SA Nasionale Wynskouvereniging kry nuwe voorsitter

Christo Pienaar.

Die Raad van die SA Nasionale Wynskou-vereniging (SANWSV) het pas ‘n nuwe voorsitter verkies op sy jaarvergadering wat in die Paarl gehou is.

Christo Pienaar, die keldermeester en bestuurder by Nuy Wynkelder naby Worcester, neem die leisels oor by Charles Hopkins, De Grendel se keldermeester, wat na vyf jaar as voorsitter uitgetree het.

Christo is al vir meer as tien jaar aktief by die SANWSV betrokke as voorsitter van die tegniese komitee wat verantwoordelik is vir die beoordelingsprosesse by sowel die SA Jongwynskou as die Veritas-toekennings.

Hy het sy wynloopbaan in 1996 begin nadat hy sy B Agric-graad in Wingerdbou en Wynkunde en Landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het. Hy het daarnatwee oesjare oorsee gewerk in Victoria, Australië, en Washington in die VSA voordat hy by by Rooiberg-wynmakery naby Robertson aangesluit het. Na ‘n verdere vier jaar by Slanghoek-wynkelder is hy in 2002 as keldermeester van Nuy-wynkelder aangestel. Hy het ook tyd in die buiteland deurgebring  in die streke van Florensac, Frankryk, en die Moselvallei in Duitsland.

Christo is ‘n raadlslid van Agri-Expo en dien op die tegniese komitee van BBK in Worcester en die Worcester/Breedekloof-proepaneel. Hy is getroud met Adri, ‘n onderwyseres, en hulle het twee kinders.

“Ek glo dat die twee wynskoue wat die SANWSV namens die wynbedryf aanbied ‘n kardinale rol speel om gehaltewyn vir Suid-Afrika se verbruikers te verseker en dat die erfenis van hierdie skoue wynmakers en wingerdboukundiges verder sal aanspoor om die beste wyne te maak.”

Vanjaar se SA Jongwynskou ontvang reeds inskrywings en besonderhede is op die webtuiste beskikbaar.  Inskrywings sluit op 27 Junie in die streke en op 6 Julie by die SANWSV-kantoor. Meer as 2 000 inskrywings word verwag om mee te ding om die 17 trofees en die gesogte Genl. Smuts-trofee vir die beste wyn van 2017, en die Pietman Hugotrofee vir die kelder met die vyf beste inskrywings.

 

EINDE