Alto stel jongste MPHS-versnit bekend

Alto se jongste keldertrots is elke sent werd!

Daar is min wynbekendstellings waarop mense so angstig wag as die nuwe MPHS-versnit van Alto, die rooiwyn-spesialislandgoed buite Stellenbosch. Die jongste Alto MPHS 2012 is slegs die tweede 50/50-versnit van dié gesogte wyn wat die lig sien.

Die MPHS-versnit van cabernet franc en cabernet sauvignon bring hulde aan die bekende landgoed se stigter-wynmakers wie se voorletters die naam uitmaak, naamlik Manie Malan, wie se pa so vroeg as die 1920s slegs rooi kultivars geplant het; Piet du Toit, wat die plaas in 1959 gekoop het; sy seun, Hempies, die bekende Springbok-rugbyspeler, wat in 1983 oorgeneem het; en Schalk van der Westhuizen, wat in 2000 by Alto aangesluit het.

Die MPHS is onder Schalk se wakende oog gebore. Nou is dit sy seun, Bertho, wat die 2012-weergawe bekend stel nadat hy die Alto-leisels in Mei 2015 oorgeneem het.

“Ek is mal oor die 2012,” verklaar Bertho. “Dit het ’n tikkie Nuwe Wêreld-styl, terwyl dit steeds die bekoring en elegansie wat met Ou Wêreld-wyne assosieer word, behou. Die wyn is effe voller met fluweelsagte tanniene. Hierdie oesjaar sal goed verouder.”

Bertho het teruggegaan in die rekords wat sy pa gehou het en vertel dat Alto voor die 2012-oesjaar ’n taamlike koel groeiseisoen gehad het, met baie reën die vorige winter. Dié toestande het die druiwe langer en meer eweredige rypwording aan die stok toegelaat. Die hoogliggende cabernet franc-wingerde was teen oestyd 16 jaar oud en die cabernet sauvignon drie jaar ouer. Soos die ander wingerde op die landgoed baat hulle by die koel namiddagbriesie wat in die vallei opwaai vanuit Valsbaai, net 12 km van die proelokaal en sigbaar van daar.

Die druiwe is vroegoggend in Maart 2012 met die hand gepluk. Ná die wynmaakproses is die komponente oorgeplaas na nuwe medium-geroosterde, fyngrein- Franse eikehoutvate van 300 liter waarin dit vir 24 maande verouder het. Die twee wyne is toe in 2014 versny en gebottel. Die resultaat is ’n donker, lewendige en baksteenrooi wyn met intense aromas, so eie aan cabernet - rooi bessievrugte en ’n skeutjie neutagtigheid en hout. Dis ’n goed gebalanseerde wyn met sagte druif- en houttanniene, saam met ryp vrugte wat op die tong talm.

“Die Alto MPHS 2012 sal heerlik wees op sy eie, maar net so goed saam met stadig-geroosterde lam met salsa verde, truffel-eiers op knoffel-ciabatta, gerookte eend met bessieglans of verouderde parmesaan.”

Alto se geskiedenis dateer terug na 1693, hoewel die rooiwyne eers in 1922 begin het. Dit was Hennie Malan wat die plaas Alto genoem het - ’n verwysing na die hoogteligging en strewe na uitnemendheid.

Die Alto MPHS 2012 is by die Vinoteque (https://www.vinoteque.co.za/collections/alto) en die kelder beskikbaar teen R925 per bottel.

Vir meer inligting oor Alto en sy wyne, besoek www.alto.co.za, of kontak die landgoed by 021 881 3884 of info@alto.co.za.

EINDE