Nederburg, die 36ste mees gerespekteerde wynhandelsmerk ter wêreld

Nederburg, nog bewys dat die SA wynbedryf "tops" is!

Nederburg is die enigste Suid-Afrikaanse wynmakery wat op vanjaar se top 50-lys verskyn in die gesaghebbende Drinks International se “World’s Most Admired Wine Brands”. Die kelder beklee die 36ste plek nadat dit verlede jaar 49ste was, die eerste keer dat hierdie Paarlse wynmakery op hierdie gesogte lys ingesluit is.

Hierdie prestasie plaas Nederburg in die geselskap van verskeie van die wêreld se bekendste en mees gesiene wynhandelsmerke, insluitende Spanje se Torres (in die 1ste plek), Chile se Conco Y Toro, Australië se Penfolds en Frankryk se ikone Chateau Margaux, Chateau D'Yquem, Chateau Haut-Brion en Chateau Latour.

Om die top 50-lys te haal, moet wynmakerye volgehoue of toenemende gehalte ten toon stel, aldus die organiseerders, asook ’n weerspieëling van streek of land van oorsprong, ’n positiewe reaksie op die behoeftes en smake van hul teikenmarkte, uitmuntende bemarking en verpakking, en ’n groot trefkrag onder ’n wye demografie.

Die beoordelingspaneel het uit ’n breë spektrum globale wynkenners bestaan, insluitende kommersiële aankopers, invoerders, wynmeesters, joernaliste en wyn-opvoeders.

Nederburg se globale bemarkingsbestuurder, Lynette Lambrechts, sê: “Ons is baie trots op Nederburg se skitterende vertoning om 13 plekke te styg in Drinks International se top 50-lys van die wêreld se mees gerespekteerde wynhandelsmerke. Die wynmakery het die afgelope jaar weer eens skitterend gevaar en ook die titel Suid-Afrikaanse Wynprodusent van die Jaar ingepalm, asook die trofee vir die beste cabernet sauvignon ter wêreld vir sy Private Bin R163 Cabernet Sauvignon 2013 op verlede jaar se International Wine & Spirit Competition (IWSC). Boonop is dit ook as 2017 se Platter’s By Diners Club South African Wine Guide se Wynmakery van die Jaar aangewys.

“Nederburg se sukses as een van Suid-Afrika se mees bekroonde wynmakerye word gedryf deur innovasie en die nuuskierigheid van ons kelderspan. Nuwe wynbou-areas word verken, opwindende nuwe versnitte word op die proef gestel, daar word met hout ge-eksperimenteer en wynmaaktegnieke word aangepas. Ons uiteenlopende wynreeks word nou in 80 lande regoor die wêreld gekoop en geniet.

“Ons het hard gewerk om ons sigbaarheid oor die wêreld heen te vergroot deur middel van nuwe wyne in vername internasionale markte soos Kanada en die VSA, deur ons verbintenis met die internasionale sport van beroepsfietsry as gevolg van ons betrokkenheid met die span Dimension Data for Qhubeka en deur ons nuwe, globale kommunikasieveldtog.

“Ons sal beslis nie vorentoe op ons louere rus nie. Die feit dat ons die 36ste plek in Drinks International se top 50-lys van die wêreld se mees gerespekteerde wynhandelsmerke toegeken is, inspireer ons terwyl ons voortgaan om Nederburg se globale posisie verder uit te bou en sodoende wynliefhebbers wêreldwyd uit te lok om uit te vind waarvoor Nederburg staan en wat die wynmakery aanbied.”

Besoek www.nederburg.co.za vir meer inligting.

EINDE