Dis weer tyd vir ‘Shiraz & Charcuterie’ op Anthonij Rupert Wyne

Shiraz en charcuterie om die mond te laat water!

As jou smaakkliere smag na heerlike rooiwyn en lipleklekker spesialisvleise moet jy beslis ’n aantekening in jou dagboek maak van die jaarlikse Shiraz&Charcuterie-fees wat op Saterdag, 27 Mei, op die Anthonij Rupert Wyne-landgoed in die Franschhoek-vallei aangebied word. Die fees, wat van 12nm tot 5nm plaasvind en ’n keur van spesialisvleise en uitmuntende shiraz-wyne vir gastronomiese genot sal aanbied, sal smulpape breed laat glimlag.

Hierdie is die ideale geleentheid om onder meer Anthonij Rupert Wyne se uitmuntende shiraz-wyne te proe, insluitende die landgoed se Anthonij Rupert Syrah, Cape of Good Hope Riebeeksrivier Shiraz en Protea Shiraz. Die Protea Shiraz sal ook die oog vang met sy opvallende bottel wat deur die inheemse flora geïnspireer is – en reg is vir herwinning! Hierdie wyne sal vergesel word deur ’n keur van die land se beste shiraz-wyne. Die deelnemende produsente sluit Rust en Vrede, Waterford, Mullineux & Leeu Family Wines, Hartenberg, Simonsig en Thelema in.

Die onderskeie shiraz-wyne sal nie net met charcuterie geniet kan word nie, maar ook met heilsame disse wat deur die winter geïnspireer is. Met die Rhône-vallei in Frankryk as inspirasie kan besoekers uitsien na tradisionele Franse uiesop en tuisgemaakte saucisson bedien met gesmoorde cannellini-bone. Die gewilde Olive Bar met sy verskeidenheid olywe sal ekstra geur verleen aan die fees.


Voorafbespreking is noodsaaklik aangesien kaartjies beperk is. Die kaartjies kos R220 per persoon en sluit toegang en die proe van die wyne in. Besprekings kan direk by www.webtickets.co.za gedoen word.

Vir meer inligting, kontak die organiseerders, DnA Event Management, by 084 207 3820 of info@dnaevents.co.za.

EINDE