Geniet jou kos (en wyn) in regte Franse styl hierdie winter op Gabriëlskloof

Wanneer kos en wyn hande vat!

Toe die bekroonde restaurant op Gabriëlskloof buite Botrivier verlede jaar sy “Skepkos-Sondae” bekend gestel het, het dit ’n smaaksensasie ontketen. Vanjaar keer dié geliefde spyskaart-formaat in ware Franse styl terug, met ’n paar klein veranderinge.

“Skepkos-Sondae” gaan oor elkeen se regmatige, ruim porsie in die nostalgiese trant van ’n tradisionele gesinsfees.

Die sjef Frans Groenewald hou sy lyf Fransman in die kombuis hierdie winter met Franse plaaskos. Dink aan heilsame en oorvloedige kookkuns, ryk en souserig, geurvol en kleurvol, oordadig en bevredigend - trooskos met ’n magnifique-aanslag.

“Dit gaan oor die samesyn rondom ’n goeie maaltyd, meer as net bloot om kos te deel,” sê Frans. “Die kombuis lewer eenvoudige, stadig-geroosterde gesinsdisse op groot borde waar elkeen homself kan help, en weer en weer kan skep!”

Maak jou smaakkliere gereed vir  moules marinière en rillettes, duck à l’orange en coq au vin, cassoulet, crème brûlée, tarte tartin, crêpes suzette en vele meer wees.


Die gewone weeksdag-aanbiedinge kry ook ’n geurige winterjas, wat ’n epiese kinkel aan die konvensionele pastei-van-die-dag verleen. Frans gaan die kuns van pasteimaak op sy kop draai en só aanspraak maak op die titel as die Overberg se pasteikoning wanneer sy skeppings sy tradisionele baadjie afgooi met ’n geurinspuiting van klassieke vulsels, van  tamatiebredie en kerrie tot stroganoff en potjiekos.

En natuurlik sal die hele reeks Gabriëlskloof-wyne beskikbaar wees om saam met elke gang op die spyskaart te geniet.

Die winter-aanbiedinge, wat die “Sondag se Frans-gaan-Frans” en sy eiesoortige, heilsame pasteie insluit, is geldig van Mei tot die einde Augustus. Die weeksdag-spyskaart kos R210 per persoon vir twee gange en R250 per persoon vir drie gange. Gaste kan ook steeds ligter etes van die gewilde Deli-spyskaart bestel.

Die “Skepkos-Sondag”-spyskaart is teen slegs R300 per persoon beskikbaar. Bespreek vroegtydig want die sitplekke raak gou vol.

Gabriëlskloof se restaurant is elke dag - behalwe Dinsdag - oop vir ontbyt en middagete. Bespreek jou tafel by 028 284 9865 of restaurant@gabrielskloof.co.za.

Die Gabriëlskloof-landgoed is op die Swartrivierpad net buite Botrivier langs die N2.

EINDE