Ervaar sensasionele wintersmake by die Terra del Capo Antipasto Bar

Varkpens met Protea Shiraz!

Die Terra del Capo Antipasto Bar op Anthonij Rupert Wyne in die Franschhoek-vallei het sy winterspyskaart vir 2017, gevul met ’n rits smaaksensasies, bekend gestel. Benewens ou gunstelinge, bevat die spyskaart ook ’n hele paar nuwe geregte.

Die winterspyskaart - geïnspireer deur vars, plaaslike produkte uit die wynlande – stel besoekers in staat om te kies uit ’n keur van heerlike warm én koue antipasti-disse wat gekombineer word met wyne uit die landgoed se Protea-, L’Ormarins- en Terra del Capo-wynreekse.

Die koue disse sluit in gerookte burrata met geroosterde wortels, gepiekelde beet, versuikerde haselneute en kappertjieblare; artisjok-pannacotta bedien met gepiekelde sampioene, kruie en croutons; en bereide Angus-beesvleis bedien met wilde roket, gegisde aioli van swart knoffel en pylinkvis, dennepitte en Parmesan.


BO: Malfati en Protea Chenin Blanc.

Die warm geregte sluit in die gewilde, krakerige zucchini-tjips met knoffel-aioli; skilpadjies, ’n Suid-Afrikaanse gunsteling; en gesmoorde lamsvleis-arancini bedien met tuisgemaakte tamatie-blatjang. Die krakerige, gebraaide calamari met pietersielie en kappertjie-aioli, asook die smaaklike salciccia-frikkadelle bedien in ’n marinara-sous sal beslis ook die smaakkliere bevredig!

Die Terra del Capo Tasting Room & Antipasto Bar is oop van Dinsdag tot Sondag tussen 10vm en 4:30nm, maar voorafbespreking is noodsaaklik.

Vir meer inligting of om te bespreek, kontak die landgoed by 021 874 9041 of tasting@rupertwines.com.

EINDE