Eikendal verdryf die winterkoue met unieke pizza-en-wynervaring

Dit lyk so goed want dit smaak so goed!

Dis winter. Dis koud. Dis tyd vir pizza en wyn. Waar? Wel, Eikendal Vineyards tussen Stellenbosch en Somerset-Wes se gewilde en unieke pizza-en-wynervaring is terug en wag om kos- en wynliefhebbers se tone te laat krul van pure lekkerte!

Wat is dan lekkerder as drie dunbasis-pizzas, voorberei deur die restaurant op die landgoed, Cucina di Giovanni, wat saam met ‘n trio van Eikendal se beste rooiwyne geniet word?

Die elegante Eikendal Reserve Merlot 2015 met sy peperige en swartbessiegeure dans die tango met die Mac Mac, ’n kombinasie van chorizo, olywe, feta en avokadopeer. Die pikante Mexicana-pizza se bolognaise, groenpeper en brandrissie daarenteen bring die vol, ryk bessiegeure na vore van die enigmatiese Charisma 2015 – ’n unieke versnit van Shiraz, Petit Verdot en Sangiovese. Die bekroonde Cabernet Sauvignon 2014 wat saam met die brie, roketblaar, bosbessie en bros spek van die Sapore-pizza bedien word, voltooi die aanbod.

’n Vegetariese opsie is ook beskikbaar en word met die Merlot bedien wat hande vat met die Colour Breeze se peppadews, murgpampoentjies en feta. ’n Tradisionele, vegetariese pizza met sy artisjok, groenpeper, uie en olywe haak moeiteloos in by die sjarmante Charisma. Die Sapore (sonder spek) sluit die ondervinding af met ’n wals saam met die statige Cabernet Sauvignon.

Eikendal se pizza-en-wynervaring word aangebied vanaf Dinsdae tot Sondae tussen 12:00 en 16:00 tot 30 Junie en weer vanaf 1 Augustus tot 30 September. Om te bespreek of vir enige navrae, kontak Chantal-Lee by 021 855 1422 of info@eikendal.co.za.

EINDE