L’Ormarins MCC en nougat – ’n heerlike “romanse” van die sintuie

Cap Classique en nougat, 'n "romanse" van die sintuie!

Die jongste aanbieding uit die proelokaal van die bekende en bekroonde Anthonij Rupert Wyne in die Franschhoek-vallei gaan beslis die tonge laat gons van pure lekker kry. Net die gedagte aan ’n “romanse” tussen L’Ormarins se Methodé Cap Classique (MCC) en nougat behoort monde reeds aan die kwyl te sit!

Die bekende landgoed se drie Cap Classiques word elkeen aangebied met ’n handgemaakte nougat wat nie net die vonkelwyne puik komplementeer nie, maar ook hul veelsydigheid as kosvriendelike wyne beklemtoon. Sjampanje (oftewel MCC of Cap Classique) is tradisioneel as aptytwekker saam met oesters, kaviaar en aarbeie geniet, maar met hierdie jongste kombinasies bewys L’Ormarins se MCC hoeveel meer veelsydig vonkelwyn werklik is. Elke nougat is geskep om sy Cap Classique-vennoot se eiesoortige karakter na vore te bring.

Die L’Ormarins Brut NV word gekombineer met ’n heerlike cassata-nougat, wat gebaseer is op die tradisionele Italiaanse nagereg. Die versuikerde vrugte, vanielje en amandels is die ideale “huweliksmaat” vir die vrugtige en roosterbroodagtige geure van dié Brut.

Die blosende pienk L’Ormarins Brut Rosé vind weer die ideale maat in die nougat van kersies, bosbessies en rose wat dié sjampanje se soortgelyke geure uitlig.

Die drietal word afgesluit met die statige L’Ormarins Blanc de Blancs wat gepaar word met die nougat van geroosterde pekanneute, lemoen en fleur de sel (sout).

Na hierdie uitsonderlike proesensasie sal smulpape beslis nie meer Cap Classique of MCC nét met pikante, gekruide en soet eetgoed assosieer nie, en deeglik bewus wees van vonkelwyn se byna eindelose koskombinasies.

Hierdie dekadente proesensasie kos R60 per persoon en kan geniet word in die rustige en ontspanne atmosfeer van die weelderige en statige Anthonij Rupert-proelokaal.

Vir meer inligting, kontak die landgoed by 021 874 9041 of tasting@rupertwines.com.

EINDE