Nuwe De Grendel-wyn bring hulde aan ’n baanbreker

Huldig 'n groot seun van Suid-Afrika!

Van arm plaasseun op Villiersdorp tot die Eerste Baronet van Kaapstad, dit is die verhaal van Sir David Graaff (1859 – 1931), ’n ikoniese figuur wat ’n belangrike rol gespeel het in Kaapstad se burgerlike, ekonomiese en landbou-landskap. Nou bring De Grendel hulde aan sy merkwaardige lewe met ’n nuwe vlagskip-rooiwyn.

Elkeen van die 3 344 genommerde bottels Sir David Graaff First Baronet of Cape Town 2013 word gekenmerk deur die gehalte wat sy hoë standaarde weerspieël.

“Die sterk waardes van my oupagrootjie herinner ons steeds daaraan om betekenisvolle lewens te lei en ’n bydrae tot die samelewing te maak,” sê Sir De Villiers Graaff, die Vierde Baronet van Kaapstad. “Die wyn is gemaak ter nagedagtenis aan sy voorbeeldige menswees en merkwaardige prestasies.”

Charles Hopkins, De Grendel se keldermeester, beskou dit as ‘n voorreg om die wyn te kon maak. Die eindproduk is ’n wyn met balans, potensiaal en ’n ware toonbeeld van sy wynmaak-filosofie.

“Na die sukses van die De Grendel Rubaiyat, ons eerste vlagskip-rooiwyn, en met soveel rooi kultivars tot ons beskikking by De Grendel, was dit ‘n goeie tyd om weer iets nuut bekend te stel en om die lewe van die eerste baronet, Sir David Graaff, te vier,” sê Hopkins.

“Die Sir David Graaff First Baronet of Cape Town 2013 bestaan uit 80% shiraz, 10% cabernet sauvignon en 10% petit verdot wat met die hand uitgesoek, afsonderlik berei en vir 16 maande verouder is in 100% nuwe, digtegrein- Franse eikehoutvate. Nadat dit versny is, is dit terug in dieselfde vate vir ‘n verdere 6 maande. Altesaam 22 maande se veroudering is verleen om die nodige diepte en houvermoë te bewerkstellig.”

Shira-z en cabernet sauvignon-druiwe afkomstig van 30-jaar oue wingerde in die Somerset Wes-omgewing is gebruik. ’n Klein hoeveelheid geselekteerde petit verdot, van 7-jaar oue wingerde by De Grendel, is bygevoeg vir ’n tikkie jeugdigheid en karakter.

Die wyn het ’n diep robyn-granaat kleur met lae sederhout, witpeper en naeltjies in die neus, met pruim-, moerbei- en swartbessie-ondertone. Gedroogde bosbessiegeure in die mond verander in ryp pruimgeure gevolg deur cassis en aromatiese, soet tabak wat afgerond word met ferm, sagte tanniene.

Die wyn is aanlyn beskikbaar by www.degrendel.co.za en by De Grendel se proelokaal teen R1 380 per bottel.

Einde