Slaan die koue hok met sop, brood en wyn op Constantia Glen

Laat die winter kom!

Slaan die koue hok hierdie winter met ‘n trio tuisgemaakte soppe en Constantia Glen se puik wyne. Die drie heilsame winterstaatmakers word vanaf 3 Mei tot aan die einde van Augustus bedien en is ‘n uitstekende rede vir ‘n lekker kuier by hierdie prentjiemooi boetiekwynlandgoed in die Constantia-vallei.

Besoekers kan weglê aan Constantia Glen se gewilde, tradisionele Oostenrykse bees-ghoelasjsop of die smaaklike geroosterde botterskorsie-en-salie-sop. Albei word bedien met vars gebakte baguette, of kies hul ryk Franse uiesop met kraakvars Gruyere-roosterbrood.

Elkeen van hierdie soppe het ‘n gepaste wynmaat uit Constantia Glen se kelder. Voeg ‘n watertandlekker kaas-en-charcuteriebord by jou ervaring en geniet die wonderlike winteruitsig oor die wingerde. Bring famile en vriende en maak die besoek ‘n feestelike ervaring.

Die tuisgemaakte soppe is beskikbaar teen R90 per enkelporsie of R95 vir al drie soppe bedien in kleiner porsies. Wyn is per glas beskikbaar vanaf R50 … vir diegene wat bietjie langer oor middagete wil vertoef.

Constantia Glen se proekamer is van Sondag tot Donderdag oop vanaf 10vm tot 5nm en van 10vm tot 8nm op Vrydae en Saterdae. Wees op die uitkyk vir die Constantia Glen-padtekens aan die bo-kant van Constantia-hoofweg.

Vir meer inligting, skakel 021-795-5639 of stuur ‘n epos aan reservations@constantiaglen.com, of besoek www.constantiaglen.com.

EINDE