Terroir verwelkom winter met onvergeetlike spyskaart

Puik kos en puik wyn kort net goeie geselskap.

Die gewilde restaurant Terroir op die Kleine Zalze-wynlandgoed verwelkom die winter met ’n spesiale spyskaart wat sal verseker dat hierdie bekroonde Stellenbosse eetplek dié warm gunsteling sal wees sodra die koue aanbreek.

Vorige jare het die sjef, Michael Broughton, en sy span ’n winterspyskaart opgestel wat verskil het van die à la carte-aanbieding, maar vanjaar fokus hulle daarop om sowwel plaaslike inwoners as besoekers die ware Terroir-ervaring te laat geniet deur ’n proe-ervaring van die volle à la carte-spyskaart beskikbaar te stel ... en teen ’n uiters sakpasprys.

Van Mei tot September kan gaste hul keuse van twee disse (voorgereg/hoofgereg of hoofgereg/nagereg) van Terroir se Frans-geïnspireerde spyskaart kies vir net  R295 per persoon. Die prys sluit ook ’n glas Kleine Zalze Vineyard Selection-wyn in.

Broughton is bekend vir sy ongeëwenaarde talente as ’n meester-sousmaker en die nuwe disse op sy winterspyskaart vertoon hierdie uitgebreide talente van hierdie bekroonde sjef.

Hierdie winter bestaan die bees-hoofgereg uit ruim skywe vlamgebraaide, droog-verouderde beeslende wat bo-op ’n ryk knolseldery-velouté bedien word, afgerond met beesbors-croustillants in ’n porsie babagroente. ’n Delikate Hollandaise-sous voeg die perfekte skeutjie suur by die bord, terwyl ’n bykos van fluweelagtige aligot - ’n Franse aartappeldis wat met Comté-kaas en botter geklop word  - ’n móét is.

Vegetariese disse bly hierdie winter ook nie agterweë nie. Broughton se veerligte, pangebraaide aartappel-gnocchi word bo-op ’n salsa verde met baba-groente en rou sampioene bedien. ’n Ruim porsie gerasperde swart truffel voeg ’n welkome skeut umami by die bord.

Hierdie dis is ’n vegetariër se droom!” sê Broughton, wat heelwat sterk umami-geure in sy winterspyskaart ingewerk het ... en dit boonop in disse waar jy dit die minste sal verwag.

Hoewel die sesamkors tunalende met witbone en miso-puree heerlik op sy eie is, is dit die bygaande umamiryke gemmer-, dashi-, soja-, ryswyn-asyn en seebamboes-dunsop wat onvergeetlik is.

Lojale plaaslike ondersteuners sal verheug wees om te hoor dat Terroir se legendariese garnaalrisotto met Americaine-sous steeds op die voorgereg-lys is.

Ons moet eenvoudig hierdie risotto op die spyskaart hou. As ons dit verwyder, kla almal!” lag Broughton.

Nog ’n klagte wat hierdie winter gaan opduik, is hoe op aarde jy net twee disse van die swartbord-spyskaart gaan kies. Gelukkig is ’n oplossing byderhand.

Vanjaar gaan ons vir die eerste keer ook uitbrei na ’n veelgang-proespyskaart,” verduidelik Broughton. Die viergang-proereis gee aan gaste die geleentheid om enige vier disse van die à la carte-aanbieding te bestel, met effe kleiner porsies wat die geleentheid bied om meer van die spyskaart te ontdek.

Die viergangspyskaart kos R395 per persoon. ’n Wynpasmaat-opsie is ook beskikbaar, met ’n ruim proeporsie (100ml) van onvergeetlike Kleine Zalze-wyn wat met elke gang gepasmaat word.

Die winterspyskaart is beskikbaar van 2 Mei tot 30 September vir beide die middag- en aandetes. Twee disse (voorgereg/hoofgereg of hoofgereg/nagereg in standaard porsies) van die à la carte-spyskaart, met ’n glas Kleine Zalze Vineyard Selection-wyn, kos R295 per persoon. Die viergang-proespyskaart met of sonder wynpasmaats kos onderskeidelik R395/R495 per persoon. Individuele à la carte-bestellings kan steeds geplaas word en sal bereken word teen die gelyste spyskaartprys.

Voorafbespreking word aanbeveel. Bespreek by 021 880-8167 of restaurant@kleinezalze.co.za. Neem asseblief kennis dat Terroir gesluit is vir hul jaarlikse wintervakansie van 3 Julie en weer heropen op 25 Julie 2017.

Kleine Zalze en Terroir is geleë langs die Strandpad (R44) net buite Stellenbosch.

EINDE