Wines aan die begin van die Durbanville-wynvallei kan daar tog ’n verband tussen die twee gevind word.

Dit werk so. Canto Wines is ’n nuwe boetiek-wynmakery, m.a.w. kleiner as ’n konvensionele wynmakery, en die Rooinekke het die woord “canto” toentertyd by die pasta- en pizzamense “geleen” om ’n klein gedeelte van ’n gedig te bekryf. In Italiaans beteken die woord “lied” of “sing”.

“Passione”? Wel, dis natuurlik passie, en daar’s duidelik ’n groot passie vir wyn op Canto Wines, van die eienaar, Marinus Neethling, tot die twee rose wat die vrug van die wingerdstokke omtoor in nektar van die gode.


BO: 'n Blik op 'n deel van Canto Wines se proelokaal.

As mens dus van Canto Wines praat, praat jy van klein, soos in boetiek, en van passie, maar jy praat ook van ’n lied want die drie wyne wat tans daar aangebied word, sal ’n lied na enige wynliefhebber se hart bring, of hy/sy nou ’n noot kan sing of nie!

Maar waar en hoe het Canto Wines se storie begin? Wel, byna ’n dekade gelede het Marinus, ’n gekwalifiseerde bourekenaar wat op groot skaal betrokke is in die boubedryf, 20 hektaar grond van Meerendal gekoop. Sowat 18 hektaar van die grond is beplant met chardonnay (10 hektaar) en merlot (8 hektaar).


BO: Die stoep met sy uitsigte op wingerde en heuwels waar baie stories oor heerlike samesyn geskep word.

Tans word drie wyne onder die Canto Wines-handelsmerk gemaak, ’n Merlot, ’n ongehoute Chardonnay en ’n MCC van chardonnay-druiwe. Die eerste wyne is van die 2015-oesjaar.

“’n Passie vir wyn en die eenvoud en ongekunsteldheid van die plaaslewe was my dryfveer om die stuk grond aan te koop,” verduidelik Marinus, wat ook ’n aansienlik groter wynplaas in die Bottelary-heuwels buite Stellenbosch gekoop het. Hy is tans besig om vir hom en sy gesin ’n huis op Canto Wines te bou.

“En dan het die ligging van die grond en die gehalte van die wingerde natuurlik ook ’n rol gespeel in my besluit. Die meeste van die wingerde bestaan uit ouer stokke en bied lae opbrengste per hektaar en vrugte van puik gehalte. En dis hierdie druiwe waarvan ons ongehoute Chardonnay, Merlot en MCC gemaak word.”

Hy sê hulle beplan ’n rooi versnit en ’n gehoute chardonnay in die nabye toekoms.

Maar wat dan van ’n sauvignon blanc? vra ek terwyl ek myself verlustig aan die 2015- Chardonnay in Canto Wines se proelokaal. Die Durbanville-wynvallei is tog per slot van sake bekend vir sy sauvignon blancs. Miskien, sê Marinus met ’n vonkel in die oog, maar daar is reeds soveel uitstekende sauvignon blancs in die vallei, en hy’t eintlik sy oog op iets heel anders vir die vallei, iets nuut en opwindend, iets wat ’n vonkel en sprankel na die vallei en sy vele besoekers sal bring.

BO & REGS: Die twee rose wat sorg dat die res van ons Canto se wyne met oorgawe kan geniet. Bo geniet Anneke 'n Canto Chardonnay en regs wys Suzanne hoe "vuil" wynmaak kan wees.

En wat is dit? vra ek terwyl ek die leë glas Chardonnay eenkant toe skuif en my tweede glas met Canto Wines se heerlike MCC nader trek en my oë vinnig die golwende landskap en wingerde inneem.

“Sjampanje, oftewel Cap Classique of MCC soos ons dit hier aan die suidpunt van Afrika noem,” sê hy terwyl hyself ’n teug van sy MCC neem, met ’n groot glimlag en selfs meer vonkel in albei sy oë. “Ek reken hier’s ruimte vir ’n eksklusiewe MCC-produsent in die vallei en ons kyk na al ons opsies wat Cap Classique betref.

“Ek’s mal oor sjampanje, en ons Cap Classiques tel onder die beste vonkelwyne ter wêreld. Die dae van vonkelwyn vir net sekere geleenthede is lankal iets van die verlede. Dit word vandag enige tyd van die dag en vir enige geleentheid geniet, en dis soos dit moet wees.”

Canto Wines maak tans gebruik van twee konsultant-wynmakers, Anneke Potgieter en Suzanne Coetzee. Anneke is eintlik die een wat haar hande “vuil” maak in die kelder, terwyl Suzanne meer die rol van konsultant en bemarker vervul.

“Ons het ook opwindende planne met die proelokaal,” vertel Marinus. “Ons wil onder meer die stoep met sy pragtige uitsigte op ’n ruim grasperk en die wingerde meer verbruikervriendelik maak met tafels en sonsambrele, en ons kyk na ietsie eenvoudigs dog smaaklik vir diegene wat iets wil kou terwyl hulle ’n glasie of drie wyn geniet.”

Canto Wines se wyne kos R85 vir die Chardonnay, R120 vir die Merlot en R150 vir die MCC. Die wyne is tans beskikbaar by Cybercellar.

Vir enige navrae of meer inligting, skakel 021 881 3097 of stuur ’n epos na suzanne@nuibawines.co.za of besoek www.cantowines.co.za

EINDE