Kaasfondues, wyn en jazz verdryf winterkoue op Delheim

Kaas, wyn en musiek, dan's dit Delheim in  die winter en op Sondae!

Daar is selde indien ooit ’n vervelige oomblik in die Kaapse wynlande, maak nie saak of dit somer, winter, herfs of lente is nie. Hierdie winter is dan ook weer eens tyd vir Delheim buite Stellenbosch se gewilde kaasfondues oor middagete wat met wyn geniet word terwyl jazz-musiek vir die ander vermaak sorg.

Delheim se kaasfondues word vanaf 25 Junie tot 27 Augustus aangebied in hierdie bekende wynlandgoed se knus en intieme ondergrondse wynkelder. Dis hier waar die kaaspotjies se deksels waai en al die weerstand smelt wanneer vuurwarm Switserse kaas, heerlike wyn en sielsverkwikkende jazz-klanke deur talentvolle plaaslike musikante voorgesit word.

Delheim is sedert 1699 die tuiste van verskeie geslagte, en sedert die 1960s maak die Sperling-familie hier hul bekroonde wyne. Dis juis in die Sperling-erfenis en -gasvryheid waar die idee vir die plaasstyl-fondues ontstaan het. Die wynlegende en patriarg, “Spatz” Sperling, is in Tettnang, ’n Duitse dorp op die grens van die kaasliefhebbende Switserland, gebore.

Daar is niks gejaagd aan Delheim se kaasfondues nie. Stel in jou geestesoog potte met Gruyère en Emmentaler vir skep, doop, smeer en proe voor, alles saam met ’n keur van heerlike happies en Delheim se uitsonderlike wyne. Dit is hoe feestelike kos nou eintlik gedeel moet word en dié geleentheid is ideaal vir sowel familie as vriende.

“Kos en wyn kan nooit regtig onvergeetlik wees sonder die bestanddeel van samesyn nie. Dit is wat van maaltye herinneringe maak,” sê Delheim se sjef, Bruce von Pressentin. “Uiteindelik gaan dit daaroor dat ons gaste net ’n lekker Sondag-kuier moet geniet, en dis die hart van ons kaasfondues.”

Bespreek nou vir die kaasfondues. Die koste van R230 per persoon sluit die kaasfondue-ervaring, lewende musiek en ’n glas van die tradisionele glühwein in. Voor- en nageregte kan van die a la carte-spyskaart bestel word teen bykomende koste.

Kaasfondue:

Prys: R230 per persoon

Datums: 25 Junie | 2, 9, 16, 23 en 30 Julie | 6, 9, 13, 20 en 27 Augustus.

Tyd: 12:30 - 15:30

Om jou sitplek te bespreek by Delheim se kaasfondues, kontak die landgoed by 021 888 4607 of restaurant@delheim.com.

EINDE