De Krans se Tritonia White kry ook ’n ‘A’ by Robert Parker

'n Ware keldertrots!

Die hoogs gerespekteerde wynskrywer, Neal Martin, een van die bekende Robert Parker se “wyn-advokate”, het pas die De Krans Tritonia White 2015 vereer met ‘n telling van 90 uit ’n moontlike 100 punte in sy South African Report wat verlede week gepubliseer is. Volgens Boets Nel, besturende direkteur van De Krans buite Calitzdorp in die Klein Karoo, is dit waarskynlik die eerste witwyn uit hierdie wynstreek wat ’n telling van 90 of meer punte in die Robert Parker-publikasie ontvang het.

Die Tritonia White is ’n versnit van die Portugese kultivars malvasia rei (palomino) en veldelho en is in houtvate gegis. Die malvasia rei-wingerd is in 1947 aangeplant in die vrugbare grond van die Gamkariviervallei, hoofsaaklik vir die maak van brandewyn. Hierdie byna vergete wingerd, nou 70 jaar oud, bied ’n lae opbrengs van klein korrels en uitstekende gehalte. Die Nels van De Krans gebruik dit saam met verdelho in sy vlagskip- wit versnit om die kollig te laat val op die Klein Karoo se vergete erfenis.

De Krans se wynmaker, Louis van der Riet, sê die wyn het ’n goudgeel kleur met pragtige aromas van kamferfoelie, lemoenskil en strooi wat uitloop in geure van blombloeisels, speserye en vanielje-eikehout. Dit het ’n gladde en elegante smaak met geure van gedroogde lemoen, neute en sagte eikehout. Dit spog met geïntegreerde asiditeit en heerlike tanniene. Die wyn is 4 maande lank op die moer gelos na gisting en toe vir ’n verdere 15 maande in houtvate verouder voordat dit bekend gestel is. Hierdie uitsonderlike wyn is by De Krans beskikbaar teen R145 per bottel.

Hierdie puik prestasie van De Krans in The Wine Advocate volg kort op die hakke van soortgelyke prestasies van twee ander De Krans-wyne in verlede jaar se publikasie toe die De Krans Cape Vintage Reserve 2012 ’n puik 93 punte aangeteken het en die De Krans Tritonia Red Calitzdorp Blend 2013 ’n ewe puik 90 punte toegeken is. Laasgenoemde is ook die eerste Wyn van Oorsprong Calitzdorp wat 90 of meer punte ontvang het van hierdie gesiene joernalis.

Die De Krans Cape Vintage Reserve Port 2012 is inderdaad ’n koning onder portwyne. Dit is nie net aangewys as die kampioen-portwyn op die Suid-Afrikaanse Jongwynskou van 2012 nie, maar het ook die lys van top 100 Suid-Afrikaanse wyne in 2015 gehaal en is 5 sterre toegeken in die Platter-wyngids van dieselfde jaar. Die 2013- Cape Vintage Reserve, nog ’n Platter-vyfsterwyn, is tans beskikbaar teen sowat R320 per bottel.

Louis beskryf die De Krans Tritonia Red Calitzdorp Blend 2013, ’n droë rooi versnit van touriga nacional, tinta roriz en tinta barocca, as ’n wyn met ’n robynrooi kleur en komplekse aromas van viooltjies, naeltjies en rooi vrugte in die neus. Die mondgevoel is elegant en prominent danksy ’n geurige profiel met puik struktuur en goed-geïntegreerde hout. Geniet dit met volstruis- en wildsvleisdisse, asook met pasteie en oondgeroosterde geregte. Die wyn kos sowat R200 per bottel.

Vir meer inligting oor De Krans se reeks tafel- en gefortifiseerde wyne, besoek www.dekrans.co.za.

EINDE