Ayama Vermentino: Unieke wyn op unieke wyse bekend gestel

'n Unieke wyn!

Ayama het reeds ’n bekende handelsmerk op die Suid-Afrikaanse wyntoneel geword. Die Italiaanse paartjie wat 14 jaar gelede op die Wes-Kaap verlief geraak en hulle naby die Paarl kom vestig en die handelsmerk geskep het, Attilio en Michela Dalpiaz, het die Ayama-naam met veral pinotage en chenin blanc gevestig.

Hoewel Ayama bekend geword het vir sy uitmuntende wyne van hierdie twee “Suid-Afrikaanse” kultivars, was die Dalpiaz’e nie tevrede om op hul louere te rus nie. Hulle wou iets doen wat anders is, iets wat die konsep van terroir, tradisie en tegnologie ’n tree verder vat, iets wat hulle van ander wynmakers sal onderskei. Daardie “iets” moes ook hul nuwe tuisland nader bring aan die kultuur en tradisies van Italië.

Met dit in gedagte het hulle die Italiaanse landboukundige, Augusto Fabbro, uitgenooi om in 2007 na Suid-Afrika te kom om die terroir op hul plaas, wat teen die laer hange van die Perdeberg geleë is, te bestudeer om vas te stel watter kultivar die beste sou werk. Aangesien die klimaat op hul plaas Mediterreense kultivars soos ’n handskoen pas, is daar op vermentino besluit.

Vermentino is ’n witwyndruif waarvan medium tot volronde wyne gemaak word. Dit kom algemeen voor in sowel Italië as Sardinië. Die een hektaar wingerdstokke wat in 2014 op die Dalpiaz’e se plaas geplant is, is van ’n Sardiniese vermentino-kloon, Vermentino di Gallura.

Hierdie unieke wyn, die eerste van sy soort in die land, is op ’n unieke veiling ten bate van jeugontwikkeling bekend gestel. Plaaslike sowel as buitelandse bieërs het op die veiling in Kaapstad en aanlyn meegeding om 1 500 liter van die Ayama Vermentino 2016, die volle oes van Suid-Afrika se heel eerste vermentino. Die R128 750-00 wat ingesamel is, gaan aangewend word vir ’n skoolbus vir die Perdjie-skool naby die Paarl.

“Hoewel dit gewoonlik sowat vier jaar vat vir wyndruiwe om volle rypheid te bereik, was dit geen uitdaging vir die vermentino-druiwe om deeglik aan te pas nie en die eerste oes het druiwe van uitstekende gehalte opgelewer,” sê Attilio. “Die druiwe was goud in kleur met heerlike asiditeit en varsheid. Die blok het beslis ons stoutste verwagtinge oortref.”

Die wingerd is geplant in grond wat uit gedisintegreerde graniet en klei bestaan, en die stokke is met die Guyot-stelsel opgelei. Daar word van ’n drupstelsel vir besproeiing gebruik gemaak.

Die druiwe vir die Ayama Vermentino 2016 is vroeg die oggend van 12 Februarie 2016 gepluk en die trosse is heel gepars. Halfpad deur die gistingsproses is die wyn oorgeplaas na ouer vate waar dit tot April 2017 gebly het. Hierna is dit gebotteleer.


“Dis nie altyd maklik om die smaak van vermentino in woorde uit te druk nie,” sê Attilio. “Dis omdat vermentino hoër vlakke van karbolsuur het wat bydra tot sy subtiele bitterheid op die nasmaak, ’n smaak wat dikwels as groen amandel beskryf word.

“’n Klassieke Sardiniese vermentino bied lewendige aromas van peer, wit perske, lemmetjie en pienk grenadella met subtiele sitrusskil en gebreekte rots. In die mond is dit byna droog en effe olierig met geure van grenadella en sitrus, asook mineraliteit en soutagtigheid. Die nasmaak kan soms ‘byt’ met bitterheid soortgelyk aan die smaak van grenadellapitte, maar as dit aan die ryper kant is, die smaak van vars amandels.

“As jy van ’n unieke smaak hou, is hierdie jou wyn en sal jy altyd mal wees daaroor.”

Henry Coetzee, die wynmaker, sê: “Ek voel bevoorreg om met die heel eerste vermentino in Suid-Afrika te kan werk en glo hierdie kultivar het ’n groot toekoms in die land. Ons eerste poging met hierdie kultuivar is in die kol en ek sal bittergraag wil sien hoe dit oor ’n jaar of twee ontwikkel.”

O ja, op die etiket sê dit Fermented in Music! En dis juis hier waar hierdie besonderse wyn hom verder uitsonder. Klassieke musiek is in die wynkelder gespeel tydens die gistingsproses. Dit het glo daartoe gelei dat die skimmel op die wyn ’n ongewone en pragtige patroon gevorm het wat die buitengewone en kenmerkende etiketontwerp van die bottel geïnspireer het. Die etiket bevat verder ’n gebosseleerde goue illustrasie aan die voorkant en goue verseëling aan die nek wat die pragtige goue kleur van die wyn weerspieël

Vir enige navrae of meer inligting, skakel 021 869 8313 of stuur ’n epos aanm info@slentfarms.com, of besoek http://ayamavermentino.com/.

EINDE