Brandewyn: As jy nie weet wat jy nie weet nie!

Vir die fynproewer!

Persepsie kan darem maar ’n bliksem wees! Hoewel dit dikwels absoluut niks met die werklikheid te make het nie, aanvaar baie mense dit vir die waarheid. Ongelukkig meet min mense hul persepsies aan die waarheid of werklikheid en leef hulle in absolute onkunde voort. ’n Geval van “as jy nie weet wat jy nie weet nie”, of “ignorance is bliss”!

Een van die beste voorbeelde van hoe verkeerd persepsie kan wees, is dié oor brandewyn. Dit het weer eens ter sprake gekom tydens ’n onlangse besoek aan KWV se House of Fire in die Paarl toe aan die brandewyngids gevra is hoekom whisky steeds gewilder as brandewyn is.

Die gids het moeite gedoen om te verduidelik dat brandewyn steeds verkeerdelik as “polisiekoffie” beskou word en steeds sukkel om die brandy & coke-beeld af te skud. Nadat hy die groepie media-besoekers ingelig het oor hoe versnit- en potketelbrandewyne gemaak word en dat Suid-Afrikaanse potketelbrandewyn herhaaldelik as die beste ter wêreld aangewys word, het hy ons vier KWV-potketelbrandewyne laat proe, 10, 12, 15 en 20 jaar oud. Daar het beslis ’n liggie aangegaan by heelparty van die besoekers, mense wat seker vir die heel eerste keer topgehalte-brandewyn op die regte manier geproe en ervaar het, rustig en met ’n skeut of twee suiwer water en ys!

Die brandewyne is ook met verskillende sjokolades gekombineer, maar die interessantste was om te aanskou hoe die lig aangaan by die nie-brandewyndrinkers – duidelik met ’n skewe beeld van hierdie gesofistikeerde drankie – wanneer hulle die verskillende geure geruik en geproe het. Eish!

Ek’s ewe lief vir whisky en brandewyn, solank albei van hoogstaande gehalte is, en wissel my sonsondergange op die stoep tussen hierdie twee af, elkeen met eweveel suiwer water as die “knerts” in my glas en twee of drie ysblokkies, gemaak van suiwer water. In albei gevalle lyk sowel die sonsondergange as die see hier langs die Weskus net soveel mooier.


BO: Die trappe van vergelyking vir goeie smaak en styl!

Is daar swak brandewyn? Beslis, maar daar’s ook swak whisky, en in albei gevalle kan mens spottenderwys na hulle as paint stripper verwys. ’n Goeie brandewyn is enige dag net so goed soos ’n goeie whisky en ek daag enigiemand met ’n fynproewertong uit om met my te verskil.

In ’n artikel in Die Burger getiteld “Whisky frustreer brandewyn” skryf Emile Joubert, ’n wynvriend en wynkenner, “whisky se sukses was deur en deur die resultaat van hoëvlakbemarking”. Hy skryf verder: “Met sy of haar gediagnoseerde aandagafleibaarheid is die jonger drankverbruiker pal op soek na aksie uit nuwe vloeibare oorde.

“Dit is uiters frustrerend want brandewyn verdien (baie) groter aansien in die plaaslike sowel as die buitelandse mark.

“Die gehalte van Suid-Afrikaanse brandewyne is naas die superieure spiritus soos konjak en armagnac die beste in die wêreld. Dit is danksy die pynlik streng regulasies wat die bedryf vir homself gestel het wat betref basiswyngehalte, dubbele distillering en ’n minimum potketelkomponent in elke brandewyn, asook voorgeskrewe eikehoutveroudering.”

Dit is reeds tragies dat toetreders tot die spiritusmark nie brandewyn van wêreldgehalte ’n regverdige kans gee nie. Dit is egter onverskoonbaar dat onkunde en/of ’n gebrek aan goeie smaak ervare drinkers daarvan weerhou om brandewyn werklik te ervaar en geniet, sonder enige fieterjasies om die werklike geure te verdoesel.

LINKS: Vuurwater, kromhoutsap, maak nie saak wat jy hom noem nie, 'n brandewyn van top gehalte is pure klas!

Nes daar plek is vir byvoorbeeld lae alkohol- en gegeurde wyne om meer mense na ’n kultuur van wyngenot en -waardering te lok, is daar plek vir brandewyn met goed soos Coke, gemmerlim en lemoen om spiritusdrinkers na die stylvolle fynproewerwêreld van wêreldklas-brandewyn te lei.

“Soos wyn s’n, lê brandewyn se heil in die diens en skep van ’n mark wat bereid is om vir ’n gehalteproduk te betaal. Dit is die daarstelling van premiegehalte en ’n beeld van uitnemendheid (wat reeds bestaan) wat sal toesien dat jy val of dat jy staan,” sluit Joubert af.

Fynproewers en ander wat die beter dinge in die lewe kan geniet en waardeer, mense wat gehalte voorop stel, sal hulle nie deur die benaming “vuurwater” laat afskrik nie. Hulle sal weet dit is afgelei van die Nederlandse woord “brandewijn” omdat die ketels waarin die basiswyn gedistilleer is met vuur gestook is. Dis ’n ongelukkige benaming wat brandewyn eintlik ’n groot onreg aandoen.

Ek laat die laaste woord oor brandewyn aan ene Samuel Jackson: “Claret is the liquor for boys, port for men, but he who aspires to be a hero must drink brandy.”

So ’n bek verdien ... wel, brandewyn!

EINDE